KORING BY ’N KRUISPAD: harde werklikheid en toekomsopsies

Gepubliseer: 7 Oktober 2025

685
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

LANDBOU IS EEN VAN SUID-AFRIKA SE WAARDEVOLSTE SEKTORE EN BIED BEKOSTIGBARE VOEDSEL, BUITELANDSE VALUTA EN WERK. TOG IS DAAR MIN BEDRYWE WAAR DIE GAPING TUSSEN NASIONALE VERWAGTINGE EN PLAASHEK-REALITEITE SO DUIDELIK IS AS BY KORING.

Koringprodusente ervaar druk as gevolg van onvoorspelbare seisoene, verwronge gesubsidi­eerde internasionale markte en klein binnelandse marges. Sonder plaaslike koringproduksie sou verbruikers jaarliks sowat R700 miljoen meer bestee het – geld wat, eerder as om produsente te verryk, deur plaaslike besighede, skole en landelike gemeenskappe sirkuleer. Die koringdebat gaan nie net oor ’n gewas nie, maar oor na­sionale welsyn, plattelandse oorlewing en voedselsoewereiniteit.

Bedryf blom, maar is onder druk
September is ’n vreugdevolle maand in die wintergraanstreek, met groen koringlande omraam deur geel kanola – ’n herinnering aan die potensiaal van gediversifiseerde wisselbou. Die sukses van kanola, gedryf deur entrepreneurskap van produsente en Southern Oil (SOILL) se innovasie, toon wat ’n ondersteunende ekosisteem kan bou. Koring deel egter nie in dieselfde gunstige toestande nie.

Die helfte van Suid-Afrika se koring word ingevoer, wat dit uniek maak onder ons graansoorte. Anders as mielies, wat dikwels uitgevoer word, of oliesade, wat ’n groeiende verwerkingskapasiteit het, moet koring ’n strukturele gaping trotseer. Kwaliteit maak saak en meulenaars en bakkers is uiters sensitief vir intrinsieke waarde en bakgehalte, wat verkryging bepaal en prysbepaling kompliseer.

Verskeie fronte verg aandag
Daar is geen wonderoplossing nie. Wins­gewendheid en volhoubaarheid in koring vereis gelyktydige optrede op verskeie fronte. Elke koringstreek in Suid-Afrika het unieke uitdagings. Klimaatskuiwe, grondgesondheid, onkruiddoderweerstand en kultivargeskiktheid verskil van streek tot streek, wat pasgemaakte navorsing en oplossings vereis.

Invoere en tariewe bly ’n balanseer­toertjie tussen plaaslike mededingendheid en bekostigbaarheid vir verbruikers. Vertragings in tariefsnellers verwring die mark, wat ’n outomatiese, reëlgebaseerde stelsel noodsaaklik maak om vertroue te herstel. Die stadige beraadslaging deur die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika (ITAC) oor ’n nuwe regime beklemtoon hoe polities sensitief hierdie instrument geword het.

Die spanning tussen opbrengs en kwaliteit is nog ’n drukpunt. Produsente benodig hoë-opbrengsgenetika, maar die risiko bestaan dat streng kwaliteitskriteria billike belonings kan beperk. Soos die voorsitter van die Koring- Tegniese Komitee, Andries Theron, opgemerk het, kan ’n prysprobleem nie met ’n tegnologiese regstelling opgelos word nie.

Alhoewel Suid-Afrika se graderingstelsel ’n stewige basis bied, word koste opgejaag deur bergingslogistiek. Die skeiding van grade is dikwels onprakties, terwyl uitlaai sonder waarborg van graad vertroue oor die hele waardeketting ondermyn.
Prysontdekking het verbeter met die ver­klaring van ’n “voorneme om in te voer”, maar termyn- en kontantmarkte moet steeds in oor­eenstemming wees. Produsente versprei risiko deur middel van kanola, lupiene, peulgewasse en praktyke soos bewaringslandbou, wisselbou en grondgesondheid as ’n sleutel tot langtermynvolhoubaarheid.

’n Strategiese kruispad
Dit laat plaaslike produsente meeding teen swaar gesubsidieerde boere in Europa, Noord-Amerika en die Swart See-gebied – ’n ongelyke speelveld wat die land ekonomiese groei en beleggings kos.

Met die Wêreldhandelsorganisasie wat verswak is en proteksionisme wat toeneem na Trump se tariewe, beskerm lande hul sleutelbedrywe. Die regering van nasionale eenheid (RNE) moet besluit of landbou slegs ’n bron van goedkoop voedsel is of ’n strategiese sektor wat werksgeleenthede, armoedevermindering en buitelandse inkomste dryf.

ArcelorMittal se platstaalellendes wys hoe nywerhede ineenstort sonder ’n duidelike nywerheidsbeleid – tot nadeel van die hele ekonomie. Koring loop dieselfde risiko. Gaan ons toelaat dat onregverdige mededinging ons werksgeleenthede, beleggings en voedselsekerheid “uitvoer”?

Politiek en beleid
Minister John Steenhuisen en direkteur-generaal Mooketsa Ramasodi het sterk, gekoördineerde leierskap getoon, maar koring se lot word nie net binne landbou bepaal nie. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging en sy beleid sal deurslaggewend wees. Koalisiepolitiek en stadige besluitneming dra egter by tot onsekerheid en is ’n bedreiging vir bedrywe wat vinnige reaksies benodig.

Hierdie werklikheid dwing Graan SA en sy vennote om op verskeie fronte te werk – van voorspraak vir outomatiese tariewe tot beveiliging van nuwe teeltegnologieë en navor­sing rakende kultivars en bewaringspraktyke om ’n winsgewende, volhoubare en wêreldwyd mededingende koringbedryf te bevorder.

Van erkenning tot strategie
Daar is baie op die spel. Vir verbruikers, wat nie stygende pryse kan absorbeer nie, tel elke rand, en vir produsente wat moeilike tye moet trotseer, beïnvloed elke ton skuld, lone en lewensbestaan. Beide vereis erkenning. Koring is nie ’n luukse nie – dit is ’n stapelvoedsel. Die langtermynoplos­sing is tegnologie, mededingendheid en billike handel. Die korttermynuitdaging is om die volgende seisoen te oorleef.

Toe ek verlede September Kaapse produsente besoek het, is ek weer eens getref deur hul veerkragtigheid, professionaliteit en kreatiwiteit – hulle is van wêreldgehalte. Maar hulle kan nie die las alleen dra nie. ’n Nuwe politieke bedeling bied ’n kans vir vars denke. Sonder optrede kan koring staal se paadjie loop, en alle Suid-Afrikaners sal die prys daarvoor betaal.