04/07/2024
Wêreldmarkte moet verskeie uitdagings soos oorloë, politiek, ekonomiese druk en klimaatsverandering trotseer. Hierdie uitdagings het tot gevolg gehad dat die vervoersektor na vore gekom het as ’n sleutelarea vir die aanpak van die energie-oorgang na hernubare energie.
Die VSA se Energie-inligtingsadministrasie (EIA) beraam dat vervoer ongeveer ’n kwart van wêreldwye energieverbruik opmaak. Met bogenoemde in ag geneem, word die oorgang na hernubare energie in hierdie sektor al hoe belangriker en sal dit deurslaggewend wees om die klimaatsdoelwitte soos uiteengesit in die Parys-ooreenkoms van 2015 te behaal.
In die lig van die groeiende vraag na produksie van hernubare energie, het die globale benutting van die vier belangrikste groente-olies – palm-, sojaboon-, kanola- en sonneblomolie – aansienlik verander oor die afgelope 20 jaar.
Grafiek 1 gee ’n grafiese voorstelling van die verskillende aspekte van die vraag na oliesade sedert 2004. Terwyl hierdie olies byna uitsluitlik as voedsel gebruik is in die vroeë 2000’s, gaan ongeveer 27% nou vir energieproduksie. Hierdie neiging het onlangs verder versnel, aangedryf deur stygende biobrandstofverbruik in sommige groot ekonomieë, insluitend Brasilië, Indonesië en – die belangrikste – die VSA waar die kapasiteit vir hernubare dieselproduksie geprojekteer word om te vervierdubbel teen 2024. Amerikaanse produsente het hierop gereageer deur aansienlik meer oliesade aan te plant, veral sojabone, wat beskou word as ’n hoofbestanddeel in die produksie van biobrandstof.
Dié hoër wêreldvraag na hernubare biobrandstowwe hou opwindende vooruitsigte in. Hoewel Suid-Afrika se mylpale en beleid op hierdie oomblik nie so ambisieus soos ander lande s’n is nie, bly dit tog belangrik om hierdie tendense dop te hou:
Kanolasaad
Biodiesel word vervaardig van groente-olies wat hoofsaaklik afkomstig is van kanola, sonneblom, sojabone, palmpit en kokosneut. Hernubare diesel, met kanola as potensiële grondstof, word in die wêreldmark as die volgende groot ontdekking beskou.
Gedurende ’n toespraak in Maart vanjaar het die uitvoerende direkteur van die Kanadese Oliesaadvervaardigersorganisasie die volgende te sê gehad oor kanola as grondstof vir biodiesel: “As jy ’n trekker het wat met konvensionele fossieldiesel werk en jy wil dit met ’n hernubare bron vervang, kan jy daardie trekker op 100% hernubare diesel laat loop. Dit is ’n bewese en lewensvatbare oplossing om koolstof uit vervoerbrandstowwe te verwyder. Boonop word dit regtig ’n belangrike stuk beleidsontwikkeling volgens biobrandstofprogramme in Kanada en die VSA.”
In beide hierdie Noord-Amerikaanse state word daar alreeds beplan om die perskapasiteit oor die volgende paar jaar geweldig uit te brei. In die Kanadese, Europese en Amerikaanse mark word daar tans ongeveer 2,5 miljoen ton se kanolasaad gebruik vir biobrandstofproduksie. Die verwagting is dat hierdie syfer tot 5 miljoen ton kan styg in 2026 en tot 8 miljoen ton in 2030.
Die Hernubarebrandstofstandaard (RFS) is ’n groot dryfveer vir die groei van hernubare brandstowwe. Hoewel Kanada langer gevat het om soortgelyke regulasies in plek te stel, het hulle in Julie 2023 hul Skoon Brandstof-regulasie bekendgestel. Anders as die VSA se regulasies, vereis dit nie dat ’n sekere hoeveelheid biobrandstof produseer word nie, maar eerder dat die koolstofintensiteit van die brandstof verminder moet word. Koolstofintensiteit word gedefinieer as die emissies wat vrygestel word deur iets te produseer, gedeel deur die volumes wat uit daardie produksie voortspruit. Dit word uitgedruk in emissies per eenheid van uitset.
Hierdie regulasies het ook bygedra tot die ontwikkeling van die koolstofkredietmarkte in Kanada en die VSA.
Sojabone
In die laaste 20 jaar het die VSA se sojaboonproduksie met ongeveer 43% gestyg, met verbeterde opbrengste van die energiesektor wat as die hoofdrywer genoem word.
Die oplewing in die VSA is beïnvloed deur regulatoriese raamwerke wat deelname aangespoor het, soos die Hernubarebrandstofstandaard (RFS) en die California Low-Carbon Fuel Standard (LCFS), wat ambisieuse teikens vir lae koolstof gestel het vir brandstofverbruik. Ander meganismes soos biomassa-gebaseerde dieselmengselkrediete (BTC) en hernubare identifikasienommers (RIN’s) was ewe belangrik as aanmoediging om bedryfsdeelname te bevorder (AMIS, 2024). Tesame met die oplewing in produksie en gevolglike regulasies, het daar ook nuwe tegnologie na vore gekom. RIN’s kan byvoorbeeld gebruik word as ’n winsgewendheidaanduier vir die bedryf omdat hulle in markte verhandel kan word.
Vermengingsmandate het ’n stormloop onder Amerikaanse brandstofvervaardigers veroorsaak, wat gevolglik hul bestaande fossielbrandstofaanlegte omskep het na produksiefasiliteite vir hernubare diesel. Hierdie oplewing in biobrandstofproduksie het ’n toename in die vraag na sojaboon- en ander plantaardige olies, insluitend kanola-olie, tot gevolg gehad.
Weens verhoogde aanbod- en produksievermoë het die pryse van RIN met ’n merkbare 75% gedaal tussen middel 2023 en Mei 2024, wat tot gevolg gehad het dat party biobrandstofaanlegte stilgestaan het of teruggekeer het na fossielbrandstofproduksie. Winsmarges wat onder druk is, kan ’n impak hê deur die hele voorsieningsketting – vanaf die verwerker tot by die plaashek van die oliesaadprodusent. As gevolg van die voortdurende margeknyptang is daar veranderings in proses vir die BTC wat geskeduleer is om deur Skoon Brandstof-produksiekrediete (CFPC) vervang te word teen die begin van 2025. Anders as die BTC, is die CFPC ontwerp om mededinging van ingevoerde biodiesel te verminder om die aanbod beter te bestuur en winsgewendheid binne die sektor te bevorder. Dit hanteer dus sommige van die onsekerhede wat deur Amerikaanse produsente uitgelig is. Die oorgang sal ongetwyfeld ’n impak hê op die grondbeginsels van die globale vraag en aanbod van groente-olie.
Gevolgtrekking
Die ontwikkeling in die produksie van hernubare energie beklemtoon die dinamiese en voortdurend ontwikkelende landskap van groente-oliemarkte midde-in die voedsel-energie-verhouding. Dit sal noukeurige monitering en analise vereis deur Graan SA se ekonomiespan om beter begrip vir biobrandstofbeleide en die implikasie daarvan vir die vraag- en aanbodbalanse in die oliesadekompleks te hê.
Bron
AMIS, 2024. Markverslag nr. 119, Junie.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.