KONGRES 2024 – ’n boer maak mos ’n plan

Alzena Gomes, kommunikasie- en skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 12 April 2024

136

Graan SA se 2024-kongres, ’n deurslaggewende gebeurtenis in die landbousektor, het vanjaar gevra: “Wat laat produsente snags wakker lê?” En die algehele fokus was daarop dat ons … planmakers is! Kongres het gedien as ’n uitstekende platform vir Graan SA-lede, belanghebbendes, beleidmakers, navorsers en kundiges in die bedryf om saam te kom en relevante kwessies wat die graanbedryf raak, te bespreek.

Tydens die aanbieding was NAMPO Park weer die middelpunt van gebeure op 13 en 14 Maart. Met die Suid-Afrikaanse graan- en oliesadebedryf wat die afgelope jaar gekenmerk is deur ’n kombinasie van kwessies en deurbrake, het dié jaar se tema juis ten doel gehad om produsente toe te rus oor hoe om moeilike omstandighede te bestuur, hetsy dit seisoenaal, te doen met die klimaat of persoonlik is. Paneelbesprekingsonderwerpe is sorgvuldig gekies om produsente te bemagtig en by te staan in hul besluitneming te midde van uitdagings en om te beraadslaag oor kritieke kwessies wat die graanbedryf in Suid-Afrika vorm.

Die agenda is in drie hoofsessies aangebied en het afgeskop met ’n aanbieding deur David Hughes, visepresident van die Internasionale Plaasbestuursvereniging, wat Kongresgangers ’n kykie gegee het in die uitdagings wat Argentynse graanprodusente moet trotseer. Verder het die paneelbespreking by medeprodusente gaan aanklop vir raad oor hoe hulle ’n volhoubare produksie-omgewing handhaaf. Kongresgangers se interaktiewe deelname is aange­moedig om besprekingsgeleenthede te bevorder. Die gebruik van elektroniese stemprosesse het die weg gebaan vir konstruktiewe terugvoer na elke sessie en die geleentheid geskep om belangrike insette en opinies van lede in te win.

Tydens die verkiesing is Graan SA-voorsitter, Derek Mathews, onbestrede herkies en hy word deur visevoorsitters Richard Krige en Jeremia Mathebula ondersteun. Dié span is gereed vir die taak wat voorlê, waarvan die belangrikste sekerlik is om ekonomiese volhoubaarheid vir graanprodusente in die land te help verseker.

Dr Tobias Doyer, HUB van Graan SA, verwelkom Kongresgangers.
Derek Mathews gee ’n oorsig oor die 2023-jaar in sy voorsittersverslag.

’n Volhoubare pad vorentoe
In sy voorsittersverslag het Mathews saam met die Graan SA-bestuurspan ’n oorsig oor die 2023-jaar verskaf. Spelveranderende faktore soos die impak van wisselende klimaatstoestande en oorlog op die internasionale front, het konstante kommunikasie van Graan SA vereis. Die magdom van gevolglike mediaberiggewing het beide bedryfsuitdagings en prestasies weerspieël.

Die ontwikkelende landskap van globale en binnelandse markte het weer eens die belangrikheid van kommunikasie onderstreep en met markneigings, prysskommelings en strategieë om marktoegang vir Suid-Afrikaanse graanprodusente te verbeter, is die organisasie se skakeling met lede, rolspelers en die publiek beklemtoon.

Aan die stuur van sake: Jeremia Mathebula (visevoorsitter), Nico Vermaak (maatskappysekretaris), Derek Mathews (voorsitter), dr Tobias Doyer (HUB) en Richard Krige (visevoorsitter).

’n Oorsig oor die afgelope graanproduksiejaar het die druk op boerderymarges duidelik geïllustreer. Terwyl ’n hoë internasionale vraag na grane en oliesade gelei het tot verhoogde markpryse, het insetpryse rekordhoogtepunte bereik. Net so het klimaatstoestande beide winste en verliese veroorsaak. Die somerreënvalgebiede het ’n redelik nat seisoen beleef en alhoewel sommige dele versuip het, was dit tog vir ’n gewas soos sojabone ’n uitstekende jaar met rekordopbrengste en ’n rekordoes. Die wintergrane, veral in die Wes-Kaap, het tot en met oestyd ’n uitermatig goeie seisoen gehad, maar groot hoeveelhede reën net voor oestyd het massiewe verliese vir wintergraanprodusente tot gevolg gehad.

In teenstelling is ’n rekordkanola-oes bestuur na die aanvanklike kommer wat deur die skaarste aan saad veroorsaak is. ’n Suksesvolle afvaardiging na Australië het besluitnemers en kanolatelers daar ontmoet om die beskikbaarheid van kanolasaad in die toekoms te verseker. Die sukses van die teling-en-tegnologieheffing met betrekking tot sojaboonsaad is uitgelig met 67 nuwe variëteite wat in slegs een jaar op die mark gekom het. Met uitvoer na China wat deur ’n goedgekeurde protokol vasgelê is, is handel na dié en ander markte verseker. Die terugblik het verder lig gewerp op nuwe markte wat vir mielie-uitvoer oopgemaak is.

Die hoofspreker, David Hughes, se aanbieding oor hoe produsente in Argentinië struikelblokke oorkom, het groot aftrek gekry.

In lyn met die tema, is Graan SA se resultaatgedrewe betrokkenheid by belanghebbendes oor die hele waardeketting uitgelig. Onder andere het dit verligting op graderingsregulasies vir waterbeskadigde en verkleurde mielies gebring en onderhandelinge rakende die dieselrabat het verbetering – veral in die kommunikasie-­aspek – tot gevolg gehad. Met betrekking tot die statutêre aanstelling van Leaf Services het die organisasie in die oorsigjaar die beoogde R4/ton vir hergradering van grane meedoënloos bevraag­teken met ’n R500 miljoen-besparing vir primêre produsente tot gevolg. Die vordering met die liggingsdifferensiaal, wat vir twee jaar op ’n nuwe stelsel vir sojabone ingestel is en getoets moet word, het verder Graan SA se fokus – naamlik om sy lede winsgewend en volhoubaar op die plaas te hou – uitgelig.

Mathews het klem geplaas daarop dat namate produksie-, bemarkings- en besigheidsvereistes verander, die nodigheid vir die organisasie om aan te pas en te herstruktureer noodsaaklik geword het. Veranderde omstandighede in die laaste 20 jaar, die aktiewe vrye mark en internasionale mededinging het Graan SA genoodsaak om weer sy funderende dokumentasie na te gaan om te verseker die organisasie bly die mondstuk van die graanprodusent, gerat vir toekomstige aanpasbaarheid. Die aksie het gelei tot goedkeuring vir die pad vorentoe van ’n Groep van Entiteite, met Graan SA as ’n nie­winsgewende organisasie, ’n privaat maatskappy, ’n ontwikkelingsentiteit en ’n trust.

Graan SA se Corné Louw en dr Dirk Strydom (heel regs) het die paneelbespreking gefasiliteer. Die kundige span het bestaan uit Koos Blanckenberg, David Hughes en Kallie Schoeman.

Parallel hiermee is Graan SA se vars, nuwe handelsmerkidentiteit suksesvol oor kommunikasieplatforms heen bekendgestel. Die kern van die nuwe voorkoms is ook uitgebrei na die verskillende entiteite, wat die kollektiewe aard van die organisasie bevestig het. Die fokus van die organisasie om ook sy suksesvolle platforms vir bedryfsinteraksie te laat groei, is onderstreep deur rekordbywoningsyfers en groeiende uitstallerdeelname van beide NAMPO, NAMPO Kaap sowel as die nuut gevestigde NAMPO ALFA-handelskoue.

Mathews was dit eens dat tesame met die groeiende sukses van die NAMPO-handelsmerk, ’n gefokusde bemarkingstrategie gelei het tot ’n toename in die Graan SA-ledebasis en dat dit deurslaggewend is om die organisasie se kernfunksies te handhaaf. Dit het ook betrekking op die organisasie se proaktiewe navorsingskoördinering, gedryf deur produsente se behoeftes. Met gespesialiseerde vereistes en die hoë koste van navorsingsprojekte, het Graan SA met verskeie private en regeringsvennote hande gevat, en is die fokus steeds op die identifisering van behoeftes, verkryging van fondse en fasilitering van navorsing om dit na die beste hulpbronne in die bedryf
te kanaliseer. Met die klem op plantgesondheid en agronomie binne ’n veranderende produksie-omgewing, was Graan SA ook ’n sleutelrolspeler in die bekendstelling van die Nasionale Biosekuriteit­sentrum wat lede koppel aan ’n diagnostiese diens wat deur die Universiteit van Pretoria gekoördineer word.

Elke Kongresganger het ’n SA Graan/Grain- en ’n Pula Imvula-tydskrif in die hand gekry.
Die gebruik van elektroniese stemprosesse het die weg gebaan vir konstruktiewe terugvoer na elke sessie.

Verder het hy benadruk dat navorsingsprojekte wat deur produsente op grondvlak aangepak word, nog ’n belangrike faktor vir volhoubaarheid is wat ook ontwikkelende boere insluit. Klimaatsverandering is seer sekerlik die grootste uitdaging wat ervaar is, nie net in die afgelope seisoen nie, maar oor die afgelope paar seisoene waar uiters wisselvallige toestande geheers het wat uitsette werklik beïnvloed het. As ervare ontwikkelingsentiteit binne die SA Graan-groep, het Phahama Grain Phakama inligting oor tegnieke om ’n voortdurend veranderende omgewing teë te werk, gedeel. Ten spyte van uitdagings het dit tot wonderlike deurbrake gelei.

Die voorsittersverslag het die veerkragtigheid van produsente wat weer en weer probeer, beklemtoon en dit is dié produsente wat as oorwinnaars uit die stryd tree. Dié volharding is erken by Graan SA se Dag van Feesvieringe, die Groei vir Goud- asook die Graanprodusent van die Jaar-toekenningsgeleenthede, met deursettingsvermoë wat weer eens in 2023 geseëvier het.

Mathews het ’n suksesvolle rede afgesluit met die hoop en oë gerig op die toekoms en die nuwe seisoen wat die organisasie tegemoet gaan met dr Tobias Doyer wat as HUB ingetree het. Hy het bevestig dat Graan SA sal aanhou groei en aanpas – en bowenal aanhou planne maak om produsente volhoubaar te hou.

Insette van produsente word hoog op prys gestel en verskeie mosies is ter tafel gelê. Hier is Danie Minnaar en Sarel Haasbroek aan die woord.

’n Internasionale perspektief
David Hughes, visepresident van die Internasionale Plaasbestuursvereniging in Argentinië en ’n aktiewe rolspeler in georganiseerde landbou, het die uitdagings en struikelblokke van graanprodusente in Argentinië onder die loep geplaas in sy hoofrede. Hughes het die enorme wisselvalligheid waarmee hulle te kampe het met praktiese voorbeelde uitgelig wat dié produsente se daaglikse risiko’s beklemtoon het. Hy het heelhartig bevestig dat produsente die mees innoverende mense in die wêreld is, altyd besig om planne te beraam om praktyke aan te pas of anders toe te pas.

Met meer as 200 portuurgroepe in die land, is maatstafbepa­ling van kritieke belang. Kwessies word deur dié groepe gemeet, bespreek en met eie kapitaal deur proewe getoets wat hulle in staat stel om innovasie vinniger in die besighede in te bring. Hughes het verder uitgebrei dat produsente veel eerder emosionele as rasionele besluitnemers is. Om sy aanspreeklikheidsrisiko te verminder, het hy die verantwoordelikheid van besluitneming op homself geneem eerder as om op buiterolspelers staat te maak. Ter afsluiting het hy bevestig dat produsente ten spyte van die geraas in die produksie-omgewing op hul besighede moet fokus. Te midde van moeilike ekonomiese situasies moet hulle eerder na geleenthede soek om ’n eie ekonomie te skep en daarmee saam die direkte omgewing te beïnvloed. Derek Mathews het die boodskap ondersteun deur af te sluit en te sê dat as produsente geen vermoë het om te beïnvloed nie, hulle geen besigheid het om daar te wees nie.

Medeprodusente gee raad
Die paneelbespreking tydens Kongres het daarop gefokus om by medeprodusente om raad aan te klop. Die paneel kundiges, gelei deur Graan SA se dr Dirk Strydom en Corné Louw, het bestaan uit hoofspreker David Hughes, Kallie Schoeman van Schoeman Boerdery en Koos Blanckenberg van J.H. Blanckenberg Boerdery. Laasgenoemde twee is beide uitgetrede Graan SA-raadslede. Die paneelbespreking het gefokus daarop om die algemene uitdagings waardeur produsente in die gesig gestaar word aan te pak. Klem is gelê op die behoefte aan die doeltreffende en produktiewe gebruik van boerderytoerusting om sakelewensvatbaarheid te verse­ker. Verder is die erkenning van die noodsaaklike rol van geskoolde arbeid in die maksimalisering van toerustingdoeltreffendheid en produktiwiteit benadruk. In vergelyking met ander lande wat subsidies aan produsente gee, is die behoefte aan doeltreffendheid in Suid-Afrika se subsidievrye omgewing onderstreep.

’n Behoefte aan samewerking tussen die privaat sektor en die regering om uitdagings buite dié sektor se vermoë te hanteer, veral met betrekking tot infrastruktuur en beleidskwessies, het ook aandag geniet tesame met gemeenskapsbetrokkenheid in die verbetering van landboupraktyke en logistieke doeltreffendheid. Die sitrusbedryf se benadering tot die oplossing van haweverwante kwessies deur samewerking tussen bedryfsorganisasies en die regering, wat die behoefte aan verhoudings met politieke figure­ benadruk, was ook onder bespreking.

Verder is Argentinië se benade­ring tot swak instellings en die belangrikheid van sterk leierskap en samewerking tussen die private en­ openbare sektore bespreek. Infrastruktuur- en logistie­ke uitdagings in beide Argentinië en Suid-Afrika is vergelyk, met ’n voorkeur vir geprivatiseerde en mededingende stelsels. Die gesprek het ontwikkel tot gemeenskaps­betrokkenheid in die aanpak van maatskaplike uitda­gings soos veiligheid en infrastruktuurontwikkeling, met die klem op die weder­sydse voordele vir besighede en gemeenskappe. Verder het die paneel die behoefte aan implementering van planne, die rol van steunwerwingsgroepe en die belangrikheid van samewer­king tussen die landbou- en logistieke sektore om gemeenskaplike doel­witte te bereik, aangeraak.

In slotsom het die paneelgesprek die belangrikheid van vennootskappe tussen organisasies en die regering vir vooruitgang beklemtoon en kommer is uitgespreek oor regeringsbeleid, maar die waarde daarvan om by ander produsente en portuurgroepe te leer is aangemoedig. Optimisme oor die toekoms van boerdery, met verwysing na tegnologiese vooruitgang en die behoefte aan deurlopende leer, was die goue draad wat voortdurend deurgetrek is. Individuele boere is verder aangemoedig om te verseker dat hul eie besighede goed bestuur word en hulle is aangeraai om met eendersdenkende individue te skakel tot wedersydse voordeel. Die waarde van doeltreffendheid, produktiwiteit en samewerking in die navigasie van uitdagings in die landbousektor, veral in ’n subsidie­vrye omgewing soos Suid-Afrika, kan nie onderskat word nie.

Landbou-ekonoom Petru Fourie groet vir Patric Stuurman, Graan SA-raadslid.

Die volgende seisoen
Graan SA bedank alle lede, vennote, rolspelers en borge, sonder wie se deelname ’n uiters suksesvolle Kongres nie moontlik sou gewees het nie. In die komende jaar gaan ons steeds saamwerk as planmakers van formaat om georganiseerde landbou te kanaliseer na dit wat vir ons lede belangrik is, naamlik die fokus op ekonomies suksesvolle en volhoubare graanproduksie! Graan SA as bedryfs­organisasie onderneem om die punte wat tydens Kongres genoem is, sinvol aan te pak, die organisasie daardeur te laat groei en ’n bemoedigende maar doelgerigte boodskap van hoop aan alle produsente oor te dra.

Andre Kirsten, Graan SA-raadslid, en Kallie Schoeman is slaggereed vir dag 2 van Kongres.
Tom Wilson (Bayer), Danie Minnaar (Graan SA-raadslid) en Marc Aupetitgendre (Bayer).
Grain SA members Dennis Thyaliti and Andile Skhosana with Dr Godfrey Kgatle (Grain SA) and Sandile Mahlangu (SACTA).
Die span van Agri SA, Johan Kotzé, Jannie Strydom, Simohn Engelbrecht en Jaco Minnaar, is hier saam met Maseli Letuka, Graan SA-raadslid.
Louis Strydom (Omnia) en Gerrit Roos (Graan SA-raadslid).
Jaco Breytenbach, voorsitter van die SA Graan/Grain-redaksiekomitee en Graan SA-raadslid, kondig die wenartikel aan.
Dr Langelihle Simela (Absa), Abrie Rautenbach (Absa), Herman Groenewald (John Deere Financial), Stephan Gouws (John Deere), Hentie Breedt (John Deere) en Antois van der Westhuizen (John Deere Financial) het hulle onderskeie instansies wat as borge opgetree het, verteenwoordig.
Daar was baie lof vir die Graan SA-span wat agter die skerms gewerk het om van Kongres 24 ’n sukses te maak.
Na dag 1 is daar heerlik saam geëet.