Kanolasaad blyk genoeg te wees vanjaar

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

172
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

As produksie-inset maak saad ongeveer 15% tot 20% van ’n kanolaprodusent se produksiekosterekening uit. Alle kanolasaad wat in Suid-Afrika aangeplant word, word vanaf Australië, Kanada, Suid-Amerika of Europa ingevoer. Die voorsiening van genoeg saad is dus ’n uitdaging.

Graan SA kommunikeer deur­lopend met saadmaatskappye om seker te maak die regte kultivars is betyds teen die regte hoeveelhede be­skikbaar. Tekorte is weer eens in 2023 ervaar, maar hopelik was dit die laaste seisoen waar dit ’n probleem sal wees.

Kanolasaadinligting
Geen kanolasaad word plaaslik vermeerder nie: Saadmaatskappye meen dat die plaaslike mark te klein is daarvoor en dat die vermeerdering van bastersaad, wat die grootste persentasie van die mark beslaan, te duur is. Hulle meen verder dat die isolasievereistes van sulke vermeerde­rings van so ’n aard is dat dit nie prakties moontlik vir Suid-Afrika se relatief klein area is nie.

Omdat 100% van Suid-Afrika se kanolasaadbehoeftes ingevoer moet word, maak dit die voorsiening van genoeg saad ’n kuns. Dit bemoeilik sake vir plaaslike saadmaatskappye: Word daar te veel saad ingevoer, sit hulle met die voorraad en moet hulle dit dra. Boonop staan hulle die kans om dit te moet ver­nietig omdat die kieming van kanolasaad ’n probleem raak hoe ouer dit word.

Saadbeskikbaarheid
Kanolasaadbeskikbaarheid is die afgelope paar jaar ’n probleem in Suid-Afrika. Ondanks die onvermydelike probleme wat tans ervaar word wat buite menslike beheer is, sal saadmaatskappye in die toekoms moet fokus op beter beplanning en kommunikasie. Die doeltreffendheid van die waardeketting moet ook ondersoek word sodat die probleem van saadtekorte vir ’n gewas wat al sterk in Suid-Afrika gevestig is, nie voortduur nie. Dit blyk wel volgens inligting van saadverskaffers ontvang dat voldoende saad in 2024 in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, met moontlik tekorte van slegs PHI44y94 wat ervaar kan word.

In 2022 was die verdeling in kanola-aanplantings soos volg: 39% van die op­­pervlakte is geplant met Clearfield-kultivars; 33% met konvensionele kultivars en 27% met TT-kultivars. Interessant genoeg lyk die prentjie in 2023 heel anders. Hierdie verandering kan toegeskryf word aan tekorte wat ervaar is en produsente wat nie kultivars kon plant wat hulle normaalweg sou nie (Grafiek 1).

Grafiek 1: Kanolakultivars per groep volgens 2023-aanplantings.
Bron: SOILL

Hanteer kanolasaad­probleme so
Ingevolge die Plantverbeteringswet word saad se kieming en suiwerheid beskerm, met die minimum ontkiemingsvereistes vir kanola wat 60% is. Vir gesertifiseerde saad moet die ontkieming ten minste 70% wees, maar die meeste maatskappye waarborg tussen 80% en 90% of 90% en100%.

Dit is belangrik dat saad by ’n erken­de maatskappy met ’n bewese rekord in Suid-Afrika gekoop word. Dit is altyd goed om ’n kontrole te hê om na te verwys, probeer dus om nie net een kultivar aan te plant nie.

Wenke wanneer vermoed word daar is fout met die saad
Indien enige saadprobleme vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gedoen word:

  • Dring by die saadverteenwoordiger op ’n ondersoek ter plaatse aan.
  • Hou rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames.

Indien die probleem nie opgelos word nie, moenie te lank wag voordat die volgende stappe oorweeg word nie:

  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.
  • Lede kan Graan SA in kennis stel indien die nodige aandag nie by die saadmaatskappy verkry is nie.
  • Neem die saak met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) op indien die saak steeds nie opgelos word nie.
  • ’n Handelskontrole-ondersoek sal gedoen word ingevolge die Plantverbeteringswet.

Gaan só te werk, sê DALRRD

  • Produsente word aanbeveel om rekord van lotnommers of kodenommers te hou.
  • Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat van die kwaliteit van die spesifieke saadlot aangevra te word wat deur ’n geregistreerde saadlaboratorium uitgereik is. Hierdie uitslae behoort nie ouer as drie maande te wees nie.
  • Produsente word aange­raai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is te bewaar sowel as die faktuur wat uitgereik is.

Kontakpersoon by DALRRD
Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger Phillip du Toit: Stellenbosch, 021 809 1656 of PhillipDT@Dalrrd.gov.za