NAMPO 2026: INNOVASIE OM AAN TE PAS EN STERK TE STAAN

Gepubliseer: 9 Junie 2026

49
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

ELKE JAAR WORD VIR SY UNIEKE OMSTANDIGHEDE ONTHOU. NAMPO 2026 SAL ONTHOU WORD VIR ’N JAAR GEKENMERK DEUR ONGEKENDE BRANDSTOF- EN KUNSMISKOSTE WEENS DIE IRAN-OORLOG. DRUK OP PRODUSENTE WAS DUIDELIK IN BYNA ELKE NAMPO-GESPREK, GEDRYF DEUR LAE KOMMODITEITSPRYSE, HOË BRANDSTOFKOSTE, DUUR FINANSIERING, MOEILIKE LOGISTIEK, REGULATORIESE DRUK EN ONSEKERHEID IN DIE WEER EN MARKTE.

Tog het iets merkwaardig my opgeval terwyl ek deur NAMPO Park gestap en produsente, uitstallers, finansiers, insetverskaffers, gesinne en ou vriende raakgeloop het. Ten spyte van moeilike tye, het mense steeds met planne opgedaag. Hulle het gekom om te kyk, te vergelyk, te onderhandel, idees te toets en mekaar aan te moedig. Alhoewel daar rea­lisme en kommer in besprekings teenwoordig was, is dit nie in wanhoop omgesit nie. Dit het ook nie die gevoel van doelgerigtheid en voorwaartse momentum verplaas wat deur die hele geleentheid sigbaar was nie. Dít is wat veerkragtigheid is.

Ons moet egter versigtig omgaan met die woord “veerkragtigheid”. In moeilike tye kan dit van buite maklik klink asof daar bloot van produsente verwag word om meer druk te absorbeer, meer risiko te dra en reeds stywe rieme stywer te trek. Baie produsente verkeer onder geweldige druk. Veerkragtigheid is egter ’n wilsbe­sluit. Dit beteken om jouself, jou plaas en jou ondersteuningsnetwerk voor te berei om skokke te absorbeer, maar ook om te herstel, aan te pas en weer vorentoe te beweeg wanneer die geleentheid hom voordoen.

In sy boek How to Thrive in Turbulent Times besin Donald Sull oor Muhammad Ali en George Foreman se beroemde “Rumble in the Jungle”. Foreman was die swaargewig en daar is verwag dat hy vir Ali sou oorweldig, terwyl Ali bekend was vir sy spoed en ratsheid. Maar in daardie geveg het Ali besef dat ratsheid alleen nie genoeg sou wees nie – hy moes veerkragtigheid deel maak van sy strategie.

Toe Foreman vir Ali in ’n hoek vasgekeer het, het sy oorlewing daarvan afgehang om die houe te absorbeer. Dit is hier waar die dikwels herhaalde “rope-a-dope”-strategie ter sprake gekom het. Ali het teen die toue teruggeleun, homself beskerm en Foreman se aanvalle hanteer. Hy het nie gewen deur voor te gee dat die houe lig was nie. Hy het veerkragtigheid getoon deur sy energie te bestuur en geestelik helder te bly terwyl hy vir die regte oomblik gewag het om op te tree. Dit is wat ek by NAMPO gesien het.

Produsente het die eerste deel van veerkragtigheid gebou met hul vermoë om skokke te absorbeer. Dit vereis ’n begrip van syfers, kostestrukture, skuldblootstelling, gelykbreekpryse en kon­tantvloeivereistes, aangesien finansiële veerkragtigheid op soliede inligting gebou word. Terselfdertyd het produsente manie­re ondersoek om produksiekapasiteit te beskerm deur koste te verminder, maar sonder om hul kernbesigheid te ondermyn.

Grondvrugbaarheid, onderhoud, geskoolde arbeid, saadkeuse, gewasbesker­ming en basiese operasionele gereedheid kan nie sonder langtermyngevolge verwaarloos word nie. Die uitdaging is om vermorsing te verminder sonder om die plaas se vermoë om weer te produseer te verswak.

Die tweede deel van aktiewe veerkragtigheid is die bewaring van energie, soos Ali gemaak het. Produsente moet dit vermy om die verkeerde gevegte te voer. In moeilike tye is bestuursaandag en kon­tant die plaas se waardevolste hulpbronne. Produksiedoeltreffendheid, markstrategie, insetdissipline, logistiek en verhoudings is van kardinale belang.

Derdens gaan dit oor die daarstel van opsies soos gediversifiseerde gewaskeuses, beter bergings- en bemarkingsbuigsaamheid, verskillende kopers, sorgvuldig gestruktureerde termynkontrakte, vee-integrasie, inkomste buite die plaas, kontrakterings­geleenthede of samewerking met naburige produsente. Afhanklikheid van slegs een plan of een seisoen verhoog kwesbaarheid.

Die vierde deel is om met omsigtigheid in mededingendheid te belê. Tegnologie is nie ’n luukse nie, maar dit moenie blinde­lings aangeneem word nie. Die vraag is of dit koste per ton verminder, risiko verlaag, gehalte verbeter of beter besluite onder­steun. Presisietoediening, planterakkuraaheid, gronddata, kultivarkeuse, megani­sasie­doel­treffendheid, digitale rekords en markintelligensie help alles om aktiewe veerkragtigheid te versterk wanneer dit die plaas se prestasie verbeter.

Dan is daar die simboliek van die toue in Ali se strategie wat hom regop gehou het in die geveg. Produsente het ook toue nodig. Daardie toue is die verhoudings rondom die onderneming, insluitend finansierings- en versekeringsvennote, insetverskaffers, graankopers, adviseurs, georganiseerde landbou en betroubare eweknieë. Sterk vennote help ’n produsent om vinniger te herstel, skep ruimte om aan te pas en maak hernude momentum moontlik wanneer toestande verbeter.

Laastens hang veerkragtigheid van ’n gemeenskap af. Boerdery kan isolerend wees onder druk, en daarom is familie, bure, boeregroepe, organisasies en bywoning van NAMPO alles belangrik. Dit bied perspektief, ondersteuning en gedeelde ervaring. Produsente word aangemoedig om in verbinding te bly deur vergaderings, gesprekke en bedryfsgeleenthede. Isolasie verswak veerkragtigheid terwyl gemeenskap dit versterk.

Die strawwe houe van 2026 herinner ons daaraan dat Suid-Afrikaanse produsente planmakers is wat absor­beer, aanpas, leer, kontak maak en weer beweeg. Dit is aktiewe veerkragtigheid – een van die belangrikste strategieë vir die seisoen wat voorlê.