MEER AS NET BOER

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 5 Junie 2024

60

Pieter de Jager, 2023 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar, glo dat jy in harmonie met die natuur moet boer om volhoubaar te produseer.

Hierdie produsent van Wiehmansfontein naby Albertinia is passievol oor boerdery en het, sedert hy in 2003 begin boer het, geleidelik ’n graanvertakking tot die boerdery toegevoeg. Dit het gegroei tot waar graanverbouing vandag die hoofaar van die boerdery is. Deur die implementering van bewaringslandboupraktyke en die nuutste tegnologie het Pieter bewys dat “as jy na die grond kyk, sal die grond na jou kyk”.

Pieter de Jager, Graan SA se Graanprodusent van die Jaar vir 2023.

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg
Al is Pieter die vierde generasie van De Jagers wat boer, is hy die eerste een wat primêr op graan fokus. Sy pa het die grondslag vir veeboerdery gelê en in 1980 die eerste keer graan geplant, maar 80% van die boerdery het steeds uit ’n veekomponent bestaan. Pieter het van 2010 af meer intens op graanverbouing begin fokus met die oog op hoër winsgewendheid vir die boerdery. Vandag maak graan ongeveer 80% van die De Jagers se boerdery-onderneming uit, met die veevertakking – Merino-skape en Brangus-vleisbeeste – die ander 20%.

Die oorgang van vee na graan was nie ’n maklike een nie – Albertinia word nie beskou as ’n area met geskikte saaigrond nie. As gevolg van faktore soos die wisselvallige reënval en gronddegradasie, het graanproduksie in dié streek oor die jare verminder en is dit as ’n hoërisikogebied vir die produksie van graan beskou. Pieter het ook nie tydens sy studies op graanproduksie gekonsentreer nie. Hy het nadat hy gematrikuleer het ’n diploma in landboubestuur en ’n BTech-graad aan die Nelson Mandela-universiteit (NMU) se Saasveld-kampus in George verwerf en daarna ’n nagraadse MTech-kwalifikasie in landbou.

’n Wisselboustelsel met koring en kanola word gevolg.

Nadat Pieter aanvanklik konvensionele bewerkingsmetodes toegepas het, het hy kers opgesteek by ’n medeprodusent wat reeds geenbewerkingspraktyke geïmplementeer het. Dié produsent het gehelp met die plantery op Wiehmansfontein omdat hulle nog nie die gepaste planter gehad het nie. Toe dit duidelik word dat dié metode vir Wiehmansfontein gaan werk, het die De Jagers die groot stap geneem om ’n geskikte planter vir hulle tipe grond te koop. “Ons moes hamels verkoop om die regte planter aan te skaf,” vertel Pieter. Hy was gedetermineerd om ’n sukses van die graanboerdery te maak. Om dit te doen, moes hy eers die grondstatus regstel. Dit was die begin van ’n nuwe era vir die De Jager-boerdery en Pieter kyk nie terug nie.

Vandag word ongeveer 3 000 ha droëlandkontantgewasse hier verbou waarvan koring die grootste aanplantings verteenwoordig, gevolg deur kanola, radyse en lupiene. Weiding en aangeplante weiding maak die som van die kontantgewasboerderybedrywighede op.

Produksiepraktyke behels ’n langtermynwisselboustelsel op die hoërisikogronde waar lusern geplant word tot dit nie meer ekonomies is nie of kweek ’n probleem word. Dan word dit vervang met twee of drie jaar se koring of kanola vir onkruidbekamping, waarna lusern weer gevestig word. Op gronde met ’n laer opbrengsrisiko word aanhoudende gewasverbouing (continuous cropping) toegepas sonder enige rusfase. Hierdie lande word tipies met breë­blaar- en grasgewasse afgewissel, byvoorbeeld kanola en koring. Kleingraangewasse word op alle gronde behalwe die laepoten­siaalgronde geplant.

Die trotse De Jager-familie nadat Pieter as die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangekondig is: Helmien de Jager, Rita de Jager, André de Jager, Pieter en sy vrou, Marié de Jager, Derek Mathews (voorsitter van Graan SA), Pieter de Jager sr. en Christian Giesel (bemarkingshoof van Syngenta).

In harmonie met die natuur
Tydens sy skoolloopbaan aan die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het Pieter reeds kennis gemaak met die beginsels van bewaringslandbou. Hy vertel dat een van die onderwysers al in 1994 voorspel het dat bewaringspraktyke die toekoms van landbou gaan wees. Oakdale-leerders het ook besoek gebring aan die plaas van Jack Human, wat beskou word as die baanbreker van bewaringslandbou in die Wes-Kaap. (Jack is in 2023 postuum deur Graan SA vereer vir sy rol in die bekendstelling van bewaringslandboustelsels.)

Die transformasie na bewaringslandbou was ’n geleidelike proses. Pieter het van 2003 af stelselmatig na geenbewerking begin oorskakel. Hy het touwys geword by ’n buurman wat dit reeds toegepas het en verder self navorsing gedoen in hierdie manier van grondbestuur. Sedertdien is konvensionele bewerking nog nooit weer toegepas nie.

Bewaringslandbou se voordele het vinnig vir Pieter duidelik geword, veral omdat hy graan in ’n marginale reënvalarea verbou waar vogbewaring in die somer van kardinale belang vir wintergewasse is. Albertinia ontvang gemiddeld meer somerreën en minder winterreën as ander dele van die Wes-Kaap. Om te verhoed dat grondvog verlore gaan, word oesreste op die grond as deklaag gelaat en someronkruid word chemies beheer om grond onversteurd te laat. Die hoër grondvoginhoud help om erosie te verminder en het ook ’n positiewe invloed op risikofaktore in droër jare. Pieter glo dat die bewarings­bewerkingstelsel ’n groot rol in die sukses van sy graanboerdery speel.

Volstoom aan die plant.

Hoekstene van die boerdery
Pieter glo boerdery begin by goeie finansiële bestuur. Die boerdery word as ’n besigheid bestuur en alhoewel langtermynvolhoubaarheid nagestreef word deur graan in harmonie met die natuur te produseer, word feitlik alle besluite met wins­gewendheid in gedagte geneem. Pieter het ’n voorliefde vir die gebruik van data – vir finansies en vir administrasie. Hy hanteer self die finansiële beplanning, betalings en sekere van die administratiewe take om seker te maak kontantvloei word gemonitor. “Jy kan nie net fokus op produksie nie; jou finansies moet ook goed bestuur word.”

Vir rekordhouding gebruik hy ’n Austra­liese sagtewareprogram, agCommander, wat onmiddellik ’n oorsig kan gee oor die bruto marge per hektaar. Die inligting word deurlopend bygewerk om die daaglikse uitgawes en inkomste en dus die winsgewendheid van elke land te meet en met ander lande te vergelyk sodat tred gehou kan word met die plase se prestasie.

In die laat 1990’s en vroeë 2000’s het graanproduksie in dié streek tot stilstand gekom weens onder meer wisselvalige reënval en oorbewerking wat gronddegradasie tot gevolg gehad het. Volgens Pieter neem graanproduksie weer toe danksy die toepassing van bewaringslandboupraktyke.

Vanweë ’n onversadigbare honger na inligting en kennis, is navorsing vir Pieter van groot belang. Hy vertel dat hy nog altyd versigtig was vir waar hy sy inligting vandaan kry en nie sommer inligting lukraak aanvaar nie. Hy probeer dus om nooit “oor die draad te kyk” nie, maar doen liewer self navorsing om uit te vind wat vir die unieke omstandighede op Wiehmansfontein sal werk.

“Boerdery het kompleks geraak. Daar is ’n magdom inligting wat vryelik beskikbaar is. Twintig jaar terug se inligting is vandag gelyk aan omtrent 20% van wat jy moet weet. Vandag moet ’n boer kennis hê oor finansies, plantkunde, meganisasie en tegnologie. Dan moet jy nog ’n filosoof, strateeg en rekenaarvaardig wees!”

Presisieboerdery is nog ’n hoeksteen waarop sy sukses berus. Hy het dit reeds in 2008 begin toepas deur die toediening van kalk en makro-elemente soos kalium, stikstof en fosfaat volgens grondontledings wat op elke tweede hektaar gedoen word. Die benadering balanseer die verskille in die lande uit en voorkom dat sekere dele te veel en ander te min bemes word.

Sy verbintenis tot presisiepraktyke is onwrikbaar, aangesien hy die doeltreffendheid wat deur tegnologie behaal word, beklemtoon. Hy streef daarna om elke vier­kante meter van die grond individueel te bestuur om sodoende die grond so produktief moontlik te benut. Alhoewel tegnologie duur is, is dit volgens hom deur en deur die moeite werd en word dit as ’n langtermynbelegging gesien.

Bemesting en grondregstellings word na gelang van grondontledings en bemestingbehoeftes gedoen.

Sukses só gebou
“As jy suksesvol wil wees, moet jy verantwoordelikheid neem vir jou eie besigheid. Jy kan niemand anders blameer as daar fout gaan nie – ander mense help jou, maar die verantwoordelikheid is joune,” gesels Pieter oor een van sy wenke vir sukses. “Niemand kan beter werk met jou geld as jyself nie. Ons moes skape verkoop om ’n planter te koop – ek moes verantwoordelikheid neem vir daai besluit of dit uitgewerk het of nie.”

Pieter raai ander aan om goeie finansiële bestuur toe te pas en gesonde finansiële praktyke na te streef. “Dit help nie jy spandeer ’n klomp geld op grondgesondheid maar dan is daar nie geld vir diesel as jy wil plant nie.” Hy glo ook dat ’n mens nie na ander se doen en late moet kyk nie. “Leer by ander maar kyk wat werk vir jou unieke situasie.”

Dit is belangrik om die beste inligting te bekom om goeie be­sluite vir die boerdery te neem. Vra vrae – want so leer ’n mens – en waak teen vals inligting.

Menseverhoudings is uiters belangrik. Bou goeie verhoudings met arbeiders, insetverskaffers en die gemeenskap. Kry betroubare handelsvennote – insetverskaffers wat nie net hul produk wil bemark nie. Volgens Pieter het ’n dosent vir hom gesê: “Jou beste vriende moet jou chemiese agent, kunsmisagent, rekenmeester en bankier wees, want as hulle jou vriende is, sal hulle jou die beste inligting gee en jou besigheid ook eerste stel.”

Stel doelwitte – medium- en langtermyndoelwitte. Dit is die enigste manier om te groei.

Laastens hoop hy dat boerdery elke produsent se passie is. “As jou werk jou passie is, het jy reeds gewen. Wees toegewyd, want dis harde werk en nie ’n agt-tot-vyf beroep nie. As jy dink jy is klaar, is daar altyd nog iets wat gedoen moet word.”

’n Klop op die skouer
Vir Pieter was die aanwysing as Graan SA se Graanprodusent van 2023 ’n groot eer. “Dit is lekker om er­kenning uit die bedryf te kry vir dit wat jy doen. So ’n klop op die skouer wys jy doen iets reg en mense sien dit raak.” Vir hom was die grootste waarde van die eva­luering dit wat hy oor homself geleer het gedurende die hele proses. “Dit gaan nie oor die wen nie, maar oor selfontwikkeling en ek glo dit is ook wat Graan SA daardeur wil bereik.”

Hy vertel dat die invul van die lywige vraelys hom goed laat nadink het oor homself en sy besigheid. Só het hy sterk punte ontdek en gesien in watter areas daar nog “skaafwerk” gedoen moet word. Nog voordat die finaliste in dié kategorie aangewys is, het Pieter vir Rossouw Swart, Graan SA-raadslid vir Streek 32, genoem dat daar vir hom baie waarde was in die invul van die vraelys. Hy het heelwat geleer uit die proses en ’n goeie geheelbeeld van sy boerdery-onderneming daardeur gekry.

“Dit was vir my ’n positiewe ondervinding omdat dit nie ’n opbrengs- of jaarkompetisie is nie. Dit gee erkenning aan dinge wat oor tyd ontwikkel het. Dis ’n proses wat terugkyk na hoe jy oor die jare as boer ontwikkel het. Jy leer jouself baie beter ken.” Dit is ook waarom hy ander produsente aanmoedig om hulself vir dié proses beskikbaar te stel.

Buiten vir dié toekenning, is een van Pieter se ander loopbaanhoogtepunte die deelname aan ’n TV-reeks wat deur Mzansi Story Labs en SSK ontwikkel is om ’n fokus op bewaringslandbou te plaas. Farming with nature is in 2023 op die VIA-kanaal uitgesaai. Die reeks is oor ’n jaar geskiet sodat die gebeure van elke seisoen vasgevang en gebeeldsend kon word. Pieter was een van ses produsente in die Suid-Kaap wat sy passie en die voordele van bewaringslandbou met kykers gedeel het.