Graan SA/John Deere Grain-Lekker-kompetisie: Oktober wenner

Published: 11 November 2026

1033

Die Graan SA/John Deere-resepkompetisie gee jou die geleentheid om jou kreatiwiteit in die kombuis op die proef te stel, en jy staan boonop ’n kans om daarvoor beloon te word.

Ons Oktober-wenner* is: Zandeleen Thygesen van Pretoria

BILTONG-EN MIELIESLAAI

Genoeg vir ses persone

Bestanddele

  •  4 koppies mieliepitte (vars van die kop af gesny of bevrore mielies, ontdooi)
  • 150 g biltong, dun gesny of gekrummel
  • 100 g fetakaas, gekrummel
  • 2 sprietuie, fyn gekap
  • 2 e mayonnaise
  • 2 e Griekse joghurt of suurroom
  • sap van 1 lemmetjie
  • 1 t gerookte paprika
  • ½ t rooipepervlokkies (opsioneel)
  • 2 e vars pietersielie, gekap
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Metode

  1. Verhit ’n groot pan oor hoë hitte en rooster die mieliepitte vir vyf tot agt minute totdat dit liggies verbruin en gekaramelliseer is. Laat afkoel.
  2. Meng die mayonnaise, joghurt/suurroom, lemmetjiesap, paprika en rooipepervlokkies.
  3. Voeg die afgekoelde mielies, sprietuie en die helfte van die fetakaas by. Meng goed.
  4. Geur met sout en peper.
  5. Skep die slaai in ’n opdienbak.
  6. Strooi die oorblywende fetakaas, biltong en vars pietersielie bo-oor.
  7. Bedien koud of teen kamertemperatuur.

Addisionele inligting
Voeg ’n fyn gekapte rooirissie by vir ekstra skop.
Vir ’n meer Suid-Afrikaanse geur kan jy ’n knippie braaispeserye by die sous voeg.
Hierdie slaai werk uitstekend saam met braaivleis, steak of geroosterde hoender.

* Die maandelikse wenner ontvang ’n geskenkbewys vanaf John Deere en kom outomaties in aanmerking vir die R5 000-kontantprys wat aan die einde van die jaar aan die algehele wenner toegeken sal word. Kompetisiereëls word op die webwerf (sagrainmag.co.za) uiteengesit.