Opgeleide ambagslui gesog op plase

Gepubliseer: 5 junie 2024

133
Jan Greyling,
UXI Artisan Development

Geakkrediteerde, gekwalifiseerde ambagslui is ’n onontbeerlike deel van ’n suksesvolle en volhoubare landboutoekoms. Om die waarheid te sê, al hoe meer internasionale en Suid-Afrikaanse regerings­leiers en ekonome praat oor die noodsaaklike rol van ambagsvaardighede in die toekoms.

Volgens Elsie Harmse, die HUB van UXI Artisan Development, sal die opleiding en indiensneming van meer gekwalifiseerde ambagslui die tekort aan vakmanvaardighede wat bestaan verminder. Boonop sal die kontraktering en toenemende indiensneming van vakmanne wat teoreties gekwalifiseer is en ervaring in die werkwinkel en werklike werkplek het, langtermynbesparing op plase meebring.

Of dit nou gaan oor lekkende pype, nuwe waterstelsels, ordent­like selfdoen-staal- en -sweiswerk, die insit van nuwe sonkrag- of elek­triese toerusting of die regmaak van bestaandes, of dalk net die bou van ’n nuwe skuur of plaashuis, ambagte is die toekoms.

Om koste op lang termyn ten beste te bestuur sal dit beslis help as die man of vrou aan die stuur van sake ’n gekwalifiseerde vakman is. Nuut gekwalifiseerde rooiseël-sonkrag-PV-installeerders en -ontwerpers, sweisers, ketelmakers, elektrisiëns, meganiese passers, dieselwerktuigkundiges, loodgieters en elektromeganiese tegnici se insig, visie, handvaardigheid en kopkennis is ’n langtermynbate vir die graanprodusent.

Ambagte wat op plase nodig is
Oor die afgelope twee dekades het presisietegno­logie die produsent se onmisbare vennoot geword. Dit is egter die toegepaste kennis en ervaring van geakkrediteerde ambagslui as deel van die boerdery wat op medium- en langer termyn besparings op daaglikse seisoenale werk verseker.

Op ’n graanplaas sal gekwalifiseerde sweisers se kennis van metale en las­tegnieke op verskillende me­taaltipes kopsere met die sny, posisionering en voorbereiding van materiale vir verskillende sweistegnieke ondervang. Hulle help die produsent bespaar aan kontrakteurkoste met onder meer gassweiswerk, TIG, plasma-snywerk, MIG en gassnywerk.

’n Meganiese passer kan van groot nut op die plaas wees om metaalkomponente meer kostedoeltreffend vir die vervaardiging van produksie- en verwer­kingstoerusting te maak. Hulle gebruik ook die nuutste tegnologie en gereedskap om planttoerus­ting in stand te hou deur geslyte onderdele tydig op te spoor en met presisiemeetinstrumente na te gaan vir akkurate passing.

Met alternatiewe energie wat integraal deel van die primêre somer- en wintergraanraamwerk is, word sonkrag-PV-installeerders en elektrisiëns onlosmaaklik deel van die toekomspad. Sonkragtegnici se rol in die ontwerp en installasie van toerusting is toe­nemend belangrik om energiekoste te verminder en energie-onafhanklikheid te verhoog. Hul kennis rakende die gebruik van sonkrag in besproeiingstelsels, graandroog- en -stoortoerusting asook residensiële energiebehoeftes sal vir seker help om koste te bespaar.

Gekwalifiseerde elektrisiëns sorg vir nuwe installasies, elektriese instandhouding, elektriese herstelwerk, besproeiingstelselinstandhouding, die outomatisering en beheer van stelsels, probleemidentifisering, elektriese opgraderings, kragopwekkerinstandhouding en noodherstelwerk.

Op graanplase is daar werk vir industriële elektrisiëns, landbou-elektrisiëns, elektriese tegnici, outomatiseringtegnici asook – afhangend van plaasgrootte, toerusting en die operasionele vereistes – elektriese ingenieurs.

Produsente het dus verskeie redes om die aanstelling en bevordering van gekwalifiseerde, bekostigbare jongmense te oorweeg in hul strewe om graan optimaal en volhoubaar met so min moontlik onderbrekings te produseer.

Pas-en-draai-vakleerlinge van die Durnacol Skills Hub by Newcastle in KwaZulu-Natal kry geleentheid om hul nuwe kennis in die werkswinkel toe te pas.
Foto: UXi Artisan Development

Geakkrediteerde opleiding
Volgens Harmse help hulle, met die hulp van geakkrediteerde ambags- en landboukundige fasiliteerders (ook in Plantkunde NQF5 en in Dierkunde NQF5), landbousektor-­­wer­kers by nege opleidingsentra landswyd om uitstekend te vaar as produ­sente, plaasbestuurders of plaaswerkers. Hulle bied op­leiding aan in meer as 20 ambagte wat geakkrediteer is deur die Qualifications Council for Trade and Occupations (QCTO) en SETA. Ervare werknemers kan inskryf vir kursusse wat bestaan uit teoretiese, praktiese en werksplekervaringkomponente.

Saam met vooruitgang in veral landboutegnologie, bly ’n ge­kwalifiseerde werknemer met die kundigheid om gewone dagtake suksesvol en vindingryk te laat verloop, ’n noodsaaklike bate vir wins­gerigte graanproduksie. Dit is hier waar die noodsaaklike onderbou van ’n knap plantproduksietegnikus en die nut van internasionaal erkende rooiseël-sertifikaat-ambagslui, ook op die graanplaas, deur­slaggewend word.

Harmse sê verder: “Dit is nie net skoolverlaters en jongmense wat by lewensveranderende ambagsopleiding baat nie. Deur die RPL-stelsel (Recognition of Prior Learning) kry werknemers wat reeds drie of meer jaar ervaring in byvoorbeeld sweis, loodgieterswerk, elektrisiteit of as ’n skrynwerker of ’n bouer op die plaas of in ’n ander bedryf het ook die geleentheid om getoets en afgerond te word om ’n formele kwalifikasie te verwerf. Deur RPL kry produsente die geleentheid om hul werkers se potensiaal te ontgin en hul lewens te verbeter.

Graanproduksie is geensins meer net ’n sogenaamde tradi­sionele bedryfsvertakking soos wat daar deur die eeue heen na onder meer saaiboerdery verwys is nie. Net so is moderne, geakkrediteerde en beproefde vakmanskapopleiding nie net meer op handewerk gebaseer nie. Vandag is ambagslui ’n groot bate vir enige boerdery.

Om te help om die druk te verlig op produsente, wat telkens die natuur se aanslae soos oorstromings en droogtes moet trotseer, is ’n kundige en ervare ondersteuningspan op die plaas ’n belangrike bestuurshulpmiddel. Soos die tegnologie is hardwerkende, slim vakkundiges ’n noodsaaklikheid vir ’n volhoubare toekoms in die saaibedryf.

Of jy ’n plaasseun of -dogter of ’n dorps- of stadsjapie is wat passievol droom oor ’n plaaswerk as ’n dier- of plantkundige of as ’n sweiser, bouer, elektrisiën, skrynwerker of ’n dieselwerktuigkundige of outo-elektrisiën om na die plaas se voertuie om te sien, daar is ’n kursus vir jou. Boonop kan produsente hul huidige werksmag se kennis en ervaring opgradeer deur die RPL-opsie vir vinnige evaluasie en voorbereiding vir vakmanskaptoetse.

Vir meer inligting besoek www.uxi-ad.co.za / www.africaskills.co.za.