Robuuste groentjie “onttroon” berugte peulaalwurm

Gepuliseer: 6 Februarie 2024

234
Dr Sonia Steenkamp, LNR-Graangewasse, Potchefstroom
Dr Rinus Knoetze
,
LNR-Nietvoorbij en Departement van Bewaringsekologie en Entomologie, Universiteit Stellenbosch
Dr Antoinette Swart, LNR-Plantgesondheid en Beskerming en Departement Dierkunde, Universiteit van Johannesburg

Dit het alles begin met ’n siek grondboonplant waarvan daar eintlik net foto’s geneem moes word om peulaalwurmskade te illustreer… Dit is die jaar 2016 en Suid-Afrikaanse nematoloë is op die punt om ’n nuwe boek uit te gee. Al wat in die oliesadehoofstuk kort, is ’n sprekende voorbeeld van skadesimptome wat deur die berugte peulaalwurm veroorsaak word.

Beskadigde grondbone is versamel vir die foto. Die skade is uitermatig en die peule (en pitte) word na afloop van die foto verwerk net om vas te stel hoe erg die besmetting self is. Beskadigde peule het inderdaad gekrioel van die aalwurms, maar net ’n paar peulaalwurms was teenwoordig. Die res van die aalwurms was onbekend. Die hoeveelheid peulaalwurms het nie die graad en hoe­veelheid skade geregverdig nie. Die afleiding is dus gemaak dat hierdie splinternuwe aalwurm wat kop uitgesteek het definitief die potensiaal het om ’n probleem in die grondboonbedryf te word.

Wat verder kommerwekkend was, is die feit dat dié aalwurm ook – net soos peulaalwurm – in die saad voorgekom het en dus saadgedraagd blyk te wees. Die nuwe aalwurm is toe deur taksonome beskryf en heet nou Robustodorus arachidis. Die Oliesaad­advieskomitee het ’n projek saam met LNR-Graangewasse befonds om R. arachidis van nader te bekyk. Vir die doel van hierdie artikel sal R. arachidis verder as die testa-aalwurm bekendstaan.

Skade deur die testa-aalwurm
Tot dusver was peulaalwurm dié saadgegraagde aalwurm wat die Suid-Afrikaanse grondboonbedryf die grootste kopseer besorg. Die manier waarop peulaalwurm die peul binnedring by die aanhegtingspunt van die peul en anker, beskadig die selle sodanig dat hierdie aanhegtingspunt verswak en die peule in die grond agterbly as dit met oestyd gelig word. Afhangende van die graad van besmetting kan ’n grondboonprodusent 40% tot 60% van sy oes op dié manier verloor. Die vernaamste invloed wat peulaalwurm op grondbone het, is egter kwalitatief.

’n Grondboonuithaler besig om grondbone te lig.

Peulaalwurm voed op en beskadig die saadhuid, wat veroorsaak dat beskadigde saad verkleur, are op die testa verdonker en ontkieming voor oes plaasvind (Foto 1 en Foto 2). Hierdie simptome lei daartoe dat die persentasie ongesonde, gevlekte en vuil pitte (OGV) in ’n besending toeneem sodat die besmette besending soms tot by persgraad afgegradeer word. In Tabel 1 kan die pryse vir die verskillende klasse grondbone soos in Desember 2023 gesien word. As die gradering na persgraad verlaag word, impliseer dit dat die impak van peulaalwurm teen hierdie pryse tot R19 500/ton kan beloop.

Grondbone wat met peulaalwurm besmet is se pitte verkleur en ontkiem voor die produsent kan oes.
Dit is hoe die peule van ’n goed peulaalwurmbesmette plant daar uitsien met die ontkiemende sade nog binne in die peule.

Skade deur die testa-aalwurm het op die oog af soortgelyk voorgekom as dit wat deur peulaalwurm veroorsaak word. Nes peulaalwurm het die testa-aalwurmpopulasie teen oestyd ook meestal in die peule (doppe en saad) voorgekom. Die skade wat deur peul­aalwurm aangerig word asook die gedrag van peulaalwurm is dus as riglyn gebruik om die impak van die test­a-aalwurm te bepaal en om die twee saadgedraagde aalwurms te vergelyk.

Net soos peulaalwurm, kondig testa-aalwurm nie sy teenwoordigheid deur bogrondse simptome aan nie. Dit maak dit klaar moeilik vir die produsent in die sin dat hy vooraf geen waarskuwing kry van die teenwoordigheid van testa-aalwurm nie en eers teen oestyd besef dat daar probleme is. Die visue­le skade op die wortels en peule van testa-aalwurmbesmette plante is egter ’n ander saak. Net soos met peulaalwurmbesmetting, verkleur en ontkiem testa-aalwurmbesmette pitte voordat die produsent kan oes (Foto 3b). Plante wat deur die testa-aalwurm besmet is, het bykomend ’n roet­agtige, swart voorkoms op die wortels en die peule soortgelyk aan simptome van swart peulvrot (Foto 3a). Hierdie simptome dui daarop dat die testa-aalwurm, nes die peulaalwurm, ’n beduidende invloed op die kwaliteit van die grondboonbesending sal uitoefen en dus ’n soortgelyke ekonomiese impak op die grondbone sal hê.

Robustodorus arachidis-skade aan ’n grondboonplant vertoon roetagtig op die peule en wortels (a) en die sade begin ontkiem voor die produsent kan oes (b).

Voorkoms van die testa-aalwurm
Aangesien vasgestel is dat testa-aalwurm ’n beduidende ekonomiese impak op grondbone kan hê, moes die aggressiwiteit van hierdie aalwurm vergelyk word met die van peulaalwurm om te bepaal of dit problematiese afmetings kan aanneem. In Tabel 2 kan die vergelyking in getalle tussen testa- en peul­aalwurm gesien word soos wat dit onder veldtoestande voorgekom het. Hierdie is slegs ’n uittreksel uit die studie, maar dieselfde neiging was waar­neembaar by al die proewe.

Die grootste gedeelte van ’n peulaalwurmpopulasie sal teen oestyd in die peule voorkom met net ’n paar wat op die wortels voed. Dit blyk ook die geval met testa-aalwurm te wees (Tabel 2). Wat hierdie resultate egter interessant maak, is die feit dat peulaalwurmgetalle hoër blyk te wees in die wortels in die teenwoordigheid van testa-aalwurm in vergelyking met dié wat in die peule voorkom. Dit impliseer dat testa-aalwurm aggressief genoeg is om peulaalwurm uit die peul uit te kompeteer en na die wortels te dryf. As testa-aalwurm so suksesvol kan kompeteer met peulaalwurm vir plek in die peule, is dit net ’n kwessie van tyd voordat dié groentjie oor die hele grondboonproduksiegebied sal versprei deur besmette saad te plant, net soos wat met peulaalwurm gebeur het.

Beheer
Grondboonprodusente leun swaar op chemiese beheer omdat dit die meeste aalwurms effektief onder die ekonomiese drumpel­vlak hou sodat ’n aanvaarbare inkomste steeds verdien kan word. Peul­aalwurm kom egter eers regtig in as die ankers gestoot word, wat in die weerhoudingstydperk van die meeste grondboongeregi­streerde aalwurmdoders val. Om hierdie rede is peulaalwurm feitlik onmoontlik om te beheer. Toetse onder veld- en mikroplottoestande het inderdaad getoon dat testa-aalwurm, net soos peulaalwurm, nie beheer word deur die aalwurmdoders wat tans op die mark beskikbaar is nie. Presies hoekom dit gebeur, is duister en dit is een van die vraagstukke wat nog nagevors moet word.

Oorlewing
As testa-aalwurm nie met aalwurmdoders beheer kan word nie, kan daar van hulle ontslae geraak word deur lande braak te laat lê? Om hierdie vraag te beantwoord moes bepaal word wat met die aalwurms gebeur as daar nie grondbone op die land is nie. Toe testa-aalwurm vir die eerste keer in die beskadigde peule gekry is, is daar ook bevind dat hulle in anhidrobiose kan gaan (Foto 4). Dit beteken die testa-aalwurm wat nie in eiervorm oorleef nie, kan in ’n rustoestand ingaan as daar nie genoeg kos of water is nie. Met hierdie strategie kan hulle die koue wintermaande sonder kos en met baie min water oorleef.

Testa-aalwurmbesmette peule is in die winter opgehang om droog te word en so anhidrobiose by die aalwurms te induseer. Met die volgende seisoen se planttyd is die testa-aalwurms uit die gedroogde peule geëkstraheer. Die oorlewendes is gebruik om nuwe plantjies mee te inokuleer. Dieselfde skade wat in die lande gesien is, was teen oestyd weer sigbaar op die nuut geïnokuleerde plante. Testa-aalwurm is dus in staat om in ongunstige toestande te oorleef terwyl die potensiaal behou word om skade aan die volgende aanplanting aan te rig.

’n Elektronmikroskoopfoto van testa-aalwurms wat in anhidrobiose gegaan het.

Assosiasie met ander plantpatogene wat siektes kan veroorsaak
Op ’n elektronmikroskoopfoto wat geneem is van die oorspronklike 2016-grondbone kan ’n swamspoor wat aan die aalwurm se gesig vassit, gesien word (Foto 5). Van hierdie swamme wat saam met die testa-aalwurm op die oorspronklike beskadigde grondbone voorgekom het, is geïdentifiseer as Thievaliopsis basicola (veroorsaak swart peulvrot) en Neocosmospora vasinfecta (Foto 6). Laasgenoemde is ’n plantpatogeen, maar dit is ook in rare gevalle in staat om mense met verswakte immuunstelsels aan te val. Die moontlikheid dat testa-aalwurm hierdie tipe swamme, insluitend die swamme wat aflatoksiene produseer, kan oordra na die plante toe of inderdaad geassosieer is daarmee, is hoogs waarskynlik, maar dit moet nog deeglik ondersoek word.

Testa-aalwurm se gesig met spore wat daaraan vasklou.
Patogeniese swamme wat saam met die testa-aalwurm op die besmette peule voorgekom het.

Die pad vorentoe
Alhoewel hierdie navorsing klaar ’n paar sleutelvrae kon beantwoord, het heelwat addisionele vrae ontstaan. Hierdie vrae sal slegs beantwoord kan word met nog navorsing om onder meer testa-aalwurm se verspreiding te bepaal asook maniere waarop hierdie aalwurm beheer kan word. Die gesegde van Jurassic Park-faam – “Life will find a way” – was nog nooit so waar soos wat dit met testa-aalwurm blyk te wees nie. Hierdie aalwurm is rateltaai en in staat om moeilike omstandighede te oorleef sonder om sy viriliteit te verloor – net nog ’n uitdaging wat die grondboonbedryf sal moet trotseer.

Kontak dr Steenkamp vir navrae by 018 299 6379.