
Amaranthus-soorte is welbekend as onkruid in gewasproduksie, maar het ook dikwels ekonomiese en sosiale waarde as verboude gewasse (graan of groente) of sierplante. Ongeveer 20 soorte het wêreldwyd onkruidstatus – met “onkruidstatus” word bedoel daardie soorte het ’n ernstige tot geringe skadelike effek op gewasproduksie.
Die wetenskaplike groepnaam of genus, Amaranthus, sluit ongeveer 75 spesies of soorte in waarvan die verspreiding kosmopolities is, dit wil sê hulle word wêreldwyd wydverspreid aangetref op elke vasteland, behalwe Antarktika, in tropiese en subtropiese klimaatsones. Die tien soorte waarvan die oorsprong die Noord-Amerikaanse vasteland is, is tweeslagtig omdat manlike en vroulike blomme op dieselfde plant voorkom. Die ander 65 soorte is eenslagtig, met ander woorde plante is óf manlik óf vroulik.

Die Amaranthaceae-plantfamilie, met tien subfamilies, sluit 183 genera of groepe plante in wat ’n totaal van meer as 2 000 spesies of soorte behels. In Suide-like Afrika alleen word daar minstens 37 genera en 230 spesies aangetref. Die voormalige Chenopodiaceae-familie, wat verskeie hondebossie-onkruidsoorte (Chenopodium-soorte) insluit, is deesdae ’n subfamilie onder Amaranthaceae. Belangrike gewassoorte in die Amaranthaceae-familie is beet (Beta vulgaris subsp vulgaris), suikerbeet (Beta vulgaris) en spinasie (Spinacia oleracea). Verskeie soorte se sade en blare is eetbaar en voedsaam vir mens en dier. Die groepnaam Amaranthus is afgelei van amáranthos (antieke Grieks) en amarantus (Latyn) wat beteken “onsterflike blom” en verwys na die blomkelk met kelkblare wat lank na afsterwing van die blomme en saadstorting op plante behoue bly.
Amaranthus-soorte in ons midde en die risiko vir meer
Volgens plantrekords in Suid-Afrika se nasionale herbarium was daar in 2018 ’n totaal van 23 Amaranthus-soorte (variëteite ingesluit) in Suid-Afrika opgeteken (sien Tabel 1). Die jongste byvoeging, in 2018, is Amaranthus palmeri (Palmer amarant) wat deur die navorsingspan van SAHRI (Suid-Afrikaanse Onkruiddoderweerstandinisiatief) by die Universiteit van Pretoria (UP) in die Douglas-distrik in die Noord-Kaap versamel is. Palmer amarant is inheems tot die Noord-Amerikaanse vasteland, maar het nogtans nommereen- skadelike onkruidstatus in die VSA verwerf, waar dit ’n toenemende probleem is weens eskalerende onkruiddoderweerstand teen ’n verskeidenheid van belangrike onkruiddoders.
Amaranthus-soorte se weerstand teen onkruiddoders
Vier Amaranthus-soorte is onder die toptien-onkruidsoorte wat betref meervoudige weerstand teen verskillende soorte onkruiddodermeganismes van werking (MvW), en wel: A. palmeri (8 MvW), A. tuberculatus (7 MvW), A. hybridus (6 MvW) en A. retroflexus (5 MvW). Van hierdie vier soorte kom net A. tuberculatus nie in Suid-Afrika voor nie (sien Tabel 1). Die bron van hierdie inligting is die internasionale databasis vir onkruidweerstand teen onkruiddoders (www.weedscience.org).
Voorgenoemde syfers beteken nie alle populasies van die onkruidsoorte het daardie vlakke van weerstand nie; die databasis neem al die aangemelde gevalle in ag vir die MvW-profiel. In praktyk beteken dit egter dat die genetiese potensiaal by ’n bepaalde onkruidsoort bestaan om die vermelde weerstandprofiel te ontwikkel.
Bo-aan die lys van onkruidsoorte met meervoudige weerstand is Lolium rigidum (eenjarige raaigras) met weerstand teen 14 MvW, gevolg deur Echinochloa crus-galli (hanepootmanna) se elf MvW, en die tien MvW van Poa annua (wintergras). Al drie hierdie onkruidsoorte kom in Suid-Afrika voor. Wêreldwyd, soos ook plaaslik, is daar skaars 20 unieke onkruiddoder-meganismes van werking met betekenisvolle toepassing en ekonomiese waarde. Gegewe dat in ’n bepaalde gewassoort veel minder MvW geregistreer is as die totaal beskikbaar, is bogenoemde syfers uiters onrusbarend.

Twee van die 38 gevalle van weerstand by A. hybridus (gewone misbredie) teen onkruiddoders wat in die internasionale databasis opgeneem is, se oorsprong is Suid-Afrika. Dieselfde geld vir een van die 87 gevalle weerstand by A. palmeri (Palmer amarant). Van hierdie drie Suid-Afrikaanse gevalle het twee hul oorsprong in die SAHRI by UP, en wel die meervoudige weerstand van A. palmeri teen glifosaat en chlorimuron-etiel (in 2018), asook weerstand van A. hybridus teen glifosaat (in 2024). Die ander A. hybridus-geval is weerstand teen atrasien, wat die eerste vermelding van weerstand in Amaranthus in Suid-Afrika was, so vroeg as in 1993 deur die Landbounavorsingsraad (LNR) in samewerking met die destydse Ciba-Geigy (deesdae Syngenta).
Amaranthus-soorte gelys in etikette van onkruiddoders, en dié wat nie verskyn nie
Onkruiddoders is vir die beheer van spesifieke onkruidsoorte geregistreer. ’n Lys van sodanige soorte is uiteraard ’n belangrike deel van elke onkruiddoder se etiket. Met die nagaan van ’n RSA-inligtingstuk van 2021 getitel “Weeds common in crops and the herbicides that control them” deur Kathy van Zyl (cropsolutions.za@gmail.com), het die skrywer die volgende inligting onttrek. Nege Amaranthus-soorte word vermeld wat op die etikette van sekere geregistreerde onkruiddoders verskyn. Vir twee van die nege soorte word uitgediende name gebruik, en wel A. brasiliensis wat lankal A. cruentus geword het, asook A. chlorostachys wat ’n ou sinoniem is vir A. hybridus. Amaranthus palmeri is in 2021 tot uitheemse indringerplant (kategorie 1a) verklaar, maar dit verskyn waarskynlik steeds nie op enige onkruiddoderproduk se etiket nie. Hopelik word die nodige dringende navorsing egter wel gedoen. In die geval van A. retroflexus is ’n enkele onkruiddoderproduk geregistreer, en daar is ook etikette wat verwys na “Amaranthus spp”; dit veronderstel al die soorte het dieselfde mate van gevoeligheid teenoor ’n bepaalde onkruiddoder, wat waarskynlik ’n onrealistiese verwagting is.
Eienskappe van Amaranthus-soorte wat die ontwikkeling van weerstand teen onkruiddoders bevorder
Die klein sade ontkiem vlak en kan sodoende grondtoegediende onkruiddoders ontsnap wat verby die kiemingsone geloog het. In afwesigheid van grondbewerking word die ontkieming en vestiging van kleinsadige onkruidsoorte soos Amaranthus (misbredie), Chenopodium (hondebossie) en Conyza (skraalhans) bevorder. Ten spyte van hul grootte (klein!) oorleef misbrediesade lank in grond en selfs in mis en kompos, en kan hulle deur die hele groeiseisoen sporadies ontkiem en vestig. Sade beskik oor sekondêre dormansie wat inskop by hoë temperature en lae grondvog, met die gevolg dat hulle dan nie ontkiem nie en eers weer wanneer toestande gunstig is. Op hierdie wyse word veral die effektiewe werking van vooropkomsonkruiddoders ongedaan gemaak.
Na-opkomsonkruiddoders wat te laat toegedien word wanneer die saailinge verby die gevoelige groeistadium is, gaan wisselvallige beheer veroorsaak wat op die lang duur (drie tot vyf seisoene) in weerstand kan ontaard. Die groot genetiese diversiteit wat in Amaranthus bestaan is bevorderlik vir die vinnige ontwikkeling van weerstand teen ’n verskeidenheid van onkruiddodermeganismes van werking. Hibridisering tussen soorte maak nie slegs identifisering van bepaalde spesies moeilik nie, maar is ook bevorderlik vir weerstand teen onkruiddoders. Die ergste situasie vir Suid-Afrika sou wees indien Palmer amarant met weerstand teen ’n verskeidenheid on-kruiddoders sou kruis met gewone misbredie of ander soorte wat nie weerstand het nie – dit is ’n biologiese realiteit.

Navorsing en nodige hulpbronne
In Suid-Afrika, vergeleke met die situasie in ontwikkelde lande, word navorsing op onkruid en hul beheer gekniehalter deur beperkte hulpbronne soos mense en fondse. Dit terwyl die soorte onkruid en hul uitdagings, onder meer weerstand teen onkruiddoders, van dieselfde aard is as in lande wat behoorlik aandag daaraan gee. Navorsing in die landbousektor neig ook om gefragmenteer te wees, iets wat kwalik bekostig kan word gegewe beperkte hulpbronne.
In die SAHRI by UP word reeds sedert 2012 toegespitste navorsing op onkruidweerstand gedoen. Tot dusver was die fokus op Conyza bonariensis (kleinskraalhans), Amaranthus palmeri en A. hybridus. Vir verskeie populasies is reaksie op onkruiddoders (hoofsaaklik glifosaat) geklassifiseer, naamlik: gevoelig, verdraagsaam of weerstandig. Talle wetenskaplike en populêre artikels hieroor is beskikbaar. Glifosaatweerstand is in die drie voorgenoemde soorte gevind in sekere populasies, en in ander was daar óf verdraagsaamheid óf gevoeligheid. Alternatiewe onkruiddoders ondergaan ook evaluasie om pasmaats vir glifosaat te identifiseer. Meer navorsing is moontlik maar hulpbronne is beperk. Fundamenteel tot hierdie navorsing is dat geïntegreerde onkruidbeheer aangemoedig word wat kombinasies van chemiese, meganiese, biologiese en verbouingspraktyke vir doeltreffende onkruidbestuur inspan.
Die SAHRI-span word gelei deur skrywer en professor Juan Vorster wat verbonde is aan die Departement Plant- en Grondwetenskappe, Universiteit van Pretoria (juan.vorster@fabi.up.ac.za).
Dr Reinhardt is die inisieerder en ’n projekleier van die SA Onkruiddoderweerstandinisiatief (SAHRI), Universiteit van Pretoria, en onafhanklike konsultant in probleemplantbeheer en onkruiddoders. Hy kan gekontak word by dr.charlie.reinhardt@gmail.com of 083 442 3427.


























