Waardetoevoeging die geheim by VLEISBEESPRODUKSIE

Gepubliseer: 5 Junie 2024

58
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Die 2023/2024-produksiejaar is gekenmerk deur ondergemiddelde reënval oor die grootste gedeelte van Suid-Afrika. Dit het veroorsaak dat weiding beperk is en ge­volglik het produsente ekstra vee verkoop.

Kombineer hiermee verbruikers wat al hoe minder geld het om aan luukses soos vleis te spandeer en ’n skerp daling in die produsenteprys van vee was onvermydelik. Vee-insette het boonop gestyg, hoewel nie so skerp soos die vorige jaar nie. Dit is dus vir seker duurder om vleis te produseer.

Winsgewendheid bly ’n uitdaging in beide die vee- en saaibedryf. Om winsgewendheid in die veebedryf te verbeter, moet produsente die doeltreffendheid en effektiwiteit van die hele produksie­proses verhoog. Al word daar tussen stelsels gewissel, bly die uitkomste grotendeels dieselfde. Effektiwiteit en doeltreffendheid moet daartoe lei dat die kalfpersentasie so hoog as moontlik bly, aangesien dié persentasie in ’n groot mate die winsgewendheid bepaal. In Tabel 1 word die winsgewendheid per grootvee-eenheid van ’n 18-maandespeenkalf­bemarkingstelsel en ’n tradisionele speenkalfbemar­kingstelsel getoon.

Uit hierdie inligting is daar nie veel te kies tussen hierdie twee stelsels nie. Die beginsel bly dat ’n hoë kalfpersentasie gehandhaaf moet word.

Bemarking
Produksie kan optimaal wees, maar bemarking speel ’n deurslaggewende rol. Die eindverbruiker soek smaaklike, bekostigbare vleis in sy bord en produsente moet dit kan voorsien. Genetika is belangrik in hierdie verband. Voerkrale wil ’n gesonde dier koop wat in die voerkraal gaan groei en waarop ’n wins gemaak kan word. Die meeste voerkrale poog ook om hul vleis se naspeurbaarheid te verseker en daarom behoort hulle vir kwaliteit te vergoed. Of produsente dit wil weet of nie: Voerkrale verkies sekere tipes diere en hier speel bouvorm en ras ook ’n rol.

Speenkalfprodusente moet seker maak die voerkraal weet van hul kwaliteit. Bly dus in kontak met hulle om te weet hoe jou diere daar presteer. Sorg dat jou speenkalwers onderskeibaar van ander is en nie sommer net as kalwers geklas word nie. As jou diere konstant goed in die voerkraal presteer, sal die voerkraalaankoper vir seker vir jou ’n premie begin betaal.

Die verskillende stelsels het verskillende bemar­kingstye en verskillende tipes diere sal bemark word. Die lentekalfspeenkalfstelsel sal hoofsaaklik speenkalwers asook ou diere tydens April bemark, terwyl die 18-maandestelsel hoofsaaklik afgeronde 400 kg-beeste gedurende Maart tot Mei aan die mark lewer. In ’n 36-maandebemarkingstelsel sal volgroeide, afgeronde osse gedurende Oktober tot Desember aan die mark gelewer word. Vir al hierdie tye is daar sonder twyfel verskillende pryse wat geld en is dit belangrik om die markvraag-en-aanbod in ag te neem.

In Grafiek 1 word die langtermyntendense van produsentebeesvleispryse van A- en C-grade en speenkalwers aangetoon.

Grafiek 1: Beesvleisprysindeks (sedert 2020).
Bron: AMT

Gewoonlik is die C-grade goedkoop wanneer die ou koeie verkoop word. Dit maak sin om eerder die ou koeie later te verkoop en eers waarde tot hulle toe te voeg.

A-grade se prys het ook sekere tendense. Dis laag in Junie en Julie waarna dit styg tot Desember en tydens die Kerstyd ’n hoogtepunt bereik. Die A-grade daal dan tot einde Februarie waarna dit weer tot April-maand styg en dan weer daal. Wees bewus hiervan wanneer vleis bemark word. Die hoofdrywer van pryswisseling is die aanbod en aanvraag na vleis.

Die speenkalfprys in Grafiek 1 toon dat daar heelwat korrelasie tussen algemene vleisprystendense en die produksiesiklus van speenkalwers is. Die pryse is laag in die tyd as daar ’n ooraanbod van vee is en styg wanneer daar ’n tekort is. Soos in die grafiek gesien kan word, is die algemene speenkalfpryse laag van Maart tot en met Junie, wanneer die pryse weer begin styg tot Desember.

Waardetoevoeging
Waardetoevoeging kan ’n belangrike manier wees vir produsente om hul veevertakking se inkomste te verhoog. Deur net op die bulle wat aangekoop word en hul kalwers se resultate in die voerkraal te fokus, is dalk ’n eenvoudige manier om waarde toe te voeg. Dit maak egter geen sin nie om baie geld aan teling te spandeer en kwaliteitkalwers wat groei te produseer om dit dan sonder ’n premie te verkoop. As daar nie ’n premie vir kwaliteit in die mark is nie, moet produsente oorweeg om self waarde toe te voeg.

Om waarde tot die vleisbeesvertakking toe te voeg, begin met goeie kennis en genoeg geld. Suksesvolle produsente bly op hoogte van dierevoeding, -gesondheid en -bestuur en het boonop ’n span kundiges wat kan adviseer in hulle kraal.

In praktyk begin intensiewe vleisproduksie by goeie dieregenetika wat die waardetoevoegingstelsel sal pas en diere wat die vermoë het om die voer winsgewend in vleis om te sit. Fasiliteite moet van so ’n aard wees dat die diere so effektief en doeltreffend moontlik gevoer word. Bemarking is verder van deur­slaggewende belang. Jy kan nie net die diere by die slagpale aflaai nie! Kry vir jou kopers aan die agterkant wat dalk weer ’n premie vir jou kwaliteiteindproduk sal betaal en maak die bestellings vas voordat die proses begin word. Probeer om die prystendense na te volg en wees in die mark as daar hoër pryse verwag word.

Hou in gedagte dat voerkrale op ’n lae winsmarge met ’n groot omset werk – só maak hulle ’n goeie wins. Dit is ’n stelsel waar geldmaak moeilik is vir produsente. Benut dus jou hulpbronne goed en wend dit aan om die beste stelsel vir jou plaas en omgewing te identifiseer en te ontgin.

Deesdae is daar gereeld nuwe stelsels in omloop om waarde toe te voeg. Dit maak nie werklik saak watter stelsel gevolg word nie – die kruks van die saak bly: Waarde moet toegevoeg word en die toegevoegde waarde moet in kontant omgesit word.

Voervloei
Produsente wonder oor hoe om dit reg te kry. Voervloeibestuur is die beginpunt. Permanente aangeplante weiding is ’n nuttige hulpbron om te hê – dit kan gemanipuleer word deur ekstra te bemes en deur hooi te maak. Op heelwat plase is daar ’n bietjie Oulands- of Smutsvingergras beskikbaar. Bemes hierdie aangeplante weiding en bewei dit met diere, maar verkoop die vleis wat op hierdie weiding aangesit is.

Vir besproeiingslande is daar deesdae ’n moeitewerd alternatief – die besproeiing van veral meerjarige raaigras. Indien hierdie gewasse reg bestuur word, kan baie vleis per hektaar op lang termyn geproduseer word. Sommige produsente praat van tot 25 300 kg kalwers (vleis) per hektaar vir twee siklusse van 180 dae. In die literatuur word hierdie gewasse ook wyd beskryf. Van die raaigraskultivars soos Bandito 2, Rockstar en Kingsgate se produksie kan tussen 7 en 20 ton droë materiaal per hektaar per seisoen lewer. Meerjarige kultivars kan tot drie jaar in ’n land staan voor dit hervestig moet word.

Hierdie raaigras moet verkieslik met hoëdrukrotasiebeweiding benut word en die weiding moet op gereelde basis besproei en bemes word. As hier afgeskeep word, sal produksie skerp daal. Diere op die aangeplante weiding groei besonder goed, maar dit is belangrik dat hierdie stelsel gebruik word om markklaar diere te produseer wat geslag en as vleis verkoop word. Die bestuur van die weiding is van kritieke belang. Sorg dat dit voldoende water kry, op tyd bemes word en dat dit op tyd bewei word om sodoende optimale produksie te verkry. Op hierdie hoog bemeste weiding moet diere ook toegang tot droë materiaal hê en daar moet addisionele voer vir optimale groei gegee word.

Maak seker dat drukbeweiding toegepas word en dat die diere gereeld geskuif word.

Besproeide permanente weiding se winsgewendheid is ook uiters goed. Onlangse studies toon dat die weiding met jong groeiende beeste die winsgewendheid van mieliewisselboustelsels met koring en sojabone (drie oeste in twee jaar) verreweg geklop het.

Vir besproeiing kan alternatiewe soos besproeide hawer ook sinvol aangewend word. Die weiding kan dalk direk na vroeë mielies in produksie kom en hierdie weiding kan omgewerk word om weer betyds te wees vir die aanplant van ’n besproeide somergewas. Hierdie stelsel is winsgewend en lewer ook diere wat markklaar kan wees.

Watter stelsel jy ook al wil implementeer, maak seker dat dit vir jou sal werk voor jy daarmee begin. Win kenners se advies in en maak van spesialiste gebruik.

Vir meer inligting omtrent die verskillende produksiestelsels kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.