
Die 2024/2025-grondboonproduksieseisoen het ten einde gespoed en produsente moet begin voorberei vir die nuwe seisoen op hande. Ter ondersteuning van hierdie voorbereidings is die resultate van die 2024/2025-kultivarevaluasies op 3 September 2025 voorgelê aan lede van die grondboonbedryf tydens die jaarlikse vergadering in Potchefstroom.
Hierdie inligting uit die grondboonkultivarevalueringsproewe wat jaarliks deur die LNR-Graangewasse oor die grondboonproduksiegebied geplant word, word met die res van die grondboonbedryf gedeel aangesien dit ’n belangrike rol in produsente se beplanning kan speel. Daar is 18 genotipes (kultivars en teellyne) geëvalueer. Die geregistreerde kultivars Sellieplus, ARC K6 en Anel het as kontroles gedien waarteen die teellyne se prestasie gemeet is.
Die drie gekodeerde teellyne is deur The International Crops Research Institute for the Semi-Arid Tropics – India (ICRISAT) ontwikkel. Die twaalf teellyne met die “PC”-voorvoegsel is deur die LNR ontwikkel en geëvalueer.
Elke proef het bestaan uit die 18 genotipes (behandelings) wat drie keer herhaal is. ’n Herhaling het uit vier rye van vier meter elk bestaan. Net die binneste twee rye is geoes om data in te samel sodat die kantry-effek uitgeskakel kon word. Besproeiingsproewe is in Jan Kempdorp (LNR-proefstasie), Wesselsbron (Onverwacht) en Groblersdal (LNR: Loskop-proefstasie) geplant. Onder besproeiing is die vier rye per herhaling met ’n tussenryspasie van 45 cm en ’n binneryspasie van 5 cm geplant.

Droëlandproewe is aangeplant by Bothaville (Kwenaplex), Hoopstad (Qualita Seeds), Hoopstad (Kromdraai) en Groblersdal (LNR: Loskop-proefstasie). Die rye is 90 cm uit mekaar geplant met ’n binnery-spasie van 8 cm. Met oestyd is die peulmassa uit die binneste twee 4 m-rye per genotipe van elke herhaling bepaal. Die pitmassa verteenwoordig ’n monster van 500 g peule wat gedop en geweeg is en die doppersentasie verteenwoordig die persentasie pitte wat herwin is van die 500 g peule.
Data is onderwerp aan ’n statistiese verwerking (ANOVA) deur Genstat te gebruik. Statistiese verskille is met die “Fisher’s protected least significant difference test” uitgelig. Vir die doeleindes van hierdie artikel is net die vyf toppresteerders uit die 18 genotipes wat by elke lokaliteit geïdentifiseer is in Tabelle 1 tot 7 aangedui.
Resultate van grondbone onder besproeiing
In Wesselsbron (Tabel 1) beklee PC 494-K7 die derde en Anel die vierde posisie as dit kom by peulmassa, pitmassa en doppersentasie. PC500-K13 het die hoogste peulmassa gelewer, maar het ’n tweede plek behaal met pitmassa en doppersentasie. Genotipes 16608 en PC 500-K15 het onderskeidelik ’n eerste en vyfde plek behaal met pitmassa en doppersentasie, maar was nie onder die topvyf ten opsigte van peulmassa nie.
PC 497-K7 het konstant tweede beste presteer in Groblersdal (Tabel 2) met peulmassa, pitmassa en doppersentasie, wat inderwaarheid aantoon dat dié genotipe nommer een was in Groblersdal gemeet aan die prestasie in al drie kategorieë. PC 494-K2, PC 494-K7, PC 482-K32 en 16528 het onderskeidelik eerste, derde, vierde en vyfde beste presteer met pitmassa en doppersentasie-opbrengste, maar was nie onder die eerste vyf presteerders as dit kom by peulmassa nie.
Die resultate van Jan Kempdorp (Tabel 3) toon dieselfde interessante verskynsel as by die ander lokaliteite aan, naamlik dat genotipes goed presteer ten opsigte van pitmassa en doppersentasie, maar nie die beste as dit kom by peulmassa nie. Anel, PC 494-K2,
16608, PC 483-K32 en PC 500-K12 was die beste produseerders as ditkom by pitmassa en doppersentasie. PC 489-K9, 16608, 16528, PC 500-K12 en PC 500-K13 het goed presteer ten opsigte van peulmassa, maar is nie gelys onder pitmassa en doppersentasie nie. Genotipe 16608 was tweede beste met peulmassa, maar derde beste as dit kom by pitmassa en doppersentasie.

Resultate van droëlandgrondbone
Tabel 4 (Qualita Seeds) dui ook op soortgelyke verskynsels betreffende die prestasies van die vyf topgenotipes. Alhoewel Sellieplus (beste), PC 489-K19, PC 500-K13 en PC 500-K15 goeie peulmassas gelewer het, is dié genotipes nie onder pitmassa en doppersentasie gelys nie. Met uitsondering van 15562, wat die vyfde beste peulmassa gelewer het (vierde beste pitmassa en doppersentasie), het PC 494-K2, 16528, 16608 en PC 550-K11 die beste pitmassa en doppersentasies gelewer. Laasgenoemde vier genotipes verskyn nie verder in Tabel 4 nie.

Tabel 5 (Groblersdal, droëland) toon aan dat PC 497-K7 die beste pitmassa en doppersentasie gelewer het, maar verskyn nie verder in die tabel nie. Die enigste genotipe wat universeel in al drie kategorieë goed presteer het, was PC 494-K7. Die vyfde beste peulmassa-opbrengs is gelewer deur PC 489-19, maar hy het nie goed presteer by pitmassa en doppersentasie nie. Insgelyks het PC 482-K32 die vyfde beste pitmassa en doppersentasie gelewer, maar nie goed presteer by peulmassa nie.

Opbrengssyfers soos aangedui in Tabel 6 (Kromdraai) toon aan dat genotipe 16608 die beste presteer het as dit kom by pitmassa en doppersentasie, maar hy verskyn nie onder die topvyf as dit kom by peulmassa nie. Die genotipe 16528 is die enigste een wat teenwoordig is in al drie kategorieë en het derhalwe die beste uit die topvyf presteer. Sellieplus het die hoogste peulmassa-opbrengs gelewer.
PC 500-K13 het die derde beste peulmassa gelewer, maar was vierde beste ten opsigte van pitmassa en doppersentasie. Die genotipes wat ook konstant presteer het as dit kom by pitmassa en doppersentasie was PC 500-K13, PC 500-K15 en 15562.
In Tabel 7 (Bothaville) word aangedui dat Sellieplus ook hier die hoogste peulmassa gelewer het, maar hy verskyn nie verder onder pitmassa en doppersentasie nie. Sellieplus het onder meer ook goed presteer in die Kromdraai- en Qualita Seeds-proewe. Anel het ’n hoë pitmassa en doppersentasie gelewer, maar was vyfde beste met peulmassa.
Genotipe 16608 het die tweede beste opbrengste gelewer ten opsigte van pitmassa en doppersentasie, maar het nie goed gedoen met peulmassa nie. Anel wat goed presteer het met pitmassa en doppersentasie, het die vyfde beste peulmassa gelewer. Die ander vier genotipes, soos gelys onder pitmassa en doppersentasie, het ook goed presteer by die ander lokaliteite.
Slotopmerking
Die resultate in die artikel dui bloot die topvyfgenotipes se prestasies aan betreffende peulmassa, pitmassa en doppersentasie. Die variasie in prestasies van genotipes wat onder besproeiing verbou is, soos aangedui in Tabelle 1 tot 3, word ook waargeneem by die genotipes wat onder droëlandtoestande verbou is, soos aangedui in Tabelle 4 tot 7.
Die verskynsel dat genotipes wat goed presteer ten opsigte van peulmassa-opbrengs nie noodwendig hoë pitmassas en doppersentasies lewer nie, kan verklaar word vanweë die feit dat grondbone ’n tetraploïede plant is.
Dit is egter nie net die kwantiteit (opbrengs) wat die prestasie van genotipes bepaal nie, maar ook die kwaliteit van die genotipes wat deur die gradering bepaal word. Beide kenmerke is belangrik ten einde die beste genotipes te identifiseer.
Dit is ook duidelik dat genotipes sekere areas met sekere klimaatstoestande verkies. Sommiges (byvoorbeeld Sellieplus en Anel) presteer goed in verskeie klimaatstoestande. Ten spyte van die variasie is daar wel ’n aanduiding dat die meeste van die toppresteerders by die verskillende lokaliteite teenwoordig is.
In die volgende produksieseisoen gaan daar onder meer vyf Icrisat-teellyne by die proewe ingesluit word. Eienskappe soos ’n korter groeiperiode en weerstand teen insekte en siektes sal geëvalueer word. Indien die teellyne potensiaal toon, is die plan om dit in toekomstige LNR-teelprogramme in te sluit om sodoende nuwe kultivars te ontwikkel wat aan die bedryf beskikbaar gestel kan word.


























