
Die keuse van die regte kultivar vir ’n spesifieke area is waarskynlik die belangrikste en terselfdertyd mees onderskatte bestuursbesluit wat jaarliks deur gewasprodusente geneem word. In ’n landbou-omgewing waar klimaatstoestande, grondtipes en siektedruk voortdurend verander, speel aanpasbaarheid ’n beduidende rol in die stabiliteit van opbrengste en die vermindering van risiko.
Die keuse van die regte kultivar is beslis ’n sleutelstap in winsgewende gewasproduksie aangesien dit ’n groter invloed op die finale opbrengs het as die meeste ander gewasbestuursfaktore. Alle bestuursbesluite wat voor of na kultivarseleksie geneem word, is gefokus op die maksimalisering of beskerming van die genetiese potensiaal om hoë opbrengste vir bemarkbare graan te produseer.
Alhoewel die klem geplaas word op die kies van die “korrekte” genetika vir ’n omgewing, ontstaan die duurste situasies in werklikheid met die seleksie van onderpresterende of swak aangepaste produkte. Daar moet gefokus word op die regte kultivar vir die regte omgewing en die vermyding van produkte wat nie by die omgewing pas nie – daarom het Pioneer die filosofie van “die regte produk vir die regte hektaar”. ’n Kultivar wat goed presteer in een streek, kan onderpresteer in ’n ander, en daarom is dit noodsaaklik om die faktore wat aanpasbaarheid beïnvloed, deeglik te verstaan. Gewasprodusente het een geleentheid per jaar vir sukses wanneer hulle die genetika kies wat hulle gaan plant.
Die beste genetika is aangepas by die behoeftes van produsente; het stabiele opbrengste deur uiterste skommelinge van koue, hitte en reënval; en het sterk toleransie teen siektes en plae. Daar is egter nie so iets soos die perfekte baster nie.
Wat beteken aanpasbaarheid?
Aanpasbaarheid verwys na die vermoë van ’n kultivar om in uiteenlopende toestande steeds ’n aanvaarbare opbrengs te lewer. Dit sluit in klimaat (temperatuur, daglengte, hitte- en kouestres), reënvalpatrone en die tydsberekening daarvan, grondtipe en chemiese eienskappe (pH en katioonuitruilkapasiteit) asook plaaslike druk van plae, siektes en onkruide. ’n Kultivar met hoë aanpasbaarheid bied produsente groter oessekerheid, veral in streke waar reënval en temperatuur onvoorspelbaar is. Hierdie eienskap is nie net geneties nie, maar ook ’n funksie van hoe die kultivar reageer op stresfaktore soos droogte, siektes en voedingstekorte. Aanpasbaarheid raak opbrengs, stabiliteit, kwaliteit, risiko en uiteindelik winsgewendheid. Produsente gebruik dikwels oessekerheidswaardes en proefdata om te bepaal watter kultivars die beste risikobestuurstrategie bied.
Hierdie artikel gee ’n diepgaande, praktiese oorsig oor watter faktore aanpasbaarheid dryf, hoe teelprogramme en genetika dit vorm, watter streekspesifieke riglyne geld en hoe produsente ’n geïntegreerde besluitnemingsraamwerk kan gebruik om risiko te verminder en opbrengste te optimaliseer.

Kernfaktore wat aanpasbaarheid beïnvloed
’n Kultivar word ontwikkel vir maksimale opbrengs en ook goeie agronomiese eienskappe soos stamsterkte, goeie wortelstelselontwikkeling en siektetoleransie.
- Grondpotensiaal en -tipes: Kultivars reageer verskillend op klei-, sand- en leemgronde. Hoëpotensiaalgronde ondersteun kultivars wat hoë stande en intensiewe bemesting vereis, terwyl laepotensiaalgronde kultivars benodig wat stresverdraagsaam is.
- Reënvalpatrone en klimaat: In die Hoëveld, waar reënval meer betroubaar is, kan kultivars met kort en langer groeiseisoene gebruik word ook om risiko te versprei. In droër streke soos die Wes-Vrystaat is kultivars met droogteverdraagsaamheid ’n beter keuse.
- Plantpopulasies en rywydte: Elke baster het ’n spesifieke plantpopulasie waarteen dit die beste presteer en ook by sekere grondpotensiale. Produsente moet kultivars aanplant teen hul ideale populasie soos aanbeveel deur die maatskappye.
- Siekteweerstand: Verdraagsaamheid teen blaarsiektes asook stam- en wortelvrot is noodsaaklik in streke met hoë humiditeit. Kultivars met genetiese weerstand bied ’n groot voordeel.
- Bestuurspraktyke: Bemesting, onkruiddoders en wisselboustelsels beïnvloed ’n kultivar se aanpassing. ’n Kultivar wat goed reageer op hoë insette is ideaal vir intensiewe stelsels. Verder beïnvloed pH sowel as besproeiing en rotasie ook kultivarkeuse.
Voorbeelde van kultivars met goeie aanpasbaarheid
Hier volg ’n paar voorbeelde van Pioneer-kultivars wat goed aangepas is:
- P1225PW is ’n kortgroeiseisoenkultivar (geel) wat beskik oor uitstekende aanpasbaarheid en stabiliteit in die oostelike produksiegebied.
- P15100 is ’n kortgroeiseisoenkultivar (geel) met uitstekende stabiele opbrengspotensiaal en wye aanpasbaarheid by laerpotensiaalgronde in die oostelike produksiegebied.
- P18380PW is ’n mediumkortgroeiseisoenkultivar (geel) wat beskik oor goeie stabiliteit en ’n wye aanpasbaarheid by alle potensiaal gronde in die oostelike produksiegebied.
- P2383WPW is ’n langgroeiseisoenkultivar (wit) met goeie aanpasbaarheid op hoë- en laepotensiaalgronde, meerkoppig en met produktiewe spruite, wat dit ’n betroubare keuse maak vir verskillende streke in die ooste.
- P2565WPW is ’n mediumgroeiseisoenkultivar (wit) wat aangepas is by hoë en lae plantpopulasies op alle grondtipes in die westelike produksiestreek.
- P28022WPW is ’n langgroeiseisoenkultivar (wit) wat aangepas is by hoë en lae plantpopulasies vir alle potensiaal toestande in die westelike produksiestreek.
Streekspesifieke aanpasbaarheid
’n Pakket van kultivars moet ’n kombinasie van nuwer, baanbrekende produkte en meer gevestigde genetika bevat wat al ’n jaar of langer op die mark is. Die opbrengs en ander voordele van nuwer genetika sal verlore gaan vir produsente wat hul keuses tot hoofsaaklik gevestigde genetika beperk. Die aanplant van ’n kombinasie van beproefde en nuwe produkte is ’n goeie manier om die voordele van baanbrekerprodukte te benut, terwyl bewese meriete van gevestigde produkte ook verkry word. Die presiese produkbalans sal bepaal word deur die spesifieke voordele wat deur nuwer genetika en die risikotoleransie van die produsent gebied word.
Betroubare adviseurs, soos verkoopsverteenwoordigers en landboukundiges, is ’n noodsaaklike bate vir gewasprodusente wanneer dit kom by kultivarseleksie sowel as plasing binne hul bestuurspraktyke. Dikwels verskaf verkoopsverteenwoordigers die genetiese opstelling wat deur ’n produsent geplant word asook die aanbevole plasing binne lande.
Daar is ’n verskeidenheid hulpbronne wat kundiges kan gebruik om die seleksie van kultivars wat aangepas is vir spesifieke situasies, uniek aan elke gewasprodusent se praktyke en lande, te ondersteun. Hulpbronne sluit in al die verskillende tipe proewe wat geplant word asook digitale platforms soos g-Link. In die proewe word daar sterk gekeur vir agronomiese eienskappe – soos staanvermoë, siekteverdraagsaamheid, stamdikte, kopplasing, wortelontwikkeling, blaarhoeke, planthoogte, plant-tot-kop-verhouding en populasies – wat aanpasbaarheid en opbrengs bevorder in elke omgewing.
Keuringskriteria
Faktore by die keuse van ’n kultivar word in Figuur 1 getoon.
Die belang daarvan om al hierdie faktore te oorweeg kan nie genoeg beklemtoon word nie, aangesien kultivarkeuses die boonste perke vir gewasopbrengs stel en die bestuursbeperkings bepaal wat gedurende die groeiseisoen teëgekom word.

Volwassenheid:
Volwassenheid is die tyd wat dit neem vir ’n gewas om maksimum ontwikkeling te bereik as dit kom by opbrengs, kwaliteit of fisiologiese eienskappe. Dit is ’n belangrike instrument vir die seleksie van aangepaste kultivars en die verspreiding van risiko. Volseisoen-variëteite het ’n hoër opbrengspotensiaal as vroeë variëteite omdat hulle die gebruik van sonlig wat oor die hele groeiseisoen beskikbaar is, maksimeer. Kortseisoen-variëteite is weer nuttig om strestoestande te vermy.
Opbrengspotensiaal:
Opbrengspotensiaal is die opbrengs wat bereik kan word in die afwesigheid van stressors soos nutriënttekorte, waterstres, plae, siektes en onkruid. ’n Progressiewe toename in opbrengspotensiaal het mettertyd in die meeste gewasse plaasgevind as gevolg van voortdurende verbeterings wat deur plantteling en genetiese manipulasie aangebring is. Aangesien opbrengs dikwels die grootste bepaler van wins vir kommoditeitsgewasse is, is dit redelik om te aanvaar dat dit die topkriterium vir kultivarkeuse sal wees. Seleksie uitsluitlik op grond van opbrengspotensiaal het egter sy beperkings.
Enige kultivar wat deur ’n produsent geplant word se ontwikkelingsiklus moet aangepas wees by die groei-omgewing. Hoë opbrengs op sigself sal van geen nut wees as die gewas nie op ’n redelike tyd volwassenheid bereik nie, of nadelig beïnvloed word deur stres tydens kritieke groeistadiums. Daarom moet opbrengspotensiaalvergelykings gemaak word vir die verwagte toestande in die omgewing waar die kultivar aangeplant gaan word. Om opbrengspotensiaal vas te lê en prestasie te maksimeer vereis dat die kultivareienskappe ooreenstem met veldkenmerke soos grondvogbeskikbaarheid, saadbedtoestande, residubedekking asook siekte- en plaagdruk.
Moderne teelprogramme fokus op stabiliteit oor omgewings en jare, nie net piekopbrengs nie. Elke gekommersialiseerde produk is die eindproduk van ’n robuuste proses van opbrengstoetsing, produkbevordering en plasing, waar kultivars oor vyf of meer jare op honderde plekke getoets word in elke omgewingstoestand. Om dié rede is dit deurslaggewend vir produsente om self goed gestruktureerde proewe (landboukundiges kan advies verskaf in hierdie verband) op hul plase te plant om te sien wat die aanpasbaarheid van die kultivars by hul bestuurspraktyke en toestande is. Die plant van goeie proewe moet deel wees van bestuurspraktyke en besluitneming.
Opbrengsstabiliteit:
Opbrengsstabiliteit word gedefinieer as ’n konsekwente prestasie oor verskillende lokaliteite en verskeie jare in verskeie omgewingstoestande. Dit is die rede waarom so ‘n groot hoeveelheid proewe geplant word: om die regte aanbeveling en plasing van kultivars te doen.
Grondaanpassings:
Die eerste stap in die keuse van ’n kultivar is om dié te kies wat aangepas is vir die omgewing en produksiesituasie waarvoor hulle bedoel is. Aanpassing word gedefinieer as geskiktheid vir die verwagte groeitoestande. Nie alle kultivars is aangepas vir alle produksiesituasies binne ’n gegewe geografiese gebied nie. ’n Kultivar moet hoë opbrengs kan lewer in die groeitoestande waar dit aangeplant sal word. Hierdie genotipes het die grootste oesbare opbrengspo-tensiaal. Grondfaktore vir aanpasbaarheid sluit in tekstuur, struktuur, dreinering, waterhouvermoë, residu, organiese materiaal, pH en soutgehalte.
Vir droogtetoleransie is ’n effektiewe diep wortelstelsel nodig: genetika met só ’n tipe wortelstelsel is die voorkeurbaster. Dit het die vermoë om transpirasie tydens strestoestande te verlaag. Daarby moet dit ’n staygreen-eienskap hê wat veroorsaak dat die blare langer aktief bly onder vogstres asook effektiewe waterverbruik in kritieke stadiums soos blom en graanvulling. Die wortelargitektuur moet aangepas wees by die grondtekstuur. Kultivars met ’n vlak wortelstelsel kom gewoonlik nie die mas op in sanderige gronde nie, veral nie in vogstrestoestande nie. In swaar kleigronde kan die wortels sukkel om behoorlik deur die grond te groei en ook suurstoftekorte ondervind.
Ander belangrike eienskappe sluit in kouetoleransie – veral in sekere areas soos die Hoëveld en Oos-Vrystaat. Vinnige ontkieming en opkoms is ook deurslaggewend in koue gronde, want hoe kouer dit is hoe langer neem dit die koleoptiel om uit te kom. Dit veroorsaak dat dit langer in die chemiesone is en sodoende meer middels opneem wat opkomsprobleme kan veroorsaak. Plantdiepte speel hier ’n groot rol; die ideale diepte is ongeveer 5 cm.
Praktiese riglyne
- Gebruik meer as een kultivar om risiko te versprei en veral verskillende volwassenheidsgroepe of groeilengtes.
- Hersien kultivars jaarliks op grond van proefdata en streekspesifieke prestasie. Gebruik multi-omgewingsproewe en ook meerjarige data, nie net een proef nie.
- Hou rekord van opbrengs in verskillende toestande. Maak gebruik van digitale platforms (byvoorbeeld Pioneer se g-Link) wat dit maklik maak om aan te teken.
- Definieer bestuursones binne lande deur gebruik te maak van digitale platforms.
- Gebruik presisieboerdery vir optimale resultate.
- Raadpleeg landboukundiges vir die nuutste aanbevelings en tegnologie.
Gevolgtrekking
Aanpasbaarheid is nie net ’n genetiese eienskap nie, maar ’n strategiese besluit wat produsente in staat stel om volhoubaar te boer in ’n onvoorspelbare omgewing. Deur die regte kultivars te kies en bestuurspraktyke aan te pas, kan produsente risiko verminder en opbrengspotensiaal maksimeer. Aanpasbaarheid is die brug tussen genetiese potensiaal en werklike opbrengs. Deur klimaat- en gronddinamika te verstaan en proefdata oor tyd te ontleed, kan produsente hul kultivarportefeulje optimaliseer vir stabiliteit, winsgewendheid en volhoubaarheid.
Vir meer inligting hieroor kan Emile van den Berg by emile.vandenberg@pioneer.com gekontak word.


























