Wat beïnvloed die lewensduur van ’n garskultivar?

Rens van der Watt, operasionele bestuurder, SABBI
Gepubliseer: 12 Desember 2024

312

Die volhoubare produksie en lewensduur van garskultivars is van kritieke belang vir die Suid-Afrikaanse landbousektor en broubedryf.

As ’n teelmaatskappy speel die Suid-Afrikaanse Garstelersinstituut (SABBI) ’n sentrale rol in die ontwikkeling van kultivars wat aangepas is by plaaslike agronomiese toestande, terwyl hulle voldoen aan markvereistes en bedryfstandaarde.

Die rol van SABBI
SABBI fokus op gevorderde teelmetodes om kultivars te skep wat bestand is teen beide biotiese en abiotiese stresfaktore om sodoende genetiese vordering te maak. Deur ’n wye verskeidenheid gars­genetika te gebruik, kan SABBI kultivars ontwikkel wat meer aanpasbaar is en beter presteer in spesifieke groeitoestande.

Genetiese seleksie
Moderne genetiese seleksietegnieke, soos merkergebaseerde seleksie, word gebruik om die doeltreffendheid van die teelproses te verbeter. Hierdie tegnologieë help om die genetiese potensiaal van ’n kultivar vinnig te evalueer en sodoende die beste lyne te kies om nuwe kultivars te ontwikkel wat aan beide produsente en die broubedryf se vereistes voldoen.

Opbrengs
SABBI begin deur garslyne te selekteer wat hoër opbrengste toon. Hierdie genetiese eienskap word versterk deur selektiewe kruisings, waar garslyne met hoë opbrengspotensiaal gekombineer word om kultivars te ontwikkel wat onder optimale en suboptimale toestande hoër opbrengste lewer.

Siekteweerstand
Deur garskultivars te ontwikkel wat bestand is teen siektes soos blaarroes, nettipe en koltipe netvlek en blaarvlek kan verseker word dat kultivars langer produktief bly. Hierdie weerstand teen siektes help om die opbrengs en kwaliteit van gars vir ’n langer tydperk te handhaaf, wat die lewensduur van die kultivar verleng.

Klimaatsverandering
Garskultivars moet aanpas by veranderende omgewingstoestande soos verhoogde droogtetoestande en uiterste temperatuurvariasies. SABBI selekteer vir eienskappe wat klimaatsbestendigheid bevorder, byvoorbeeld droogte- en hitteverdraagsaamheid. Dit verseker dat kultivars vir langer tydperke in ’n wye verskeidenheid klimaatstoestande optimaal presteer.

Verbeterde kwaliteit
Aangesien brou- en moutprosesvereistes streng is, fokus SABBI op die genetiese verbetering van faktore wat brou- en moutkwaliteit verbeter, soos korrelgrootte, proteïenvlakke en ekstraksiepotensiaal.

Langtermyntoetse
SABBI doen veldproewe oor verskeie seisoene en areas om die pre­stasie van ’n kultivar onder verskillende toestande te toets. Hierdie toetse help om die veerkragtigheid van ’n kultivar te bepaal en aanpassings te maak om die lewensduur van die kultivar te maksimeer.

Gars geplant naby Napier in die Overberg.
Foto: Rens van der Watt

Opberging
Die hantering en berging van gars ná oes is net so belangrik vir die behoud van kultivarleeftyd en kwaliteit. SABBI werk saam met bergingsvennote om die regte hantering en klimaatbeheer toe te pas om te verseker dat garskultivars nie skade ly nie en hul waarde behou.

Aanpassing aan markvereistes en verbruikerstendense
Markvereistes, veral binne die broubedryf, speel ’n groot rol in die keuse en aanvaarding van garskultivars. SABBI ontwikkel kultivars wat spesifiek aan hierdie vereistes voldoen, insluitend die gewenste ekstraksiepotensiaal, proteïenvlakke en ensiemaktiwiteit vir ’n optimale brou- en moutproses.

Die rol van produsente, bergingsvennote, moutmeulens en brouers
Produsente speel ’n sleutelrol in die sukses van garskultivars deur die regte verbouingspraktyke toe te pas, soos wisselbou en presisie­boerdery wat grondgesondheid bevorder en watergebruik optima­liseer. Hulle is die beginpunt van volhoubare garsproduksie.

Bergingsvennote is verantwoordelik vir die bewaring van gars­korrels na die oes. Behoorlike klimaatbeheer en monitering is noodsaaklik om bederf te voorkom en kwaliteit te behou.

Moutmeulens stel spesifieke vereistes vir gars wat hulle gebruik vir mout. Hulle werk nóú saam met die telers om te verseker dat nuwe kultivars aan hul produksiestandaarde voldoen, wat die langtermynvraag na hierdie kultivars verseker.

Brouers beïnvloed die lewensduur van garskultivars deur hul vereistes vir broukwaliteit en broudoeltreffendheid. Deur noue samewerking met die telers, verseker hulle dat gars aan bedryfstandaarde voldoen en bied hulle ’n stabiele mark vir garskultivars.

Gevolgtrekking
Die volhoubare produksie van gars in Suid-Afrika vereis ’n gesamentlike benadering tussen telers, produsente, bergingsvennote, moutmeulens en brouers.

Deur saam te werk en innoverende praktyke toe te pas, kan SABBI as teelmaatskappy die land se mededingendheid in die globale garsmark versterk en die plaaslike broubedrywe be­voordeel.

Die fokus op kultivars wat aanpasbaar is by plaaslike uitda­gings en wat voldoen aan markvereistes help om die volhoubaarheid van die hele waardeketting te verseker.