Kollig op voedselwaardeketting met PLAASKOMBUIS-KONSEP

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 4 Junie 2024

113

Elke bord kos op die etenstafel is ’n bevestiging van ons almal se betrokkenheid in primêre landbou en dit is waarom Syngenta vanjaar besluit het om met Landbouweekblad hande te vat en die Plaaskombuis-konsep ’n werklikheid op die NAMPO-terrein te maak.

Die plaas-tot-bord-konsep van die Syngenta-Boerekos-Plaaskombuis wou die boodskap tuisbring van hoe belangrik voedselveiligheid en -beskikbaarheid is en hoe almal in die waardeketting ’n spesifieke rol en verantwoordelikheid het om dit te bewerkstellig.

Christian Giesel, hoof van bemarking by Syngenta Suid-Afrika, het tydens die bekendstelling van die Plaaskombuis beklemtoon dat daar geen twyfel by die maatskappy is dat die hele voedselwaardeketting op die verbruiker se etenstafel gefokus is nie.

Chris Burgess (Landbouweekblad-redakteur), dr Tobias Doyer (HUB van Graan SA), Arina du Plessis (Boerekos-redakteur) en Christian Giesel (hoof van bemarking by Syngenta Suid-Afrika) by die bekendstelling.

Gedurende die week het die Plaaskombuis, onder die bekwame leiding van die Boerekos-redakteur Arina du Plessis, die stoutste verwagtinge oortref. Besoekers het tougestaan om van die heerlike disse by die restaurant te koop en saam met hul gesinne en vriende te geniet. Die kos was elke dag uitverkoop – ’n bewys dat besoekers waarde heg aan restaurant-gehalte-kos by NAMPO.

“Met ons betrokkenheid wil Syngenta wys dat volhoubare kos­produksie moontlik is met die hulp van moderne tegnologie. Deel van ons volhoubaarheidsdoelwitte is om te verseker dat elke mens op aarde genoeg veilige kwaliteitkos het om te eet. Ons kan dit slegs bereik wanneer elke skakel in die waardeketting optimaal en verantwoordelik funksioneer,” het Giesel verduidelik.

Veelsydige produkte
“Die oogmerk van die Plaaskombuis-konsep is om te wys hoe veelsydig plaaslik geproduseerde produkte is en dat ons nie nodig het om eksotiese disse wat ’n hoë tol op die omgewing en die meeste huishoudelike begrotings plaas, in te voer nie. Die fokus moet eer­der op die plaaslike produksie van voedsel wees wat deur verbrui­kers verkies word. Verder moet die balans tussen hulpbronbewaring, optimale opbrengs en regverdige toegang tot die nuutste landbou­tegnologie gehandhaaf word.

Syngenta en Landbouweekblad het joernaliste genooi om op Maandag 13 Mei te kom proe aan die heerlike disse.

“Ons het grootskaalse kommersiële landbou nodig om in die behoeftes van ’n groeiende wêreldbevolking te voorsien,” het Giesel gesê en bygevoeg dat die landbou voortdurend sy sisteme en produksiemetodes moet verbeter.

Hy het daarop gewys dat daar reeds verstommende vooruitgang hiermee gemaak is en as voorbeeld genoem dat daar vandag gemiddeld 95% minder aktiewe bestanddele per hektaar toegedien word as in die 1950’s. “Ten spyte van die verminderde gebruik van chemiese middels, het opbrengste in dieselfde tyd meer as verdriedubbel danksy innovasie op die terrein van plantteling en produksiepraktyke.”

Dr Tobias Doyer geniet van die heerlike kos wat by die Plaaskombuis voorgesit is.

Wanneer dit by voedselveiligheid kom, weet Syngenta dat ’n veilige kosvoorraad met goeie landboupraktyke begin. Dit behels om te voorkom dat gewasse deur patogeniese mikroörganismes en toksiene besmet word en om gewasbeskermingsprodukte te gebruik wat nie mense, diere of die omgewing benadeel nie. “’n Landbouchemiese produk behoort net die pes wat beheer moet word, aan te val en moet spaarsamig toegedien word,” het Giesel benadruk. “’n Beduidende deel van vandag se gewasbeskermings­produkte het ’n natuurlike oorsprong en word so deeglik getoets dat hulle baie goed by geïntegreerde plaagbeheerprogramme inpas teen die tyd dat hulle markgereed is.”

Hy het verder verwys na die belangrikheid van strategiese vennootskappe in die landbou en gesê dat vennootskappe met regeringsbesluitnemers, produsente, kleinhandelaars en verbruikers die sleutel tot volhoubare en verantwoordelike voedselproduksie is.

“Kos is deel van ons lewens – of dit by die huis is of by NAMPO. As saadverskaffer vorm Syngenta Saad basies die eerste skakel in die voedselwaardeketting. Ons hoop om met die Plaaskombuis-konsep te wys hoe ’n belangrike rol saad speel. Ons oogmerk is om saad van uitstekende gehalte wat in die boer se behoeftes voorsien, beskikbaar te stel,” het Hendrik van Staden, Syngenta Saad se besigheids­hoof in Afrika suid van die Sahara, bygevoeg.

Met die wisselende klimaatsomstandighede waaraan die­landbou elke jaar in Suid-Afrika onderhewig is, is die plaaslike ontwikkeling en verbetering van gewasse van kardinale belang vir die land se graanbedryf en vir voedselsekerheid.

Syngenta se navorsing, teling en produkontwikkeling is daarop gerig om gesertifiseerde saad onder die Sensako-handelsmerk na die mark te bring wat die bedryf se gehaltevereistes oortref tot voordeel van die produsent en uiteindelik ook die verbruiker.

Van Staden het daarop gewys dat Syngenta allerweë beskou word as die wêreldleier in sonneblomgenetika en dat hierdie genetika nou in die Sensako-handelsmerk beskikbaar is. “Die toekoms van sonneblom lê in olie. In die verlede was die fokus hoofsaaklik op graanopbrengs, maar die nuwe fokus is op kultivars met ’n hoë olie-inhoud wat tot die verwerker en produsent se winsgewendheid kan bydra. Die huidige standaard vir olie-inhoud van sonneblom is tussen 36% en 38%, maar met Sensako-produkte is olie-opbrengs van tussen 42% en 50% moontlik.”

Volgens Van Staden het die Plaaskombuis die ideale geleent­heid geskep waar hulle met produsente oor hierdie opwindende moontlikhede kon gesels. “Ons praat nie net oor insette nie, maar oor eindprodukte wat op die verbruiker se tafel land.”

Geelmielieskyfies afgerond met tamatiesalsa was een van die innoverende disse wat tydens NAMPO by die Plaaskombuis beskikbaar was.