Haar hart klop vir enige lewende wese

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 7 Oktober 2025

198

September se held: Annique Bouwer

Annique Bouwer (regs), September se wenner van die Graan SA/John Deere My Hero-kompetisie, saam met haar dogter en man, Skylar en Michael.

Annique Bouwer (36) se pad in landbou het in 2012 begin toe sy twee bokkies en twee skape hans begin grootmaak het. Na jare se harde werk, deursettingsvermoë en onwrikbare toewyding het haar kudde gegroei tot 112, wat bokke, skape en beeste insluit. Sy hanteer alles self – van daaglikse sorg, voeding en weiding, tot inspuitings. Wanneer dit by haar diere kom, straal die passie en liefde behoorlik uit haar uit.

Nadine Bouwer, Annique se skoonsus, het haar as haar held genomineer.

Nadine Bouwer het besluit om Annique, haar skoonsussie, as held vir die Graan SA/John Deere My Hero-kompetisie te nomineer. “Vir my is Annique die toonbeeld van ’n ware boervrou en heldin – iemand wat nie net saam met haar man ’n plaas en gesin help bou nie, maar dit doen met nederigheid, deursettingsvermoë en ’n warmte wat almal rondom haar inspireer.”

Annique is saam met haar man, Michael, en haar ouers betrokke by hul besigheid wat hulle vanaf hul plaas in die Skeerpoort-omgewing in Noordwes bestuur. Pera Plants & Civils hanteer die gelykmaak van lande, bou van damme en die verwydering van klippe uit lande. “Behalwe dat hulle self ’n boerdery het, werk hulle ook elke dag met uitdagings waarmee produsente te doen het. Tussendeur die verantwoordelikhede wat die besigheid en plaas van Annique vereis, is sy ook ’n mamma. Skylar, hulle sesjarige dogtertjie, word saam met die diere op die plaas groot. Sy is ’n regte rabbedoe wat nes haar pa en oupa tuis is op die masjinerie waarmee hulle daagliks werk. Sy kry elke dag ’n voorbeeld dat harde werk, liefde en volharding die mooiste vrugte dra.”

Nadine vertel hoe Annique se hart en hande altyd oop is vir nood. “Of dit nou ’n verdwaalde hond, beseerde voëltjie, pasgebore lammetjie of ’n siek katjie is, sy gee vir elkeen ’n veilige hawe, versorg hulle met toewyding en help hulle op hul pad na herstel. Maar wat my die meeste beïndruk, is dat sy dit alles doen sonder om ooit enige erkenning te soek. Vir haar gaan dit nooit oor haarself nie, maar altyd oor die diere en dit wat sy in hulle lewens beter kan maak.”

Dit is haar saggeaarde voorbeeld wat mense rondom haar anders oor liefde laat dink. “Ware omgee ken nie grense nie. In my oë is sy ’n held, omdat sy daagliks die waardes van medelye, opoffe­ring en liefde uitleef. Sy wys vir ons dat omgee nie net woorde is nie, maar dade wat die wêreld ’n mooier plek maak.”