Ekonomiese aanwysers en prysbewegings in 2024

Gepubliseer: 11 Desember 2024

83
Marguerite Pienaar,
landbou-ekonoom,
Graan SA, marguerite@grainsa.co.za

2024 se ekonomiese landskap is gekenmerk deur voortdurende skommelinge in sleutelaanwysers wat ’n direkte impak het op die landbousektor en breër ekonomie. Van produksie- en verbrui­kersprysindekse tot wisselkoerse, rentekoerse en internasionale ruoliepryse – al hierdie faktore speel ’n rol in die bepaling van produksiekoste en winsgewendheid. Brandstof- en kunsmispryse sowel as saad- en trekkerkoste beïnvloed die finansiële beplanning van produsente landswyd.

Die monitering van ekonomiese aanwysers en insetpryse is van kardinale belang vir deursigtigheid, doeltreffende beplanning en volhoubare besluitneming. Hierdie aanwysers bied insig in marktoestande, produksiekoste en die breër ekonomiese klimaat, wat produsente en besighede help om risiko’s te bestuur en strategies te reageer op skommelinge. Tabel 1 toon die prysbewegings van ekonomiese en insetprysaanwysers aan op ’n jaar-tot-jaar-basis (Oktober 2023 tot Oktober 2024).

Produksieprysindeks
Die produksieprysindeks (PPI) dui die prysstygings van goedere en dienste op groothandel- of vervaardigingsvlak in die ekonomie aan. Op ’n jaargrondslag het die PPI met 3,3% gestyg. Die PPI vir landbou het jaar op jaar met 3,6% toegeneem, terwyl die PPI vir graan en ander gewasse met 5% toegeneem het.

Verbruikersprysindeks
Die amptelike inflasiekoers word bereken op grond van veranderinge in die verbruikersprysindeks (VPI) en dui kosteveranderinge op kleinhandel- of verbruikersvlak aan. In September 2024 het die inflasiekoers jaar op jaar met 3,8% gestyg. Voedselinflasie het oor dieselfde tydperk met 4,7% toegeneem. In hierdie voedselmandjie het brood en graan met 5,4% gestyg, terwyl vleis slegs met 0,9% gestyg het. Olies en vette het met 0,1% afgeneem, terwyl groente met 6,8% gestyg het. Vrugte het oor dieselfde tydperk met 2,9% toegeneem.

Wisselkoerse
In Tabel 1 word ’n versterking van die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ’n positiewe verande­ring aangedui, terwyl ’n verswakking as ’n negatiewe persentasieverandering getoon word. Die rand het onderskeidelik met 7,7% teenoor die dollar, 4,3% teenoor die euro en met ’n effense 0,3% teenoor die pond versterk van Oktober 2023 tot Oktober 2024.

Rentekoerse
Jaarliks tot en met Oktober 2024 het die Reserwebank die repokoers verlaag na 8,00%, terwyl kommersiële banke die prima uitleenkoers na 11,50% verlaag het. Dit het verligting gebring vir die grootste gedeelte van Suid-Afrika se inwoners.

Internasionale ruoliepryse
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het tussen Oktober 2023 en Oktober 2024 met 15,1% gedaal van $88,85 per vat tot $75,39 per vat. In randterme het die ruolieprys op ’n jaargrondslag met 19,7% afgeneem tot R1 325,36 per vat teen Oktober 2024.

Brandstofpryse
Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 26,3% gedaal, van R25,02/liter in Oktober 2023 tot R18,45/liter in Oktober 2024. Oor ’n tydperk van ’n jaar het die ingevoerde koste van diesel met 39,2% afgeneem, terwyl belasting met 0,8% gestyg het en die groothan­delsmarge met 6,9% toegeneem het. Die dieselkorting is tans 366 sent/liter, wat bestaan uit 218 sent/liter vir die Padongelukkefonds-heffing en 148 sent/liter vir die belastingkomponent.

Internasionale kunsmispryse
Die pryse van DAP en kaliumchloried het on­derskeidelik met 6,1% en 7,8% gestyg, terwyl ureum- en ammoniakpryse onderskeidelik met 0,3% en 20,1% gedaal het van Oktober 2023 tot Oktober 2024.

Plaaslike kunsmispryse
Aangesien Suid-Afrika meer as 80% van sy kuns­misbehoeftes invoer, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as dié in die internasionale mark. Die gemiddelde pryse van MAP, ureum, KAN en kaliumchloried het onderskeidelik met 0,9%, 14,1%, 12,6% en 21,2% gedaal oor ’n tydperk van een jaar tot en met Oktober 2024.

Saadpryse
Saad maak sowat 10% van ’n graan- en oliesaadprodusent se huidige produksiekoste uit. Vir die 2024/2025-produksieseisoen het mieliesaad gemiddeld met 6,1% gestyg, graansorghum­saad met 7% en sonneblomsaad met 3,7%. Sojaboonsaadpryse het jaar op jaar gemiddeld met 3,8% gedaal.

Trekkerpryse
In Oktober 2024 was die pryse van trekkers 4% hoër as die ooreenstemmende tydperk ’n jaar vroeër.

Trekkerverkope
Vir 2024 het trekkerverkope tot Oktober met 33,9% afgeneem in vergelyking met dieselfde tydperk in 2023. Teen Oktober 2023 is 7 158 eenhede in die tienmaandeperiode verkoop, terwyl verkope op 4 728 eenhede gestaan het teen Oktober 2024.