Inflasie is die toename van pryse oor ’n tydperk en kan breedwerpig beskou word as ’n maatstaf om die toename in pryse of in lewenskoste oor ’n tydperk in ’n land aan te dui. Elke jaar eis inflasie sy tol op verbruikers se rand en sent en neem die pryse van produkte toe.
Soos wat produkte duurder raak, word die koopkrag van die rand al hoe swakker. Dus word die hoeveelheid goedere wat ’n verbruiker vir ’n rand kan kry, al hoe minder. Dieselfde geld in die landbou. Insette word jaarliks duurder, kommoditeitspryse neem toe en dit is moeilik om presies te meet wat die pryse van vandag beteken in vergelyking met 10 of 20 jaar gelede.
’n Manier om die pryse van goedere en dienste van vandag met die verlede te vergelyk, is om hierdie goedere en dienste aan ’n kommoditeit te koppel. Die redenasie daaragter is dat daar aan kommoditeite soos mielies en sojabone ’n fisiese waarde geheg kan word weens die voedingswaarde waaroor die produk en sy afvalprodukte beskik. In teenstelling kan geldeenhede vinnig van waarde verander in vergelyking met ander geldeenhede. ’n Uitstekende voorbeeld hiervan is die Suid-Amerikaanse ekonomieë wat ongelooflike onstabiliteit ervaar met geldeenhede wat van dag tot dag minder werd is. Produsente daar verhandel dus eerder graan weens die waarde wat dié tipe produk hou.
In hierdie artikel word ’n vergelyking getrek tussen prysindekse en die fisiese hoeveelheid graan wat benodig word om verskeie insette te koop. Die vier graangewasse waarna gekyk word, is mielies, koring, sonneblom en sojabone.
Trekkerprysindeks
Grafiek 1 en Grafiek 2 toon onderskeidelik die trekkerprysindeks aan en die hoeveelheid graan wat benodig word om ’n 75 kW-trekker te koop. Grafiek 1 wys dat drie uit die vier gewasse, met die uitsondering van mielies, se prysindeks bo die trekkerprysindeks is. Grafiek 2 toon die hoeveelheid graan (in tonne) benodig om ’n 75 kW-trekker te koop. In 2000/2001 was 256 ton mielies nodig om ’n 75 kW-trekker te koop, terwyl dieselfde trekker die afgelope seisoen 271 ton mielies “gekos” het. Tabel 1 gee meer inligting oor die trekkerruilvoet tydens drie tydperiodes vir mielies, sojabone, sonneblom en koring onderskeidelik.
Kunsmisprysindeks (ureumprys)
Grafiek 3 en Grafiek 4 toon die kunsmisprysindeks sowel as die hoeveelheid ton graan benodig vir die aankoop van ’n ton ureum. Grafiek 3 wys die kunsmisprysindeks teenoor die verskillende graanprysindekse. Uit die grafiek is dit duidelik dat kunsmispryse vinniger gegroei het as graanpryse. Grafiek 4, wat afgelei is van die prysindekse, toon aan dat produsente in die 2000/2001-seisoen 2 ton mielies nodig gehad het om 1 ton ureum te koop in vergelyking met die afgelope seisoen waar 3,6 ton mielies nodig was. Tabel 2 gee meer inligting oor die ureumruilvoet tydens drie tydperiodes vir mielies, sojabone, sonneblom en koring onderskeidelik.
Dieselprysindekse
(groothandeldieselprys vir 1 000 liter)
Grafiek 5 en Grafiek 6 lig die dieselprysindeks en die hoeveelheid graan wat benodig word om 1 000 liter diesel aan te skaf uit. Uit al die verskeie insette wat uitgelig word toon die dieselprysindeks die grootste prysverskil relatief tot graanpryse aan. Vanuit Grafiek 5 word gesien dat daar die afgelope seisoen ongeveer ’n 61%-verskil was tussen die diesel- en sojaboonprysindeks. Tien jaar gelede was die prysverskil 47%, wat daarop dui dat die gaping al hoe groter word. Tabel 3 gee meer inligting oor die dieselruilvoet tydens drie tydperiodes vir mielies, sojabone, sonneblom en koring onderskeidelik. Om mielies as voorbeeld te gebruik, word gesien dat daar in die 2000/2001-seisoen 3,3 ton mielies nodig was om 1 000 liter diesel te koop, terwyl daar byna dubbeld (6,5 ton) die afgelope seisoen nodig was om dieselfde hoeveelheid diesel te koop.
Saadprysindekse
Grafiek 7 toon die tonne graan wat benodig word om 40 sakkies saad aan te koop. Die grafiek wys dat daar ’n opwaartse tendens is in die hoeveelheid mielies, sonneblom en koring wat benodig word om 40 sakkies saad te koop. Sojabone volg egter nie dieselfde tendens nie. Dit kan grotendeels toegeskryf word aan die feit dat die gemiddelde opbrengs van sojabone aansienlik verbeter het die afgelope klompie jaar. Tabel 4 gee meer inligting oor die saadruilvoet tydens drie tydperiodes vir mielies, sojabone, sonneblom en koring onderskeidelik. In 2010/2011 het produsente 42,2 ton mielies nodig gehad om 40 sakkies saad te koop, terwyl produsente die afgelope seisoen 54,9 ton nodig gehad het om dieselfde hoeveelheid saad te koop. Sojabone toon ’n ander prentjie: In 2010/2011 het produsente 5,7 ton benodig om die 40 sakkies saad te koop, terwyl hulle die afgelope seisoen 4 ton benodig het.
Samevatting
Grafiek 8 dui die omsetindeks sowel as die veranderlikekoste-indeks sedert die 2002/2003-seisoen aan (wat ook as basis dien). Hierdie grafiek is die gemiddeld van hierdie indekse vir die Noordwes, Noordwes-Vrystaat, Oos-Vrystaat sowel as die oostelike Hoëveld. Dit dui aan dat omset vir ’n oes in ’n mate kers kon vashou met die langtermyn- veranderlike koste. Daar is wel wisselvalligheid in sommige seisoene waar die omset nie genoeg is om die veranderlike koste te dek nie.
Met die landbou-ekonomie wat voortdurend verander, bied 2023/2024 ’n unieke uitdaging vir die ruilvoet van graangewasse, met veranderende markte en klimaatstoestande wat boere se winsgewendheid direk beïnvloed. Die algemene ruilvoet wat verswak het, dui op ’n verdere kosteknyptang waarin produsente verkeer. Insette het relatief vinniger gestyg as kommoditeitspryse, wat die winsgewendheid onder druk geplaas het. Op lang termyn het die kommoditeitsprysindekse dus verder verwyderd van die insetprysindekse geraak.