Niks klop noukeurigheid nie

Gepubliseer: 13 Desember 2023

232

Johann Pistorius is ’n produsent met ’n groot passie vir boer­dery. Dié passie gaan egter dieper as net boer – dit is diep gesetel in die grond, gekoppel aan sy noukeurige bestuur en sy honger na kennis.

Pistorius boer in die Val-omgewing naby Standerton in Mpumalanga waar hy ’n geïntegreerde gemengde boerdery bedryf.

Sedert hy die eerste keer in 2020 in die Groei vir Goud-opbrengs­kompetisie se afdeling vir droëlandmielies wat in die oos­telike-Hoëveldstreek verbou word ingeskryf en gewen het, getuig sy jaarlikse resultate van harde werk in tandem met die seëninge wat hy ontvang het. “Vir my is dit ’n ongelooflike voorreg om elke dag op te staan en te doen waarvoor ek lief is. Ek beskou alles wat ons ontvang as genade.”

In 2020 het Pistorius gewen met ’n opbrengs van 15,26 t/ha. In 2022 het hy twee rekordopbrengste van 17,59 t/ha en 17,28 t/ha gelewer, waarvoor hy beloon is met ’n eerste en ’n tweede plek in die kompetisie. Vanjaar het hy weer die 17 ton-merk oorskry met ’n opbrengs van 17,244 t/ha met die Pannar-kultivar PAN 3R-524R.

Die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op 26 Oktober 2022 met ’n Equalizer Stack Fold-planter geplant en op 28 Junie 2023 met ’n Claas Lexion-stroper gestroop. “Ons reënval op die land wat vir die kompetisie ingeskryf is, was 695 mm tussen 1 September 2022 en 30 April 2023. Die rywydte van die gedeelte wat ingeskryf is, was 76,2 cm (30 duim in die ou taal) teen 67 000 pitte/ha.

Pistorius se boerderyfilosofie berus op drie bene: noukeurige rekordhouding, liefde vir die natuur en toepassing van kennis geba­seer op akkurate inligting. “Ek verkies om saam met die natuur te boer en hierdie benadering het my nog nooit in die steek gelaat nie.”

Behoorlik bestuurs- en finansiële rekordhouding is vir hom deur­slaggewend. “Rekordhouding vorm die grondslag van alle besluit­neming in my boerdery. Noukeurige rekordhouding maak dit maklik om tendense en foute raak te sien, maar dan is dit net so belangrik om hierdie aspekte dienooreenkomstig te bestuur. Die inligting wat ek uit my data kry, help om onnodige risiko’s te vermy,” sê Pistorius.

Meer as 20 jaar se verwerkte stroopdata word gebruik wanneer hy voorberei vir die volgende jaar se plantseisoen. Hy baseer die bemesting wat hy variërend toedien asook die plantestand op hierdie stroperdata, met inagneming van ’n spesifieke land se vogstatus en die langtermynweervoorspellings vir die seisoen.

Johann en sy vrou, Elisca, saam met hulle vier kinders: Elizé (8), Wilrich (7), Rianke (5) en Mihannri (4).

Kernbeginsels toegepas
Hy glo daarin om jaarliks as mens asook in boerdery te probeer verbeter, maar hy meen verder bestendigheid is belangrik. “Hoewel ’n mens nie bang moet wees om die grense te toets nie, is sekere kernbeginsels in die boerdery ononderhandelbaar,” beklemtoon hy.

Sy waarskuwing is dus om nie halsoorkop te werk te gaan nie. “Alhoewel ek aanhoudend die produksie- en opbrengsgrense toets en nuwe doelwitte daarstel, moet die eindresultaat altyd ekonomiese sin maak. Behoorlike beplanning, deeglike navorsing en die basiese finansiële en besigheidsbeginsels bly altyd belangrik. Geen besigheid of boerdery kan sonder hierdie gesonde beginsels funksioneer nie. Die goue balans tussen opbrengs en wins moet altyd gehandhaaf word.”

Pistorius spandeer heelwat tyd aan die bestuur van grondvrugbaarheid. Hy wys daarop dat die aksies wat hy implementeer om vog te bewaar saam met die gebruik van die nuutste beskikbare presisietegnologie hom in staat stel om sy produktiwiteit op te stoot terwyl hy steeds sy hulpbronne verantwoordelik benut. Hy pas wisselbou toe met sojabone.

Hy is ’n groot voorstander van minimumbewerking omdat hy vas oortuig is daarvan dat die meeste vog so bewaar word. “In die verminderdebewerkingstelsel word die oesreste op die bogrond gelaat. Hierdie plantreste voorkom nie net wind- en watererosie nie, maar bou ook mettertyd die organiese materiaal in die boonste grondlaag op en help so met beter grondstruktuur, die tempo van waterinfiltrasie asook vogbewaring in die grond. Vog in die grond is ’n groot pluspunt aan die begin van ’n nuwe plantseisoen.”

Pistorius se veevertakking bestaan uit ’n Droughtmaster-stoet, kommersiële beeste, embrio-ontvangers en ’n voerkraal.

“Ek het ’n groot passie vir genetika en geniet die beesboerdery baie. Die Droughtmaster-ras is ’n groot stimulus vir my. Die ras is wyd aangepas in suidelike Afrika en presteer ongelooflik goed by kommersiële beesboere asook in die voerkraal. Ek glo hierdie is ’n beesras wat nog diep spore in die land gaan trap. My ideaal is om beeste met topgenetika aan die bedryf beskikbaar te stel. Ek pas dieselfde beginsels toe as wat ek in die saaiboerdery toepas.”

Pistorius voel sterk oor goeie onkruidbeheer. “Deeglike kennis van die onkruide wat in jou lande voorkom asook van die onkruiddoders wat nodig is om hierdie onkruide te beheer, is uiters belangrik. As ’n mens oor hierdie kennis beskik, is dit moontlik om die korrekte kombinasie onkruiddoders tydig toe te dien.”

Omdat hitte-eenhede in hulle omgewing met planttyd ’n beperkende faktor kan wees, het Pistorius sy verbouingstelsel so verfyn dat hy in staat is om vroeg te plant. Dit gee die voordeel dat die gewasse die optimum groeitydperk kan hê.

Gedurende die voorseisoen was dit uiters nat en ook koel. Hier­die omstandighede het bykomende uitdagings meegebring soos om te verseker dat die saailinge uit die blokke kom.

Pistorius in een van sy sojaboonlande.

Proewe op die plaas
Pistorius glo dit is noodsaaklik om eie proewe op die plaas te doen. “Eie proewe stel my in staat om nuwe tegnologie en nuwe produkte op die proef te stel en om te vergelyk hoe dit presteer in vergelyking met dit wat tans in die mark as standaard dien. Ek dink dit is wys om nuwe idees en produkte eers op klein skaal te toets. Wanneer dit dan blyk dat die idee meriete inhou op ekonomiese asook bestuursvlak, kan ’n mens die proewe uitbrei of die idee verder implementeer.”

Hy beklemtoon dat alles wat hy ontvang en bereik het net moontlik is deur die genade van die Here. “My geloof bly die hoeksteen waarop ek my boerdery en my lewe bou. Ek kan so goed as moontlik probeer boer en fyn beplan in ’n poging om alle risiko’s noukeurig te bestuur, maar as die Here nie deel van my boerdery is nie en Hy ons nie seën met sy genade nie, sal ek geen sukses behaal nie.”

Sedert die ontstaan van die Groei vir Goud-opbrengskompetisie het Pistorius al bewys dat sy wetenskaplike en noukeurige benadering tot boerdery vir hom die moeite werd is. Vanjaar het hy weer die 17 ton-opbrengsmerk oorskry.