Pluimvee dalk die sleutwel tot groter vraag na graan

Gepubliseer: 6 Mei 2026

46
Heleen Viljoen,
senior landbou-ekonoom,
Graan SA,
heleen@grainsa.co.za

2026/03/31

SUID-AFRIKAANSE GRAANPRODUSENTE PRODUSEER IN ’N TOENEMEND KOMPLEKSE OMGEWING, WAAR UITVOERMARKTE DIKWELS WISSELVALLIG IS EN DIE PLAASLIKE VRAAG MARGINAAL GROEI. DIE PLAASLIKE VRAAG NA WIT- EN GEELMIELIES HET BYVOORBEELD OOR DIE AFGELOPE TIEN SEISOENE MET SLEGS 2% JAAR OP JAAR TOEGENEEM.

Vir sojabone en geelmielies veral is daar een plaaslike vraagdrywer wat van kernbelang is om plaaslike voorraad te absorbeer, en dit is die pluimveebedryf. Tussen voer vir braaikuikens, lêhenne en teelhoenders maak pluimvee 65% op van die totale veevoervraag. Plaaslik word ongeveer 52% van Suid-Afrikaanse mielies deur die veevoermark verbruik en vir sojabone is hierdie persentasie meer as 80%.

Nuwe fase
Oor die afgelope dekade het Suid-Afrika se pluimveebedryf ’n tydperk van aansienlike belegging en uitbreiding ondergaan. Baie van hierdie groei is aanvanklik gedryf deur pogings om invoere te vervang, veral van hoenderporsies met been. Hierdie po­gings was grootliks suksesvol, met invoervo­lu­mes wat aansienlik gedaal het sedert hul hoogtepunt in 2018, soos gesien in Grafiek 1.

Grafiek 1: In- en uitvoere van hoender vir Suid-Afrika (2014 tot 2025).
Bron: TradeMap ITC

Hierdie sukses het egter ook die bedryf by ’n keerpunt gebring. Geleenthede vir verdere invoervervanging is nou meer beperk, terwyl die groei van binnelandse verbruik verlangsaam het as gevolg van beperkte verbruikerspanderingsvermoë. Trouens, vleisverbruik per capita het die afgelope klompie jaar onder druk gekom, wat breër ekonomiese uitdagings weerspieël. Grafiek 2 illustreer die verbruikstendense tydens onlangse ekonomiese siklusse. Die belangrikheid van hoendervleis, selfs in tye van hoër inkomste, is opvallend.

Grafiek 2: Hoër pryse en toenemende lewenskoste toon die belangrikheid van hoender vir die verbruiker.
Bron: BFAP (2025), uittreksel uit “Competitveness of the South African broiler industry”

Vir die pluimveebedryf om voort te gaan om uit te brei sal daar toenemend verder as die binnelandse mark gekyk moet word. Dit impliseer ’n verskuiwing na uitvoergedrewe groei, waar mededingendheid op ’n wêreldwye skaal deurslaggewend word. Vir graanprodusente is hierdie oorgang uiters betekenisvol. ’n Groeiende pluimveebedryf, ongeag of die eindmark plaaslik of internasionaal is, vertaal direk in verhoogde vraag na voer – en dus na mielies en sojabone.

Die skakel met graanmarkte
Veevoervraag bly die mees direkte en betekenisvolle skakel tussen die pluimveebedryf en Suid-Afrika se graanprodusente. Voerkoste maak ook die grootste komponent van produksiekoste vir pluimveeprodusente uit, met mielies as die primêre energiebron en sojameel as die belangrikste proteïeninset. Saam met dagoudkuikens is voer verantwoordelik vir meer as 80% van die totale produksiekoste, wat die mate versterk waarin pluimvee-uitbreiding direk oorskakel in verhoogde vraag na graan.

Hierdie verhouding is veral belangrik in die Suid-Afrikaanse graanmark, waar mielieproduksie tipies die binnelandse verbruik oorskry. Die pluimveebedryf speel dus ’n noodsaaklike rol in die verwerking van surplusmielies, wat ’n stabiele en konse­kwente afsetmark bied en die afhanklikheid van wisselvallige uitvoermarkte verminder. Namate pluimveeproduksie uitbrei, hetsy vir binnelandse verbruik of uitvoermarkte, groei hierdie vraag na voer – en gevolglik na mie­lies – saam.

Terselfdertyd het die rol van sojabone binne hierdie vergelyking die afgelope dekade aansienlik ontwikkel. Suid-Afrika se sojaboonbedryf het ’n strukturele transformasie ondergaan, gedryf deur verhoogde produksie en uitgebreide verwerkingskapasiteit. Dit het die land verskuif van ’n sterk afhanklikheid van ingevoerde sojameel na ’n posisie van byna selfonderhoudendheid, met die potensiaal om in die nabye toekoms ’n netto uitvoerder te word. Die impak van hierdie verskuiwing word duidelik geïllustreer in Grafiek 3, wat die bestendige afname in sojameelinvoere tesame met die styging in plaaslike sojaboonproduksie toon.

Grafiek 3: Plaaslike sojaboonproduksie teenoor sojameelinvoere na Suid-Afrika.
Bron: SAID, NOK, Graan SA

Die groter beskikbaarheid van plaaslik geproduseerde sojameel verbeter nie net die mededingendheid van die veevoerbedryf nie, maar versterk ook die grondbeginsels as dit by vraag kom vir sojaboonprodusente. Namate pluimveeproduksie uitbrei, word hierdie vraag groter, wat bydra tot ’n meer robuuste en selfon­derhoudende landbouwaardeketting.

Gevolgtrekking
Die pluimveebedryf is ’n noodsaaklike vraagdrywer vir Suid-Afrika se somergraanbedryf en speel ’n sentrale rol in die absorpsie van beide mielies en sojabone. In ’n omgewing waar uitvoermarkte onseker bly en plaaslike verbruik stadig groei, bied hierdie bedryf ’n stabiele en strategiese afsetkanaal vir graanprodusente.

Die bedryf se oorgang na ’n meer uitvoer­gedrewe groeipad hou verdere geleenthede in, aangesien dit die potensiaal het om plaaslike graan indirek in hoërwaardeprodukte om te skakel en internasionale markte te bereik. Hierdie proses van waarde­toevoeging versterk nie net die volhoubaarheid van die pluimveebedryf nie, maar ook dié van die graanbedryf.

Dit is dus nie net belangrik dat die pluimveebedryf oorleef nie, maar dat dit groei en internasionaal mededingend bly. Vir graanprodusente lê die toekoms van vraag nie uitsluitlik in die uitvoer van rou kommoditeite nie, maar toenemend in die plaaslike verwerking daarvan tot diereproteïen. ’n Sterk en groeiende pluimveebedryf beteken uiteindelik ’n sterker, meer stabiele en meer gediversifiseerde mark vir Suid-Afrikaanse graan.