Opbrengsresultate – só lyk ’23 se syfers

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

194
Piet Lombard, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou

Lisa Smorenburg
, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse De-partement van Landbou
Dr Johan Strauss, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Gedurende 2023 is daar by vyf lokaliteite in die Swartland en Suid-Kaap kanolaproewe aangeplant. ’n Totaal van 18 kultivars is getoets. Die kultivars het bestaan uit vier konvensionele, vier Cl-kultivars (Clearfield, Imasamoks-tolerant), agt van die TT-groep (triasien-tolerant) en daar is ook kombinasietipe kultivars ingesluit wat oor beide die Cl- en TT-tole­ransie beskik (Enforcer CT en PY520 TC).

Klimaat
Die 2023-seisoen in die Swartland is gekenmerk deur ’n uiters nat periode vanaf 25 Mei tot aan die begin van Julie. September het heelwat meer reën as die langtermyngemiddeld ontvang, terwyl Oktober weer baie droog was. Die goeie reënval wat in September­ voorgekom het, het verhoed dat plante aan te veel vogstremming blootgestel is. September het nie net goeie reënval gehad nie, die gemiddelde temperature was ook tussen 1,6 ºC en 2,6 ºC laer as die langtermyngemiddeld.

Tygerhoek-navorsingsplaas in die Suid-Kaap het gedurende die 2023-groeiseisoen meer as twee keer die langtermyngemiddelde reënval ontvang (624 mm). Hierdie is die natste aangetekende groeiseisoen in die geskiedenis (1966 – 2023), naas 2021. Soos op Langgewens, was die maksimum tempe­ratuur tydens Augustus hoër as in September 2023.

Resultate
Die opbrengsresultate vir die Swartland is opgesom in Tabel 1 en Grafiek 2. Die Clearfield- (Cl-)kultivars en triasien-tolerante (TT-)kultivars se data is geskei van die konvensionele kultivars. Die CT- en TC-kultivars is by die TT-kultivars ingedeel. Min tot geen Sclerotinia is waargeneem in die kultivarproewe, alhoewel dit wydverspreid in die Swartland voorgekom het. Die oesseisoen was laat in die Swartland as gevolg van die nat en koue September.

Grafiek 1: Maandelikse reënval vir 2023 en die langtermyntotaal (sedert 1964) by Langgewens-navorsingsplaas.
Grafiek 2: Maandelikse reënval vir 2023 sowel as langtermyntotaal (sedert 1966) by Tygerhoek-navorsingsplaas.
Grafiek 3: Swartland-saadopbrengste vir 2023 (kg/ha).
Grafiek 4: Suid-Kaapse saadopbrengste vir 2023 (kg/ha).

Swartland
In die Swartland het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel tussen 3 323 kg/ha­(Langgewens se tweede aanplanting) en 2 266 kg/ha by Philadelphia. Die konvensionele kultivar CC90014 (3 168 kg/ha) het, soos in 2022, gemiddeld die hoogste opbrengs gelewer, gevolg deur Quartz (2 942 kg/ha) en Diamond (2 822 kg/ha). Laasgenoemde twee kultivars se opbrengste was wel statisties betekenisvol laer as die van CC90014.

Die kultivar PY421C Cl (3 143 kg/ha) het die hoogste opbrengs binne die Cl-groep gelewer. 45Y95 (langer groeier) was tweede (3 086 kg/ha), gevolg deur Solstice Cl. Bogenoemde kultivars se opbrengs het nie statisties betekenisvol van mekaar verskil nie. Die saadopbrengs van kultivars wat vir ’n langer periode groei word in lang groeiseisoene bevoordeel.

Binne die TT-kultivargroep, wat CT/TC-kultivars insluit, het HyTTec Trophy, PY520 CT en HyTTec Trifecta die hoogste opbrengste (onderskeidelik 2 666 kg/ha, 2 663 kg/ha en 2 646 kg/ha) gelewer, gevolg deur CT210001, Blazer TT en Alpha TT. Die bogenoemde kultivars het nie betekenisvol van mekaar verskil nie. Die gemiddelde opbrengs van die TT-kultivars was onderskeidelik 13% en 18% laer as die konvensionele en Cl-kultivars.

Suid-Kaap
In die Rûens was die gemiddelde proefopbrengs 3 204 kg/ha, teen­oor 2 124 kg/ha en 3 271 kg/ha in 2022 en 2021, onderskeidelik. Die konvensionele kultivar Quartz (3 628 kg/ha) het die hoogste opbrengs binne die konvensionele groep gelewer. CC90014 was tweede (3 469 kg/ha), gevolg deur Diamond. Daar was geen statisties betekenisvolle verskil tussen Quartz en CC90014 nie.

Die kultivar 45Y95 (3 980 kg/ha) het die hoogste opbrengs van al die Cl-kultivars gehad. 44Y94 was tweede (3 738 kg/ha), gevolg deur PY421C Cl en Solstice Cl. Soos in die Swartland, kon twee van die kultivars wat as vroeg geklassifiseer word, Diamond en Ceres Cl, moontlik nie die verlengde groeiperiode ten volle benut nie. Die saadopbrengs van kultivars wat vir langer periodes groei word in sulke seisoene bevoordeel.

TT-kultivar HyTTec Trifecta (3 250 kg/ha), gevolg deur kom­binasiekultivar PY520 CT (3232 kg/ha), het die hoogste opbrengs binne die TT-groep gelewer. Die gemiddelde opbrengs van TT-kultivars was onderskeidelik 8% en 17% laer as die konvensionele en Cl-kultivars.

Gevolgtrekking
Kanola bewys jaar na jaar sy aanpasbaarheid. In 2022 was dit besonder droog en in 2023 besonder nat en steeds het die kanola uiters goed gevaar in beide groeiseisoene. Sclerotinia-besmetting bly ’n risiko in die komende seisoene. Dié siekte het vanjaar wydverspreid in die Swartland voorgekom. Die aanplant van die bes aangepaste kultivar is noodsaaklik en produsente moet die risiko om teruggehoue saad aan te plant, probeer vermy.