Graan SA-personeellid ontvang pluimpie

Gepubliseer: 6 Oktober 2023

454
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Landbouskrywers SA Noord het onlangs tydens ’n toekenningsgeleentheid in Pretoria sy provinsiale wenners in die afdelings vir Boer van die Jaar, Landboukundige van die Jaar en Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou aangewys. Die kandidate is deur lede van dié liggaam benoem en gaan nou deur ’n paneel van onafhanklike beoordelaars saam met kandidate van die !Xariep-streek (Wes-, Oos- en Noord-Kaap) beoordeel word voor die nasionale toekenningsgeleentheid wat op 17 November in die Wes-Kaap plaasvind.

Die wenners in die onderskeie kategorieë is:

LANDBOUKUNDIGE VAN DIE JAAR
Vanjaar se fokus is op landbou-ekonome in die Landboukundige van die Jaar-afdeling.

  • Corné Louw (Gauteng) – benoem deur Magda du Toit
  • Prof Frikkie Maré (Vrystaat) – benoem deur Petrie Vogel

BOER VAN DIE JAAR

  • Jimie Malan (Gauteng) – benoem deur Hanlie du Plessis
  • Dewald te Water (Mpumalanga) – benoem deur Gerrit Bezuidenhout

NUWE TOETREDER TOT KOMMERSIËLE LANDBOU
In hierdie kategorie val die fokus op boere wat in die afgelope tien jaar die sprong van bestaansboer na kleinskaalse boer na volwaardige kommersiële produsent gemaak het, reeds sukses op verskeie vlakke behaal het en steeds vooruit boer.

  • Sophy Musabeni Litshani (Gauteng) – benoem deur Hanlie du Plessis
Landbouskrywers SA Noord het onlangs tydens sy toekenningsgeleentheid in Pretoria sy provinsiale wenners in die afdelings vir Boer van die Jaar, Landboukundige van die Jaar en Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou aangewys. Van links: Dewald te Water, Boer van die Jaar: Mpumalanga; Jimie Malan, Boer van die Jaar: Gauteng; Jaco du Preez van New Holland; Sophy Musabeni Litshani, Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou: Gauteng; Prof Frikkie Maré, Landboukundige van die Jaar: Vrystaat; Suzanne Oosthuizen van Rijk Zwaan; Lindi Botha, voorsitter van Landbouskrywers SA Noord; en Johan Bezuidenhout van NWK. Afwesig: Corné Louw, Landboukundige van die Jaar: Gauteng.

Corné Louw
Corné Louw is benoem as erkenning vir sy bydrae tot die strewe na winsgewendheid van graanprodusente in Suid-Afrika. Sy passie vir die bedryf en die insig wat hy in die plaas-, bedryfs- en georganiseerdelandbou-omgewings het, is van onskatbare waarde.

Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA, is onlangs vereer as Landbouskrywers SA Noord se Landboukundige van die Jaar vir Gauteng.

Hy lewer ’n uitstaande bydrae in die poging om die inset- en produksie-omgewing te beïnvloed ten einde die winsgewendheid van veral graanprodusente in Suid-Afrika te verbeter. In sy werk fokus hy op die unieke en individuele drywers van graanproduksiewinsgewendheid met spesifieke aandag op insette. Graan SA en die Toegepaste Ekonomie-span, wat deur Corné gelei word, was ook instrumenteel tot die eksponensiële groei van die sojaboonbedryf in Suid-Afrika.

Corné is gebore en getoë in Bloemfontein in die Vrystaat, waar hy aan Grey Kollege gematrikuleer (1999) en aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het. Hy het sy loopbaan by die Universiteit van die Vrystaat as navorsingsassistent begin, waar hy gehelp het met praktiese lesings aan die derdejaarlandbou-ekonomiestudente en aan verskeie navorsingsprojekte saam met professor André Jooste gewerk het.

Die projekte het onder meer die mededingendheid van die rooivleisbedryf in Suid-Afrika sowel as die Vrugtebedryfsplan vir Suid-Afrika ingesluit.

Hy het in 2005 by Graan SA aangesluit en in verskeie rolle gedien wat verband hou met landbou-ekonomie. Tans is hy die Hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste by Graan SA waar hy ’n dinamiese span landbou-ekonome lei in die bevordering van die beleidsomgewing in die graanwaardeketting, mark- en insetomgewing tot voordeel van graan- en oliesadeprodusente. Graan SA verskaf strategiese kommoditeitsinligting aan die graanprodusent in Suid-Afrika en op die voorpunt van hierdie dienste staan Corné Louw.

Sy kennis van en insig in die breë bedryf, veral sy begrip van landbou-insette, is ’n aanwins – nie net vir Graan SA nie, maar vir die hele bedryf. Produsente, landbou-administrateurs, insetverskaffers en die media waardeer die inligting en insigte wat hy verskaf.

Corné dien op die direksie van SACTA (die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap), is ’n trustee van SAWCIT (die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust) asook die Sasol Landboutrust en tree dikwels op as Graan SA se verteenwoordiger op bedryfs- en beleidsforums.

Hy praat gereeld by boeredae, kongresse, seminare, tree op as moderator of gasheer tydens kongrespaneelbesprekings en neem deel aan regerings- en bedryfsbesprekings wat nie net Graan SA verteenwoordig nie, maar ook die plaaslike produsent.

Corné is getroud met Hilda en het twee kinders, Lisa en Chris. Hy speel in sy vrye tyd in die Pretoriase muurballiga. Hy geniet dit om te hardloop, lees en die buitelewe te verken en geniet dit om sy kennis van biodiversiteit te verbreed, met ‘n spesifieke belangstelling in bome.

Lindi Botha, voorsitter van Landbouskrywers SA Noord, het tydens die geleentheid gesê ten spyte van ekonomiese druk wat wêreldwyd deur elke sektor gevoel word, bly landbou uitstaan as floreerder terwyl ander taan. “Dit is ’n getuigskrif van die weerstandigheid en innovasie van almal wat binne landbou staan. Vanaand neem ons die geleentheid om elkeen wat ’n rol speel om voedselsekerheid in die land te verseker, van produsente tot ekonome, insetverskaffers en bedryfsorganisasies, te eer vir hulle bydrae.”

Botha het gesê die pad vorentoe is egter met duwweltjies besaai. “Ten spyte van die sukses van ons landbousektor, dink ons ook aan diegene wat hulself in maak-of-breek-situasies bevind. Dit maak dit dus al hoe belangriker om saam te staan, verhoudinge te bou en saam te werk ten einde oplossings te vind.”

Sy het die finaliste gelukgewens, en gesê hulle is die verpersoonliking van passie, toegewydheid en vasberadenheid.

Heleen Viljoen en dr Dirk Strydom het Corné Louw se toekenning as Landbouskrywers SA Noord se Landboukundige van die Jaar vir Gauteng ontvang. Corné kon ongelukkig nie self die geleentheid bywoon nie, aangesien hy steeds in die buiteland was waar hy ’n internasionale kanolakongres in Australië bygewoon het. Van links is: Heleen Viljoen (Graan SA), Johan Bezuidenhout (NWK), dr Dirk Strydom (Graan SA) en Lindi Botha (voorsitter van Landbouskrywers SA).

Die oorhoofse boodskap van die paneelbespreking deur die geleentheid se borge was dat verhoudinge, stewige vennootskappe, aanpasbaarheid en deursettingsvermoë deurslaggewende elemente is in die sukses van produsente en ook landboukundiges.

Johan Bezuidenhout van NWK het daarop gewys dat betroubare vennootskappe een van die sleutelelemente is wanneer produsente deur onsekere tye in die gesig gestaar word. Hy het gewaarsku dat produsente versigtig moet wees wanneer hulle te midde van die klimaatsvoorspellings van die seisoen, belangrike finansiële besluite moet neem.

In die lig van die onsekerheid wat klimaatsomstandighede na die boerdery bring, het Suzanne Oosthuizen van Rijk Zwaan genoem dat die keuse van genetika wat aangepas is vir plaaslike omstandighede uiters belangrik is om van die risiko’s te mitigeer. Sy het verder daarop gewys dat, veral in die varsproduktebedryf, dit noodsaaklik is om in voeling te bly met die voorkeure van die verbruiker.

Jaco du Preez van New Holland het verduidelik dat produsente amper nie meer kan bekostig om sonder die ondersteuning van tegnologie te boer nie. “Wat ’n luukse was ’n paar seisoene gelede, is nou onontbeerlik om van die uitdagings in gewasproduksie aan te spreek.” Hy het bygevoeg dat hoewel van die tegnologie nie goedkoop is nie, die koste nie opgeweeg kan word teen die voordele wat koste- en bestuurseffektiwiteit, wins en volhoubare praktyke inhou nie.

Die Landbouskrywers SA Noord-geleentheid se hoofborge was New Holland Agriculture, NWK en Rijk Zwaan, gesteun deur Chemunique, Van Loveren en die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo).