Bier begin hier

Lani Viljoen, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 November 2023

337

Hoofrolspelers in die garswaardeketting – produsente, AB InBev as moutgraanverwerker en die Suid-Afrikaanse Garstelersinstituut (SABBI) – het op 7 September bymekaargekom vir ’n inligtingsdag wat deur AB InBev by hul navorsings-en-ontwikkelingsfasiliteit buite Caledon in die Wes-Kaap aangebied is.

Bryan Versfeld, direkteur: Vertikale Bedrywighede by AB InBev,­ het inligting met die produsente gedeel oor die maatskappy se planne en vordering betreffende vermouting in Suid-Afrika. Hul vermoutingsaanleg by Caledon, wat die grootste op die kontinent is, is besig om verdere opgradering te ondergaan as deel van hul mikpunt om binne die volgende paar jaar wêreldklasstatus te bereik.

Te midde van opwinding oor die Rugbywêreldbeker wat toe net sou afskop in Frankryk, het Thomas Lawrence, bemarkingsbe­stuurder van Castle Lager, AB InBev se vlagskipbier en borg van die Springbokke, die produsente ’n kykie gegee in die wêreld van bierbemarking.

Die garsbedryf, wat gesien word as ’n “moeiliker” wintergraanbedryf as byvoorbeeld koring en kanola, het eiesoortige uitdagings wat stikstofinhoud, opbergingsprobleme, kwaliteit en gradering asook siektedruk insluit.

Marna Esterhuizen, navorsings-en-ontwikkelingsbestuurder by AB InBev, het terugvoer gegee oor die vorige seisoen se garskwaliteit en wat rolspelers kan doen om dit te verbeter.

Klem is gelê op monsters wat vooraf deur produsente aan AB InBev gelewer kan word vir analise van die vog en totale graanstikstofinhoud voor oes sowel as op kommunikasie met landboukundiges sodat probleme so gou moontlik hanteer kan word.

Akkurate vermouting is noodsaaklik vir die bierbrouproses. Gars met ’n besonder hoë of lae stikstofinhoud kan nie mout van die vereiste kwaliteit vir bierbroudoeleindes produseer nie. Kwaliteit is dus deurslaggewend vir die volhoubaarheid van die bedryf.

Volgens Hennie Swart, garskwaliteitspesialis by AB InBev se garskwaliteitlaboratorium, is dit in belang van alle rolspelers dat gars nie afgekeur word as gevolg van kwaliteit nie – nie net vir die produsent nie, maar ook vir die vermouter en brouer.

Marina du Plessis (AB InBev) en Madelize Delport (African Grain Investments) in Amber Hills Brewery se hoëtegnologielaboratorium.

Nuwe tegnologie
Nuwe tegnologie word op vele fronte inge­span om die uitdagings van die bedryf aan te pak.

Garsopberging, wat hoofsaaklik deur landboubesighede soos SSK hanteer word, bly ’n tameletjie. Nuwe tegnologie kan ook hier help – deur byvoorbeeld verkoelers (chillers) in garsopbergingsbuise te installeer, kan daar nader aan internasionale bestepraktykstandaarde beweeg word.

Nuwe sorteringstegnologie asook ander hoëtegnologie-innovasies by die vermou­tingsaanleg sal bydra tot minder vermorsing, debottlenecking en algeheel beter effek­tiwiteit.

Navorsing
Daniël de Klerk (garsteler) het produsente op hoogte gebring van wat SABBI doen om te sorg dat die beste nuwe variëteite so spoedig moontlik geteel word. Alhoewel die doel deurlopend is om die teelproses deur middel van tegnologie te bespoedig, bly dit ’n komplekse proses wat jare duur om genetiese vooruitgang te bewerkstellig. Vir gars om kompeterend teenoor ander gewasse te bly, is optimale teelpyplyne noodsaaklik vir die ontwikkeling van nuwe klimaatveerkragtige garsvariëteite.

Marina du Plessis is die vermouter en brouer by Amber Hills Brewery, AB InBev se minibierbrouery op die perseel. Hier word navorsing oor vermouting en bierbrou gedoen by ’n indrukwekkende hoëtegnologiefa­siliteit met goed toegeruste laboratorium. Sy het die proses aan die produsente verduidelik.

Richard Krige, visevoorsitter van Graan SA en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT), het die dag bygewoon in sy kapasiteit as garsprodusent. Hy het weer die belangrikheid van die vrywillige hef­fing deur produsente aan SAWCIT beklemtoon, juis sodat bedryfsfunksies nie negatief beïn­vloed word tot nadeel van alle rolspelers in die bedryf nie.

Dit is belangrik dat al hierdie uitda­gings deur die waardeketting as ’n geheel aangepak word in die gesamentlike strewe na volhoubaarheid en winsgewendheid vir almal in die bedryf. Onderlinge kommunikasie is van deurslaggewende belang in hierdie verband, met hierdie soort dae wat daar­toe bydra.

Werner van der Heyde (veldoffisier) besig met kruisings op garsvariëteite in SABBI se glashuis – ’n taak wat skerp oë en fyn handewerk vereis.