GSA fokus vanjaar hierop

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 6 Februarie 2024

430

Ter voorbereiding van Graan SA se Kongres het daar gedurende Januarie en Februarie vanjaar 38 streeksvergade­rings plaasgevind. Die vergadering in Streek 32, een van die winterreënstreke, wat op 24 Januarie in Swellendam plaasgevind het, is goed ondersteun.

Tydens dié vergadering het die organisasie se fokusareas vir die jaar aandag geniet. Dit sluit in die ekonomiese volhoubaarheid van produsente asook om die betrokkenheid van jong produ­sentelede te verhoog om die breër ledebasis van Graan SA uit te brei. Die belangrikheid van effektiewe kommunikasie is ook uitgelig.

Die byeenkoms het aan die produsente van Streek 32 die ideale geleentheid gebied om Graan SA se nuwe hoof- uitvoe­rende beampte, dr Tobias Doyer, te ontmoet. Hy het die vergadering herinner dat die organisasie die verlengstuk van die produsente is en dat dit namens hulle die landboubesigheidsomgewing moniteer sodat produsente beter geposisioneer is om op hul boerdery te konsentreer. Dr Doyer het die borge bedank vir hul betrokkenheid en bydrae om van die geleentheid ’n sukses te maak.

Terugvoer oor Graan SA se aktiwiteite
Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, het produsente in die Wes-Kaap gelukgewens vir hul vlak van betrokkenheid tydens die streeksvergaderings. “Julle is ’n voorbeeld vir almal.” Hy het ook ’n mosie van dank aan die Wes-Kaapse streke vir hul betrokkenheid voorgelê.

In sy terugvoer oor Graan SA se aktiwiteite het hy verduidelik waarom streeksvergaderings van belang is en benadruk dat die organisasie se hoofdoel is om te sien dat produsente winsgewend boer. Hy het die nuwe model en struktuur van Graan SA bespreek en beklemtoon dat die organisasie aan produsente behoort. Dit is ook waarom die 368 afgevaardigdes hul stemme op Kongres moet laat hoor.

Jose de Kock, ondervoorsitter van Graan SA se Wintergraanwerkgroep, het ’n oorsig oor garsproduksie in die streek gelewer en die knelpunte in die bedryf uitgelig. Gars vorm ’n groot deel van saaiboerderystelsels in die Wes-Kaap en die afgelope nat seisoen het produksie bemoeilik. “Garskultivars bly ’n probleem en nuwe kultivars is nodig,” het hy gesê.

Die monitering van kunsmis- en dieselkwaliteit, lede-dispuutoplossing en uitvoermarkte is van die fokusareas waaroor Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, verslag gelewer het. Produsente wat probleme ervaar met dieselrabat-terugbetalings kan hom kontak vir hulp.

Heleen Viljoen, landbou-ekonoom by Graan SA, se ondersoek na ’n alternatiewe liggingsdifferensiaal toon dat die differensiaal minder as R800/ton sal wees – wat opwindende nuus vir koringprodusente is. Die JSE het egter net ingestem om die alternatiewe metodiek vir sojabone van Maart af te toets. Graan SA is vol hoop dat dié alternatiewe metodiek in die toekoms ook op koring getoets kan word.

As hoofborge van die geleentheid het Nedbank en SSK se verteenwoordigers elk ’n spreekbeurt ontvang. Daneel Rossouw, hoof van verkope vir landbou by Nedbank Kommersiële Banksake, het gepraat oor hoe kompleks landbou is en met hoeveel uitdagings produsente te make het. Hy het uitgebrei oor die klimaatverwante uitdagings wat landbou oor die volgende tien jaar sal moet trotseer. “Ek glo biosekuriteit en naspeurbaarheid gaan al hoe belangriker raak in landbou.”

Francois Swanepoel, hoof- uitvoerende beampte van SSK, het ’n oorsig gegee oor die kapitaalbehoeftes van landboubesighede en verduidelik hoe SSK se wins die uitbreiding van bergingskapasiteit moontlik gemaak het. Hy het verder gesels oor hoe landbou in Suid-Afrika vandag lyk teenoor ’n paar jaar gelede en het uitgewys dat die aantal landboubesighede en produsente wat aktief boer gedaal het. Hy het produsente aangemoedig om betrokke te bly en afgesluit met Derek Mathews se aanhaling van oud-Hoofbestuurslid Kallie Schoeman: “As jy nie om die tafel is nie, is jy op die spyskaart.”

Rossouw Swart (hoofbestuurslid vir Streek 32) was die gasheer vir besoekers en Graan SA-lede by die streeksvergadering in Swellendam. Hier is hy saam met Francois Swanepoel (SSK), Derek Mathews (Graan SA-voorsitter), Daneel Rossouw (Nedbank), dr Tobias Doyer (Graan SA se nuwe HUB) en dr Stephen Harris.
Corné Louw en Heleen Viljoen (Graan SA-ekonome) by MJ Swart (streeksbestuurder: Bemarking en Landbou-ontwikkeling in die Wes-Kaap), wat ’n opsomming van die ledeheffings gegee het.