Moenie die verspreiding van Russiese koringluis onderskat nie

Gepubliseer: 1 Maart 2024

298
Dr Vicki Tolmay, LNR-Kleingraan, Stellenbosch

Die Russiese koringluis (RKL) kom reeds 46 jaar lank in Suid-Afrika voor en baie dinge het sedert die eerste uitbreking van hierdie plaag in die Vrystaat verander. Tans word hierdie luisspesie in al die koringproduk­siestreke van ons land gevind.

Daarby is daar nou vyf verskillende biotipes van die plaag teenwoordig wat beheer met behulp van genetika in die vorm van weerstandbiedende kultivars baie meer gekompliseerd maak. Jaarliks word alle kommersiële koringkultivars dus getoets om hulle weerstandstatus teen die verskillende biotipes van RKL te bepaal.

Die kultivars wat in 2023 getoets is, word in Tabel 1 gelys. Tradi­sioneel kom die meeste skadelike uitbrekings van RKL in die sentrale winterkoringproduksiegebiede voor, waar erge besmettings van die luis opbrengsverliese van tot 90% veroorsaak het op vatbare kultivars. In die verlede was RKL selde in die besproeiingsgebiede of die Wes-Kaapse produksiestreke problematies gewees. Die RKL is wel teenwoordig in hierdie twee belangrike produksieareas en dus word kommersiële kultivars uit hierdie streke ook getoets om hulle weerstand teen dié klein groen insek te bepaal.

Onder watter omstandighede vind uitbrekings van RKL plaas?
Na baie jare se waarnemings in Suid-Afrika en ’n deeglike studie van internasionale literatuur, kan die omstandighede waarin gereelde probleme met die luis ondervind word soos volg opgesom word:

  • Groot uitgebreide areas van aaneenlopende koring en/of gars kom voor.
  • Kultivars wat verbou word in die area is vatbaar.
  • Die grootste uitbrekings gebeur wanneer die gewasse onder droogte- en/of voe­dingstres verkeer.
  • Matige heersende temperature kom gewoonlik tydens uitbrekings voor, dit wil sê die minimum kan laag wees (selfs tot onder 10 °C), maar die maksimum temperature is selde hoër as 30 °C.
  • Heersende humiditeit is laag – dit is welbekend dat RKL baie vatbaar is vir entomopatogeniese swamsiektes wat maklik onder hoë humiditeit voorkom.
  • Die teenwoordigheid van alternatiewe gasheerplante in of naby die produksie­gebied verseker die oorlewing van die luis tussen die koring/garsseisoene.
Russiese koringluis

Waar kom RKL in Suid-Afrika voor?
Die area onder koringverbouing in die sentrale streke het drasties afgeneem en dit is waarskynlik een van die redes hoekom RKL nie meer in sulke skadelike hoeveelhede in hierdie gebied voorkom nie. Die meeste verskillende biotipes van die luis kom egter nog in hierdie streek voor. Tot dusver was daar nie groot uitbrekings van die luis in die besproei­ingsgebiede of die Wes-Kaap nie.

RKL word egter jaarliks in al die streke opgemerk en data van Dr Astrid Jankielsohn (LNR-Kleingraan, Bethlehem) toon dat die voorkoms van die luis oor jare stadig in beide die besproeiingsgebiede en Wes-Kaap toegeneem het. In die Wes-Kaap kom die RKL-biotipe RWASA1 gewoonlik voor. Daar is egter op een van die ondersoekpunte in die 2019-opname in die Wes-Kaap die meer virulente biotipe RWASA2 gevind. Hierdie inligting wys daarop dat die verspreiding en voorkoms van hierdie luisspesie nie onderskat kan word nie. Hoewel hulle nie noodwendig in groot getalle in alle streke voorkom nie, moet ’n mens aanvaar dat RKL in al die produksiestreke teenwoordig is. Sou omstandighede wat gunstig is vir die ontwikkeling van groot luispopulasies dus teenwoordig wees, is die moontlikheid van uitbrekings nie uitgesluit nie.

In die verlede het die ontwikkeling van weerstandbiedende kultivars slegs op winterkoring in die sentrale produksiegebied gefokus. Dié doelgerigte teelprogram het van die vroeë 1980’s tot 2020 aktief teellyne met weerstand teen hierdie luis ontwikkel. Sorg is geneem om slegs matige weerstandslyne beskikbaar te stel om seleksiedruk vir die ontwikkeling van weerstandsoorbruggende biotipes laag te hou en so lank as moontlik uit te stel, maar dit het wel gebeur. Veral die biotipe RWASA5 is van belang omrede daar tans geen kultivars bestaan wat effektiewe weerstand teen hierdie biotipe bied nie.

Weerstandbiedende (links) versus vatbare koring (regs).

Weerstandbiedende kultivars kan nie alleen teen die RKL staan nie
Een van die belangrikste beginsels om te onthou, is dat kultivars met weerstand teen RKL nie op hul eie ’n totale beheermetode uitmaak nie. Hierdie kultivars is net effektief as hulle deel vorm van ’n geïntegreerde beheerprogram. Die beheer van opslagkoring/gars en grason­kruide wat die luis in staat stel om die tydperk tussen koringseisoene te oorleef, is van kritieke belang. Dit bepaal die hoe­veelheid luise wat aan die begin van ’n nuwe seisoen teenwoordig is om die nuwe aanplantings te besmet. Indien daar weerstandbiedende opslag teenwoordig is, verhoog dit die seleksiedruk op die luise om die weerstand te oorkom. Ander komponente van ’n geïntegreer­de beheerprogram sluit natuurlike vyande van die luis in soos parasitiese wespe en predatoriese insekte soos lieweheersbesies en hulle larwes. Hierdie insekte beheer die luise ongeag die spesifieke biotipe – dit is dus uiters nuttig om die weerstandskultivars te ondersteun en beskerm.

Vatbare koringplante in weerstandsevaluasie.

Watter kommersiële koringkultivars het gasheerplantweerstand teen RKL?
Data wat in 2023 ingevorder is, is met dié van vorige jare se analises gekombineer en word in Tabel 2 voorsien. Daar is tans geen RKL-weerstandbiedende kultivars beskikbaar vir die besproeiings- of Wes-Kaapse produksiestreke nie. Hierdie inligting wek kommer, veral ten opsigte van die Wes-Kaap. Die al groter wordende area onder verbouing van kleingrane (beide koring en gars) tesame met die droër periodes wat in die groeiseisoen voorkom as gevolg van die toenemend onvoorspelbare reënval, kan die voorkoms van RKL bevorder. Die ontwikkeling van insekdoderweerstand in hierdie luisspesie soos deur Dr Jankielsohn gerapporteer, is dan ook baie meer bekommerenswaardig.

Die belangrike boodskap wat uit hierdie datastelle uitstaan, is dat indien daar in die toekoms RKL-weerstandbiedende kultivars benodig word vir ontplooiing in die besproeiingsgebiede of die Wes-Kaapse produksiestreke, sulke kultivars spesifiek ontwikkel sal moet word.

Die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust en Landbounavorsingsraad word bedank vir die befondsing van hierdie navorsing en Emma Mollo word erken vir tegniese bystand tydens die uitvoering van die navorsing.