Bemarking net so belangrik as produksie

Gepubliseer: 13 Desember 2023

212

Oelof Grabie boer naby Bapsfontein, oos van Pretoria, op die plaas Moria saam met sy pa en sy swaer. Hy neem aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie deel omdat dit aan hom die geleentheid bied om homself teen ander produsente te meet.

Dit was die tweede jaar wat hy aan die kompetisie deelgeneem het. As tweedegeslagprodusent wat al 24 jaar op die plaas boer, meen hy die blootstelling wat hy kry aan ander produsente in ander streke en die praktyke wat hulle volg, is van onskatbare waarde. “Ek kan met ander boere gesels oor hulle suksesstories en by hulle kers opsteek oor die praktyke wat hulle volg. Daar is altyd iets wat jy op jou plaas en binne jou bestuursopset kan toepas om jou boerdery te verbeter.”

Grabie het ’n wenopbrengs van 14,631 t/ha gelewer vir mie­lies wat verbou word in die sentrale deel van die land. Dit is die vyfde jaar wat hy hierdie spesifieke kultivar, DKC64-54BR, plant en hy is uiters tevrede met die prestasie van die kultivar. Sy varieerbare koste vir die betrokke blok wat ingeskryf is, was R12 000/ton. Hy sê die koste weeg goed op teenoor die res van die boerdery, grootliks omdat hy die normale standaardpraktyke gevolg het. Die duurste komponent van sy insetkoste was kunsmis.

Die blok mielies wat vir die kompetisie ingeskryf is, is oor dieselfde kam geskeer as die res van sy mielie-aanplantings. Hy het 200 ha DKC64-54BR geplant asook ander DEKALB-basters. Al die mielies is middel Oktober 2022 geplant en aan die einde van Mei 2023 gestroop. Die rywydte van al die mielie-aanplantings is 76 cm en die plantestand 60 000 plante/ha. Grabie gebruik ’n Equalizer-planter en het met ’n Case 7250 gestroop.

Wanneer Grabie ’n besluit oor ’n nuwe kultivar moet neem, kyk hy na opbrengs, siekteverdraagsaamheid en die tyd van afdroging. Die siektedruk in die omgewing is hoog, veral blaarsiektes.

Op Moria word mielies en sojabone in ’n wisselboustelsel verbou. ’n Derde van die aanplantings is sojabone en hy wissel die lande af tussen die twee gewasse. Die ander vertakking van die boerdery is lêhenne en die mielies word in die hoenders se voer aangewend.

Wat presisieboerdery betref, is die boerdery gerat om op grond­regstellings te fokus. “Ons doen baie moeite om ons grond reg te hanteer en daarom doen ons jaarliks na stroop grondontledings. Ons kombineer stroperdata en grondontledings en met behulp van die presisietegnologie in ons planters, probeer ons om ons grond optimaal te bestuur en benut.”

Oor die afgelope twee dekades wat Grabie boer, het hulle hul praktyke al hoe meer toegespits op presisieboerdery. Aan die een kant is grondbewerkings verminder, terwyl daar aan die ander kant meer klem geplaas is op grondgesondheid.

Hulle volg ’n minimumbewerkingstelsel en voor plant sal hulle ’n diep tandbewerking doen. Wat onkruidbeheer betref, spuit hy glifosaat voor plant wat dan opgevolg word met ’n vooropkomson­kruiddoder wat tydens plant toegedien word. Hy sal na opkoms weer opvolg met ’n bespuiting om veral grasse en purperwinde te beheer.

Wat bemesting betref, strooi hy kalk saam met hoendermis op die lande. Met plant dien hy ’n plantermengsel van 11:7:4 saam met ’n topbemesting bestaande uit ammoniumsulfaat toe.

Oelof Grabie op die plaas Moria naby Bapsfontein, oos van Pretoria.

Van nat voorjaar tot midsomerdroogte
Aldus Grabie was die 2022/2023-seisoen se grootste uitdaging die verspreiding van die reën. “Die wisselvalligheid van die reën was ’n probleem. Dit het vreeslik op een slag gereën en dan daarna weer niks nie. Waar ons dus met ’n nat voorjaar begin het, het ons hier in Januarie en Februarie min reën gehad met uiters warm toestande. Toe strooptyd aanbreek, het ons weer gesukkel om in die lande te kom as gevolg van die hoë reënval. Die reën het ons regtig talle kopsere besorg.”

Wat winsgewendheid betref, voel hy sterk dat hoër opbrengs­te nie ten koste van wins per hektaar moet wees nie. “Hoewel ek daarna streef om altyd beter te doen, is die doel nie om my produksiekoste op te jaag nie, maar om oor die algemeen beter te boer. Ek kyk of ek ’n hoër opbrengs kan behaal met insetkoste wat met die omgewing se koste vergelyk.”

Grabie plant jaarliks vir Bayer DEKALB-kultivarproewe. Hy sê die inligting en kennis wat hy hiermee opdoen, pas hy op die res van sy boerdery toe. Verder woon hy boeredae by en doen heelwat navorsing op die internet.

Sy raad aan jong en voornemende produsente is om te onthou dat produksie en bemarking ewe belangrik is. “Jy moet aandag gee aan die bemarking van jou produk. Dit is hier waar jy geld kan maak of verloor en net soos insetkoste, bepaal bemarking of ’n mens winsgewend is of nie.”