SO LYK SAADPRYSE in die nuwe seisoen

Gepubliseer: 5 Junie 2024

516
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Deurlopende insetprysmonitering is een van die belangrike funksies wat graan sa namens sy lede verrig. Die monitering van saadpryse – nie net jaarliks nie maar oor tyd – is deel
hiervan. Graan SA poog om saadpryse so deursigtig as moontlik te maak en kompetisie in die saadbedryf te bevorder om te verseker dat sy lede kompeterende pryse betaal en ingeligte besluite neem.

In Suid-Afrika word daar tans intensief op kunsmis- en energiepryse (veral brandstofpryse) gefokus weens die groot effek wat hierdie twee faktore op insetkoste het. Die brandstofprys, wat onlangs in die soeklig gekom het, is verantwoordelik vir ongeveer 13% van totale veranderlike koste. Afhangende van die plantestand, maak saad as produksie-inset tussen 10% en 17% van ’n mielieprodusent se produksiekosterekening uit. Daar word relatief min op hierdie inset gefokus alhoewel dit in party gedeeltes van die land ’n groter effek as brandstofpryse het.

Saadinsetkoste kan in ’n mate as ’n belegging gesien word. Saad met beter genetika wat geteel is vir spesifieke toestande is duurder as gewone kultivars, maar hierdie gespesialiseerde saad gaan heel moontlik lei tot beter opbrengs en hoër weerstand teen siektes. Dit behoort ook beter bestand te wees teen uiterste weersomstandighede. Met al hierdie faktore in ag geneem, behoort ’n spesialiskultivar dus die winsgewendheid van die produsent te verbeter.

Die teling-en-tegnologieheffing wat deur die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) ingesamel word, het reeds heelwat sukses behaal:

  • Oor die afgelope jaar is daar 67 nuwe sojaboonkultivars geregistreer.
  • Nuwe tegnologie is goedgekeur en is besig om gekommersialiseer te word. Die Intacta RR2-geen is gemik op bolwurmbeheer en daar behoort hierdie seisoen voldoende Intacta RR2-saad beskikbaar te wees. Corteva se Concesta E3-tegno­logie is goedgekeur en behoort binne ’n jaar of twee gekommersialiseer te word. Bioceres se HB4-droogtebestande geen is ook reeds ingedien vir registrasie by die GMO-wetgewer.
  • Nuwe saadmaatskappye het die mark betree, wat groter kompetisie in die mark teweegbring.

Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ’n verskeidenheid eienskappe en elkeen het dus ’n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Graan­gewasse in Potchefstroom stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne vir kultivarbeplanning wat oorweeg moet word:

  • Moet nooit ’n staatmakerkultivar binne een seisoen met ’n nuwe of onbekende kultivar vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ’n reeks kultivars wat verskil in groei­seisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ’n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër- en laerpotensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Saadpryse
Mieliesaadpryse het vir die 2024/2025-produksieseisoen gemiddeld met 6,1% (13,9% in 2023/2024) gestyg. Op ’n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 3,7% (15,7% in 2023/2024) gestyg en graansorghumsaadpryse met 7,6% (16,6% in 2023/2024). Sojaboonsaadpryse het gedaal met 3,8% (dit het met 15,2% gestyg in 2023/2024). ’n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2024 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 4,6%, maar in vergelyking met Maart 2023 het die PPI met 11,8% gestyg jaar op jaar. Dit wil sê, op ’n gemiddelde basis het saadpryse (behalwe sojabone) teen ’n hoër tempo as produksiekoste-inflasie gestyg. Produsente is tans ongelukkig oor die toename van veral sojaboonsaadpryse waar die nuwe Intacta RR2-tegnologie ter sprake is.

Sien meegaande tabelle vir prysver­gelykings in rand tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgrootte en saadbehandeling (DP/sak = duisend pitte per sak).

Riglyne met die aankoop van saad
Met die aankoop van saad is daar ’n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, byvoorbeeld 18 kg-, 20 kg- of 25 kg-sakkies of pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings met 150 000 en 180 000 pitte per sakkie en by sojabone 60 000 pitte, 140 000 pitte en 25 kg-sakke beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ’n nuwe kultivar loop nie!
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe (aanpasbaarheid, opbrengspre­stasie en -stabiliteit), kwaliteitseienskappe asook siekte- en plaagweerstand van ’n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word.
  • Maak seker tydens aankope dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes voldoen (ook dit wat op die sakkie staan), veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dub­belgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die prys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Almal wat die saad hanteer, moet GM-eienskappe op saad­sakke kan uitken en dit van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ’n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir kortings waar moontlik. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume-aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonder­hede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad
Saadmaatskappye waarborg nie die kwaliteit van saad indien saadbehandeling nie deur die maatskappy self of deur ’n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie. In die geval waar ’n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit. Dit is ook raadsaam dat produsente by saadmaatskappye inligting kry oor die Rhizobium wat die beste op hul kultivars werk.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat onbehandelde saad aankoop en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies
Met die aankoop van Bt-saad word ’n tegnolo­gie-ooreenkoms onderteken waarin ’n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belang­rikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: óf ’n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ’n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mie­lies wat aangeplant word uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplanting van ’n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder meer so geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie. Ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting moet gedek word, dit mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word moet dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en dit moet binne sewe dae van mekaar geplant word.

Riglyne vir die aanplanting van Intacta-saad
’n Toevlugsarea is van kardinale belang by die aanplanting van Intacta-sojaboonsaad om die tegnologie vir die toekoms te be­skerm.

’n Gedeelte van die land word nie met die Bt-kultivars geplant nie, maar wel met RR-kultivars sodat ’n sekere deel van die Afrika-bolwurm­populasie nooit aan die Bt-tegnologie blootgestel word nie. Dit word gedoen sodat daar altyd ’n populasie Bt-vatbare motte is om met Bt-weerstandige motte te paar sodat die volgende geslag weer eens Bt-vatbaar is. Bayer verskaf die volgende riglyne:

  • Die minimum aanbeveling vir hierdie toevlugsarea (nie-BT-kultivar) is 20%.
  • Toevlugsarea moet binne sewe dae vanaf die Intacta-aanplan­ting geplant word.
  • Dit moet binne 400 m wees vanaf die Intacta-aanplanting in dieselfde land.
  • Die toevlugsarea moet met insekdoder behandel word (uitsluitend Bt-bevattende produkte).
  • Variëteite met dieselfde groeiklas moet gebruik word.
  • ’n Minimum van ses rye word vereis.
  • Die toevlug moet op dieselfde plaas wees met dieselfde groei-omstandighede.