
Daar is ’n ou gesegde in die landbou wat lui dat geen twee seisoene ooit dieselfde is nie. Vir geslagte lank was dit bloot deel van die boerderylewe – ’n erkenning dat die natuur uiteindelik die laaste sê het. Vandag het dié waarheid egter ’n nuwe betekenis gekry. Die uitdaging is nie meer net om met onsekerheid saam te leef nie, dit is om ’n onderneming te bou wat daardie onsekerheid finansieel kan oorleef.
Moderne Suid-Afrikaanse boerdery is meer gevorderd as ooit tevore. Presisieboerdery, satelliettegnologie, genetiese vooruitgang, veranderlike toediening van insette en gevorderde data-ontleding stel produsente in staat om meer doeltreffend en winsgewend te produseer as enige vorige geslag. Ironies genoeg het dieselfde ontwikkeling die finansiële risiko van boerdery ook drasties verhoog.
Waar ’n produsent dekades gelede ’n seisoen met relatief beperkte kapitaal kon aanpak, word miljoene rand vandag reeds belê voordat die eerste plant ontkiem. Saad, kunsmis, gewasbeskerming, diesel, arbeid, herstelwerk, finansieringskoste en tegnologie word betaal lank voor die eerste inkomste realiseer.
Dit is hierdie werklikheid wat die gesprek oor oesversekering fundamenteel verander. Landbouversekeringsmakelaars word dikwels gevra of oesversekering nog die moeite werd is. Die vraag is verstaanbaar. In tye van stygende insetkoste word elke uitgawe krities geëvalueer, en versekering is geen uitsondering nie. Maar die vraag waarop produsente eerder behoort te fokus, is nie hoeveel ’n premie kos nie. Die belangriker vraag is hoeveel die onderneming kan bekostig om te verloor. Hierdie eenvoudige perspektiefverskuiwing verander oesversekering van ’n koste-item op die begroting na ’n strategiese instrument vir die beskerming van kapitaal.
Die aard van risiko het verander
Produksiekoste het oor die afgelope twee dekades skerp toegeneem. Grondpryse het gestyg. Moderne trekkers, stropers en planters verteenwoordig enorme kapitaalbe-leggings. Finansieringskoste speel ’n groter rol as ooit tevore, terwyl arbeids-, energie- en logistieke uitgawes voortdurend toeneem. Die gevolg is dat een mislukte seisoen vandag ’n veel groter impak op ’n onderneming kan hê as 20 jaar gelede. Dit beteken nie Suid-Afrikaanse produsente is swakker bestuurders nie: Inteendeel, hulle produseer in van die mees uitdagende toestande ter wêreld. Dit beteken eenvoudig dat die finansiële gevolge van ’n produksieverlies groter geword het.
Wanneer ’n haelbui ’n oes vernietig, gaan dit nie meer net oor verlore tonnemaat nie. Dit gaan oor bedryfskapitaal, kontantvloei, skuldverpligtinge en die vermoë om volgende seisoen weer te plant. En uiteindelik gaan dit oor die volhoubaarheid van die onderneming.
Klimaatswisselvalligheid is besig om die spelreëls te herskryf
Suid-Afrikaanse produsente verstaan beter as enigiemand dat die weer nog nooit voorspelbaar was nie. Tog is daar min twyfel dat klimaatswisselvalligheid die afgelope aantal jare toegeneem het. Dit vereis ’n nuwe benadering tot risikobestuur. Die suksesvolste produsente fokus daarom nie uitsluitlik daarop om opbrengste te verhoog nie – hulle fokus ewe veel daarop om die onderneming finansieel weerbaar te maak.
Wanneer ’n gewas deur hael beskadig word, is die verlies onmiddellik sigbaar. Wat egter minder sigbaar is, is die finansiële druk wat daarna ontstaan. Die doel van oesver-
sekering is nie om die natuur te verander of swak seisoene winsgewend te maak nie. Die doel is om te voorkom dat ’n buitengewone gebeurtenis die onderneming se finansiële fondament vernietig.
Kontantvloei is die lewensaar van elke boerdery
Boerdery is een van die min bedrywe waar groot uitgawes maande voor inkomste aangegaan word. In baie gevalle verloop byna ’n volle produksieseisoen voordat die eerste betekenisvolle inkomste gegenereer word. Banke en landboufinansiers verstaan dat boerdery altyd risiko sal inhou en hulle verwag nie van produsente om die weer te beheer nie. Wat hulle wel verwag, is dat produsente verantwoordelike bestuursbesluite neem.
Hier speel oesversekering ’n belangrike rol. Dit verminder nie die waarskynlikheid van ’n haelbui of droogte nie, maar dit verminder wel die finansiële onsekerheid wat na so ’n gebeurtenis ontstaan. Deeglike risikobestuur word dus toenemend as ’n teken van goeie ondernemingsbestuur beskou.
Nie alle oesversekering is dieselfde nie
Een van die grootste foute wat produsente kan maak, is om verskillende polisse uitsluitlik op grond van premie met mekaar te vergelyk. Versekeringsprodukte verskil wesenlik met betrekking tot:
- die gevare wat gedek word;
- hoe skade bepaal word;
- die vlak van eie risiko of bybetaling;
- wagtydperke en plantdatums;
- polisvoorwaardes;
- uitsluitings; en
- die wyse waarop eise hanteer word.
Twee polisse met soortgelyke premies kan dus heeltemal verskillende uitkomste oplewer wanneer ’n groot verlies plaasvind. Net so kan ’n polis met ’n effens hoër premie uiteindelik aansienlik beter finansiële beskerming bied. Makelaars se verantwoordelikheid is om verder as die premie te kyk. Die goedkoopste oplossing is nie noodwendig die beste oplossing nie – die beste oplossing is die een wat die onderneming se werklike risiko die doeltreffendste mitigeer.
Van reaksie na vooruitbeplanning
Soos bemarking, kontantvloeibeplanning en produksiebegrotings behoort risikobestuur reeds deel van die strategiese beplanning vir die nuwe seisoen te wees. Die belangrikste gesprek behoort nie te begin wanneer die versekeringsdokumente onderteken word nie. Dit behoort te begin wanneer die produsent sy produksiebegroting opstel. Die volgende vrae moet beantwoord word:
- Hoeveel kapitaal gaan hierdie seisoen aan risiko blootgestel wees?
- Hoeveel van daardie risiko kan die onderneming realisties self absorbeer?
- Watter gebeure kan die onderneming se voortbestaan bedreig?
- Is die huidige versekeringsoplossing nog geskik vir die onderneming soos dit vandag lyk – en nie soos dit vyf jaar gelede gelyk het nie?
Wanneer hierdie vrae eerlik beantwoord word, verander die rol van oesversekering ingrypend. Dit is nie meer ’n ongewensde aankoop nie; dit word ’n strategiese bestuursbesluit. Wanneer ’n produsent na ’n rampspoedige jaar steeds sy personeel kan behou, sy skulde verantwoordelik kan bestuur en weer betyds kan plant, het goeie risikobestuur sy waarde bewys.
Die makelaar as strategiese vennoot
’n Gespesialiseerde landbouversekeringsmakelaar doen veel meer as om net kwotasies aan te vra. ’n Makelaar behoort die produsent se onderneming te verstaan en moet weet hoe die produksiesiklus verloop. Verder behoort die makelaar:
- die onderneming se finansiële blootstelling te kan ontleed;
- die sterk- en swakpunte van verskillende versekeringsprodukte te ken; en
- voor planttyd saam met die produsent risiko’s te identifiseer wat deur versekering gedek kan word.
Die beste makelaars verkoop nie polisse nie – hulle help produsente om beter besig-
heidsbesluite te neem. Dit is waarom ’n ervare makelaar nie bloot ’n tussenganger is nie maar deel vorm van die onderneming se breër span professionele adviseurs – saam met die landboukundige, rekenmeester, finansiële adviseur en bankier.
Oor die afgelope paar jaar het die oesversekeringsmark merkbaar ontwikkel. Nuwe produkte, aangepaste polisvoorwaardes en verskillende benaderings tot onderskrywing beteken dat produsente vandag meer keuses het. Meer keuses beteken egter ook groter kompleksiteit, en juis daarom word onafhanklike spesialisadvies al hoe belangriker.
Gevolgtrekking
Landbouversekeringsmakelaars verstaan dat geen produsent daarvan hou om premies te betaal nie. Elke rand wat aan versekering bestee word, is ’n rand wat ook vir saad, kunsmis, nuwe tegnologie of meganisasie gebruik kon word. Maar die gesprek behoort nooit by die premie te eindig nie. Die werklike vraag is hoeveel dit die onderneming sal kos indien daar geen beskerming is wanneer ’n buitengewone gebeurtenis plaasvind.
In ’n wêreld waar produksiekoste aanhou styg en klimaatsrisiko’s toenemend onvoorspelbaar raak, is die beskerming van bedryfskapitaal nie meer ’n luukse nie – dit is ’n noodsaaklikheid. ’n Goeie oesversekeringsprogram gee die onderneming die geleentheid om na ’n groot terugslag weer op sy voete te kom. En dit is uiteindelik die kern van moderne risikobestuur.
Oesversekering gaan oor die beskerming van ’n onderneming, die behoud van ’n nalatenskap en die vertroue om môre weer te plant.
Vir meer inligting kontak Daan Hugo by 082 497 6500 of daan@ffg.co.za.

















