Deel jou wenresep en prut saam in 2026

Gepubliseer: 12 Desember 2025

60
Foto’s slegs ter illustrasie

Nuwe jaar, nuwe dinge en nuwe kompetisies! SA Graan/Grain stel met groot opgewondenheid die nuwe Graan SA/John Deere- leserskompetisie bekend wat vanaf hierdie uitgawe tot en met die November 2026-uitgawe aan die bak en brou sal wees.

Kry solank daardie resep van jou wat gewoonlik die bekke laat water gereed, want hier-die kompetisie bied beslis die regte platform waar ma, pa, ouma, oupa óf die kleinkinders met hul talente kan woeker. Het jy ’n unieke resep vir brood, paptert, braaibroodjies of dalk koeksisters of bier? Of selfs beter … verras ons met die formidabele resep waarvoor jy wyd en syd bekend geraak het.

Jou geheim kan jou dalk een van die maandelikse wenners van ’n spoggerige John Deere- gemerkte produk vir die kombuis maak. Boonop sal jy dan, na afloop van die 2026-kompetisie en beoordeling deur ’n bekende in die kosbedryf, in aanmerking kom wat jou as algehele wenner vir die jaar R5 000 kontant in jou sak kan laat steek.

Wat het jy nodig om in te skryf?

  • ’n Oorspronklike resep of ’n bestaande resep met ’n kinkel wat dit nuwe woema gee.
  • Die resep se hoofbestanddeel moet een van die graansoorte of oliesade wees waarop Graan SA fokus (verwerk of onverwerk):
    • Mielies
    • Koring
    • Gars
    • Sonneblom
    • Sojabone
    • Sorghum
    • Kanola
    • Grondbone

    Skryf in op sagrainmag.co.za en deel die bestanddele, metode en ’n foto van jou eindproduk. Hou daarna maandeliks die webwerf, SA Graan/Grain en Graan SA se sosialemedia-platforms dop!

    Hierdie kompetisie vervang die Graan SA/John Deere My Hero-kompetisie wat die afgelope drie jaar vir inspirerende stories gesorg het.

    Ons is Suid-Afrikaners. Ons is lief vir eet!

    Ons sien uit na jóú resepinskrywing!