
HUB, Graan SA
DIT IS WEER DAARDIE OPWINDENDE TYD VAN DIE JAAR WAT DIE LANDBOUGEMEENSKAP IN DIE SUIDE VAN DIE LAND SAAMTREK VIR NAMPO KAAP. DIE TEMA VIR VANJAAR SE SKOU, “SLIM-TEGNOLOGIE VIR DOELTREFFENDE HULPBRONBESTUUR”, BEKLEMTOON DIE NOODSAAKLIKHEID OM MEER MET MINDER TE DOEN – VERAL IN ’N TYD WAAR NATUURLIKE HULPBRONNE ONDER DRUK VERKEER EN VOEDSELPRODUKSIE SLIM BEPLAN EN BESTUUR MOET WORD OM VOEDSELSEKERHEID TE VERSEKER.
Tegnologie is nie ’n luukse nie, maar ’n onontbeerlike hulpmiddel wat graanprodusente ondersteun om binne die grense van hul produksie-omstandighede optimale opbrengs uit elke oes te haal.
Hoewel die handelsnaam NAMPO ’n nalatenskap van die eertydse mielie-organisasie is en tans met graanproduksie vereenselwig word, staan hierdie gerespekteerde handelsmerk ook in diens van die breër landbougemeenskap – ’n verantwoordelikheid wat Graan SA ernstig opneem. NAMPO Kaap gee hieraan gestalte as ’n platform waar uiteenlopende bedrywe, vanaf graan, vee en wingerdbou tot tegnologie en groenteverbouing, onder een sambreel byeenkom om netwerke te bou en oplossings te vind vir huidige en toekomstige landbou-uitdagings. Ons sien daarna uit om weer eens lekker saam te kuier op Bredasdorp Park tussen die pragtige groen en geel van koring- en kanolalande.
Watergevlekte mieliepitte
Die 2024/2025-bemarkingsjaar is gekenmerk deur klimaatstoestande wat gelei het tot ’n merkbare toename in watergevlekte mieliepitte. Dit is egter die tweede agtereenvolgende jaar waarin produsente voordeel kan trek uit die nuwe regulasies wat bepaal dat watergevlekte mieliepitte nie die kwaliteit of kleur van die finale produk beïnvloed nie. Gevolglik mag watergevlekte mieliepitte sonder strukturele foute nie as defektief gegradeer word nie.
Hierdie regulatoriese aanpassing is meer as net ’n tegniese oorwinning – dit is daadwerklike vooruitgang in die bevordering van winsgewende graanproduksie en voedselveiligheid. Dit is moontlik gemaak danksy die toegewyde en jarelange aksie van die Graan SA-span, die ondersteuning van SAGRA (South African Grain Farmers Association) en die wetenskaplike navorsing van die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL).
Biosekuriteit en tegnologie
Die gevalle van bek-en-klouseer in Suid-Afrika plaas ongelukkig landswyd ’n demper op landbougemoedere. Miljoene rande se skade is berokken met groot ontwrigting in die vleisvoorsieningsketting deur die sluiting van markte, verbruikersprysverhogings en ’n uitvoerverbod. Dit plaas klem op die noodsaaklikheid van streng biosekuriteitsmaatreëls. Reaktiewe optrede ná ’n krisis is te laat en het ’n blywende impak op voedselsekerheid en plattelandse gemeenskappe se welvaart.
Tegnologie speel nie net ’n deurslaggewende rol in die suksesvolle toepassing van biosekuriteit in veeboerdery nie, maar ook in graanproduksie waar patogene en onkruidsaad deur toerusting of saad versprei kan word. Deur tegnologie soos toegangsbeheer, GPS-nasporing, digitale siekteverslagdoening en plaasmonitering doelgerig aan te wend, kan produsente risiko verminder, hul omgewing beskerm en volhoubaarheid bevorder.
Internasionaal en deur ons eie regering word daar verder skerp gefokus op gevaarlike landbouchemikalieë, en hierdie saak gaan nog baie aandag verg. Die tragiese dood van kinders in Soweto as gevolg van terbufos- en aldikarb-besmette spazawinkelkos, beklemtoon die noodsaaklikheid van streng veiligheidsmaatreëls. Gevolglik is nuwe regulasies ingestel vir beter naspeurbaarheid, herverpakking en hantering van plaagdoders.
Graan SA beskou die verantwoordelike gebruik van chemikalieë – met ’n balans tussen omgewingsgesondheid, menslike veiligheid en volhoubare voedselproduksie – as ’n prioriteit. Ons het derhalwe ’n projek begin om produsente te ondersteun om koste-effektief aan regulasies te kan voldoen. Wetlik moet diegene wat met gifstowwe werk ’n geakkrediteerde kursus voltooi en as plaagbeheerbeampte (PCO) registreer of andersins onder toesig van ’n geregistreerde plaagbeheerbeampte funksioneer. Graan SA het dus, in samewerking met Aartappels SA, in Augustus ’n SETA-geakkrediteerde aanlyn kursus om as plaagbeheerbeampte te registreer eksklusief aan opbetaalde lede van Graan SA bekendgestel.
Wintergraan-produksieseisoen
Op ’n positiewe noot is dit verblydend dat die wintergraan-produksieseisoen vir 2025 belowend lyk, veral in die tradisionele winterreënstreke soos die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap. Die Wes-Kaap, waar daar vanjaar 512 000 ha koring en 164 900 ha kanola aangeplant is, kan grootliks van gunstige reën en goeie grondvogstoestande getuig. Die Vrystaat, Noord-Kaap en Limpopo, waar daar vanjaar gesamentlik 115 000 ha koring aangeplant is, het ook baat gevind by goeie grondvog na die somerreënval. Prysvooruitsigte vir insetkoste raak ook gunstiger namate pryse van kommoditeite soos kunsmis en gewasbespuitingsmiddels ná skerp stygings begin daal, wat winsgewendheid sal verbeter.
Ons glo dat die hoop nie gaan beskaam nie en dat produsente in die wintergraangebiede ’n suksesvolle produksiejaar sal beleef. Hierdie gees van optimisme word gerugsteun deur die onwrikbare toewyding en volharding van ons graanprodusente. Laat ons voortgaan om mekaar te ondersteun, kennis te deel en saam nuwe moontlikhede te skep vir die volgende oes en die oes daarna. Sien jou by NAMPO Kaap!










