Kommunikeer só tydens beurtkrag op plase

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 Februarie 2024

323

Beurtkrag veroorsaak frustrasie vir die meeste huishou­dings, maar vir produsente is daar ook verdere besigheids- en veiligheidsuitdagings om te trotseer. So het ’n gemeenskapskoerant vir die Hartbeespoort-omgewing byvoorbeeld onlangs berig dat besproeiingsprodusente in dié omgewing ongeveer 30% minder plant weens aanhoudende beurtkrag.

Een van die grootste probleme waarmee produsente egter te kampe het, is die verwoestende impak wat beurtkrag het op die stabiliteit van netwerkverbindings. In 2022 het verskeie nuusberigte die impak onthul wat die kragkrisis op Vodacom en MTN, die grootste selfoonoperateurs in Suid-Afrika, se selfoontorings het. MTN het byvoorbeeld meer as 2 000 kragopwekkers ontplooi om die impak van hoër fases van beurtkrag te probeer teëwerk. Dié selfoonope­rateur verbrand meer as R400 000 se brandstof per maand net om sy kragopwekkers in werking te hou.

Selfoonopvangs in veral die platteland het weens Suid-Afrika se kragkrisis baie verswak. Buiten vir vandalisme waar selfoontorings tydens beurtkraggleuwe geplunder word, lei gebrekkige instandhouding van die elektrisiteitsinfrastruktuur tot verdere frustrasie en veiligheidsrisiko’s. In sommige gevalle is plase vir tot agt ure of selfs langer sonder elektrisiteit voordat herstelwerk afgehandel word. Vrystaat Landbou (VL) wil graag sien dat selfoondiensverskaffers met dringende ingrypings vorendag kom of selfs korting bied aan boerderygemeenskappe wat geraak word deur die probleem.

Radionetwerk is ’n oplossing
Diefstal van koperkabels, diensverskaffing wat nie altyd na wense is nie en swak selfoonopvangs in afgeleë gebiede veroorsaak dat daar ’n sterk behoefte in plattelandse gebiede bestaan vir ’n meer revolusionêre, alternatiewe manier van kommunikasie.

’n Opname deur VL het bevind dat 57,5% van deelnemers 40 ure of meer se beurtkrag per week moet verduur en dat meer as 60% van respondente al deur misdaad geraak is tydens beurtkragperiodes. Tydens besoeke deur lede van Agri Wes-Kaap aan produsente wat die trauma van ’n plaasaanval moes deurmaak, was dit duidelik dat betroubare en doeltreffende kommunikasie noodsaaklik is tydens noodgevalle – veral in landelike gebiede waar landbougemeenskappe weerloos gelaat word met die huidige kragkrisis in die land.

Omdat landelike veiligheid vir Agri Wes-Kaap ’n prioriteit is, is verskeie menings ná hierdie besoeke ingewin om te kyk na oplos­sings vir kommunikasiemiddels wat nie op enige kragvoorsiening of selfoonseine hoef staat te maak nie. Dit was gou duidelik dat die registrasie van ’n simpleksradiofrekwensie die doeltreffendste stap is. Só kan die produsent en sy gesin of plaaswerkers in enige omstandighede kontak hê met ander produsente in die omgewing.

Volgens Louis Wessels, regsdienstebestuurder by Agri Wes-Kaap, is die lisensiëring ’n paar maande gelede finaal goedgekeur deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa). Tans is die gebruik van die kanaal slegs vir lede van Agri Wes-Kaap en die organisasie dra ook die koste van die radiofrekwensie. Enige produsent is egter welkom om aan te sluit en die kanaal te benut. “Hoe meer produsente die stelsel aflaai en implementeer, hoe ster­ker gaan die ondersteuningsnetwerk raak,” verduidelik hy.

Registrasie van ’n simpleksradiofrekwensiestelsel deur landbou-organisasies blyk ’n goeie oplossing te bied. Die stelsel werk heel eenvoudig en is nie afhanklik van elektrisiteit of ’n selfoonstelsel nie. Al wat nodig is, is ’n hoëfrekwensieradio ongeag fabrikaat of model. Sodra die radio op die geregistreerde kanaal ingestel is, kan daar met ander produsente op dieselfde kanaal in die omgewing (binne ’n sekere radius) gekommunikeer word.

Die stelsel het beperkings soos die reikafstand wat van gebied tot gebied verskil as gevolg van omgewingsfaktore en topografie. Bergagtige dele sal ’n korter reikafstand bied as byvoorbeeld die Karoo waar die omgewing plat is. Produsente moet dus toets waar dooie kolle is en daarvolgens ’n reaksieplan opstel deur versterkers op te rig.

Met beurtkragskedules wat son­der waarskuwing verander, is dit egter belangrik om vooruit te beplan en te verseker dat die radio altyd byderhand is. Maak dus seker dat alternatiewe energiestelsels beskikbaar is om die radio’s te herlaai, soos sonpanele, ’n wisselrigter (inverter) of ’n kragopwekker. ’n Mobiele eenheid soos ’n slinger­kragopwekker of selfs ’n ekstra rugsteunbattery wat in die bakkie gehou word, is ’n goeie idee.

’n Herleiernetwerk wat op strategiese plekke geplaas word, help om die frekwensie deurlopend te laat funksioneer.

Foto: SBA Communications

Alternatiewe oplossing
Aangesien tekens daar is dat beurtkrag nog lank met ons gaan wees, is dit belangrik dat alternatiewe kommunikasienetwerke in plek gestel moet word op plase. Om die seinontvangs te verbeter sodat selfone tydens beurtkrag steeds gebruik kan word, is nog ’n opsie om in seinversterkers/seinherhalers te belê.

Bianca Thorburn, direkteur van bemarking by Bolton Technical Africa, sê dat hulle ’n styging gesien het in die aantal kliënte wat hulle kontak in verband met oplossings vir beurtkrag. Die maatskappy se selfoonseinversterkers is ontwerp om diegene te help wat sukkel om verbind te bly weens swak of niebestaande sellulêre dekking. Indien een selfoontoring se sein wegval, ontvang die ver­sterkers se rigtingantennas sein van ’n alternatiewe toring op ’n rooster wat nie beurtkrag ondergaan nie. Sodoende word ononderbroke sein verseker.

Selfoonseinversterkers is drieledige stelsels wat help om die sein wat ontvang word, te versterk en deur ’n uitsaai-antenna te versprei. Indien veelvuldige antennas opgestel word, kan selfoontorings wat op verskillende beurtkragroosters is geteiken word om so­doende ononderbroke sein te verseker. Die versterkers trek baie min krag (5V; 3A) en kan aan ’n onderbrekinglose kragtoevoer (UPS) gekoppel word vir ononderbroke, sterk sein tydens beurtkrag. Dit is maklik om te installeer en ’n goedkoper opsie in vergelyking met ander netwerktoestelle.

Daar is selfs ’n seinversterker vir voertuie beskikbaar wat die 2G-, 3G- en 4G-stem- en datasein in enige voertuig versterk. Die unieke ontwerp verplaas enige oortollige hitte en verhoog uitset­prestasie.

’n Opsie vir die toekoms
’n Duurder opsie wat betroubare hoëspoed-konnektiwiteit bied, is satellietinternet. Paratus Suid-Afrika, ’n onafhanklike internetverskaffer wat deel is van die Paratus-groep met meer as 4 000 satellietterminale regoor Afrika, beloof betroubare diens ongeag waar jy in Suid-Afrika woon. Met die groeiende kommer oor plaasveiligheid lewer hulle reeds ’n belangrike diens aan gemeenskappe in afgesonderde gebiede.

Die netwerkkwaliteit en -toegang word nie deur beurtkrag beïnvloed nie omdat die satelliet nie afhanklik is van infrastruktuur op die grond nie. Jy benodig wel ’n kragbron vir die modem en roeteerder. Een van die nadele van satellietinternet is dat daar ’n vertraging van ’n paar millisekondes op die lyn kan wees, maar dit behoort nie kommunikasie tydens ’n noodoproep te benadeel nie.

Volgens die globale organisasie GSMA se navorsing is daar ongeveer 750 miljoen mense wêreldwyd wat nie toegang tot die internet het nie – bloot omdat die kommunikasie-infrastruktuur wat nodig is om toegang te verskaf nie beskikbaar is waar hulle woon nie.

Die Amerikaanse konsultasie-en-navorsingsfirma Frost & Sullivan noem dat al bestaan daar verskeie tegnologie-opsies vir die terug­haling (backhaul) van RAN (Radio Access Network) aan afgeleë gebiede, dit slegs satelliettegnologie is wat uit ’n koste- of praktiese oogpunt geskik is vir gebruik in die ontplooiing van kabellose toegangsnetwerke.

Daar is egter nog ’n lang pad wat voorlê om te verseker dat breëbandkonnektiwiteit wêreldwyd beskikbaar is en ’n oplossing sal kan bied vir Suid-Afrikaners in plattelandse gebiede se kommunikasieprobleme tydens beurtkrag.

Bronne

  1. https://af.healthy-food-near-me.com/how-to-strengthen-the-signal-of-cellular-communications-and-the-internet-in-the-country/
  2. https://awk.co.za/
  3. https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/tegnologie/kommunikasiekrisis-die-tegnologie-bied-oplossings-in-kernbedrywe-20230804
  4. https://paratus.africa/southafrica/satellite-internet-packages/
  5. https://vrystaatlandbou.co.za/wp-content/uploads/2023/04/FSA-Newsletter-March-2023.pdf
  6. https://www.broadbandcommission.org/insight/the-role-of-geostationary-satellite-networks-in-meeting-the-rural-connectivity-challenge/
  7. https://www.itweb.co.za/content/lLn14MmQXJWMJ6Aa