Jong boer waardeer wat sy pa doen

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 8 Mei 2025

177
April se held, Naas Muller, sy broer, Johann, en pa, Quintus. Dié foto is onlangs geneem met die aflewering van ’n trekker.

April se held: Naas Muller

“Hy het my geleer hoe om ’n boer te raak; en hy is lief vir wat hy doen.” Dit is die opsomming van Alec Muller (14) van Mosselbaai se nominasie van sy landbouheld, sy pa, Ignatius Muller (48) – of Naas, soos hy bekend staan.

Naas het in 1997 aangesluit by die boer­dery op hul familieplaas, Patrysfontein, in die Mosselbaai-distrik. Hy en sy broer, Johann, is die sewende generasie van Mullers op die plaas. Saam met hulle pa, Quintus (75) – wat steeds aktief deel is van die boerdery – verbou hulle kanola en koring en bedryf ook ’n Bonsmara-kudde van 100 koeie.

Produsente vir die volgende generasie in wording: AJ (links) en Alec Muller. Alec het sy pa, Naas, genomineer as sy held in landbou.

Naas en Johann – die eertydse Springbok-rugbyspeler – is beide passievol oor bewaringsboerdery. Met ’n kerwer agter die stroper word alle plantmateriaal op die grond gelaat nadat net die pitte van die land afgehaal is. Om die grond minimaal te versteur, kom selfs die diere nie op die lande nie. Van oes tot plant vind daar ook geen bewerking plaas nie.

Vogbewaring is vir hulle die sleutel tot bewaringsboerdery. Naas haal sy broer aan deur te verwys na volhoubare boerdery wat 90% afhang van die natuur en 10% van wat jy as produsent doen. “As jy die 10% nie 110% doen nie, beteken die 90% niks,” verduidelik Naas die beginsel wat hulle volg.

Hulle pa, Quintus, is steeds aktief by die boerdery betrokke. Op die vraag oor wie Naas as sy landbouheld sou nomi­neer, antwoord hy dadelik dat dit sy pa – én die ses vorige generasies – sou wees. “As dit nie vir hulle was nie, was daar geen plaas om op te kan boer nie. Om ons pa op sy ouderdom nog so aktief in die boerdery te hê, is ’n voorreg,” sê hy.

Naas is ernstig as hy verwys na die genade van Bo: “Veral boere in droëlandboerdery weet dat ons afhanklikheid van die natuur gelykstaande is aan ons afhanklikheid van die genadehand van die Skepper,” deel Naas.

Alec en sy ouer broer, AJ, is beide leerders aan die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal. Naas vertel dat boer­dery sterk vloei in die are van hom en sy vrou, Cheryl, se twee seuns. “Hulle is aktief in die boerdery betrokke met elke geleent­heid wat hulle tussen die skoolwerk deur kry. My droom is natuurlik dat hulle deel van die volgende generasie Mullers op Patrysfontein sal wees.”

“My pa werk elke dag en tot laat in die nag. Hy het my geleer hoe om ’n boer te raak en hy is lief vir wat hy doen. Ek waardeer alles wat hy doen.” Só gesels Alec oor sy pa – en voeg dan vinnig by dat sy pa ’n lojale John Deere-klant is.

“Ja-nee, hier by ons is alles groen,” skerts Naas en voeg by: “Vir ons gaan dit oor diens. As dit planttyd, oestyd of spuittyd is, kan jy nie staan nie. Ons het ’n goeie verhouding met JDI as ons plaaslike John Deere-agentskap. Dit is ’n voorreg om hulle deel van ons boerdery te kan hê.”