Só ploeg hulle terug

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 1 Oktober 2023

342

Die ontwikkeling van landbou is van deurslaggewende belang vir Suid-Afrika se ekonomiese groei, armoede­vermindering en voedselsekerheid. Ten einde inklu­siewe groei in die landbou te bewerkstellig, is ’n groot belegging in die skepping van infrastruktuur vir produksie, verwerking, bemarking, plaasadvies­dienste en die ontwikkeling van sosiale kapitaal noodsaaklik.

Binne die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap bestaan daar al etlike jare verskeie suksesverhale wat sosialeverantwoordelikheidsprojekte betref. Die projekte het ten doel om boerdery en omliggende gemeenskappe te bevoordeel.

Deur ’n SA Graan/Grain-medianavraag aan landbou-maatskappye en -besighede rakende hulle sosialeverantwoordelikheids­projekte te rig, is kans gegun om van hierdie suksesverhale met lesers te deel. Senwes, NWK, Pannar, Corteva en CNH Industrial het die besonderhede van hulle bestaande projekte met ons gedeel.

Senwes
Die Senwes Groep het in 2013 ’n onafhanklike trust, genaamd Thobo Trust, gestig om korporatiewe sosiale beleggings van die groep te fasiliteer. Die doel was om die effektiewe en volhoubare ontwikkeling van landelike gemeenskappe deur die Senwes Groep se hele area te verseker en veral op die plaaswerkers te fokus.

Thobo Trust dra by tot verskeie projekte wat begin is vir die ontwikkeling en volhoubaarheid van landelike gemeenskappe deur vroeëre kinderonderwys, voedselsekerheid, sport en infrastruktuur.

Senwes Spinners-plaasskoolprogram
Die Senwes Spinners-plaasskoolprogram bestaan reeds 16 jaar. Deur dié program werk Senwes saam met verskeie korporatiewe en private vennote om die lewens van jong kinders in landelike gemeenskappe landswyd te verryk.

Daar is saam met Krieket Suid-Afrika (KSA), die Vrystaatse Krieketunie en Perfect Bounce gewerk om krieketnette en ’n mobiele kombuis by die Itokisetseng Gekombineerde Plaasskool in die Wesselsbron-omgewing te installeer. Die skool is naby Senwes se Losdoorns-silo geleë.

Itokisetseng is die tweede plaasskool wat op hierdie manier by die Senwes Spinners-program baat. Laerskool Rabana in Ventersdorp het ook gedurende 2019 ’n krieketfasiliteit en ’n mobiele kombuis ontvang.

Ander projekte
Senwes se jaarlikse Kersboomgeleentheid bied ’n dag vol pret, geskenke en ’n lekker ete vir behoeftige kinders en volwassenes.

Francois Strydom, groephoof- uitvoerende beampte, vertel dat die Kersboomprojek meer is as net ’n trotse Senwes-tradisie. “Dit is ’n manier waarop Senwes-personeel op ’n tasbare wyse demonstreer dat hulle omgee vir sy gemeenskap. Die projek is ook ’n manier waarop Senwes-personeel deur hul optrede en met borge se hulp en betrokkenheid die hartklop van Senwes na die buitewêreld kan wees: ’n hartklop wat sterk en gesond klop vir mense,” het hy bygevoeg.

Aan die einde van 2022 het Thobo Trust ’n geleentheid geïdentifiseer om volhoubare groentetuine by ander skole in die Dr Kenneth Kaunda-distrik in die Noordwes te vestig. Die projekte is nog in beplanningsfase.

In April vanjaar is die Marobarab-speletjieprojek geloods met toernooie wat by skole aangebied is.

Senwes het krieketnette en ’n mobiele kombuis by die Itokisetseng Gekombineerde Plaasskool in die Wesselsbron-omgewing geïnstalleer.
Reggie Mchunu van Pannar Seed (regs) het Brookside Farm vroeër vanjaar besoek en was baie beïndruk met die gehalte van die mielie-oes en die prestasies van hierdie alliansie tussen ge­vestigde en opkomende kommersiële boere.
Benedict Modise (links) en Ephraim Matshane van NWK saam met ’n leerder van Laerskool Molekane.

NWK
Johan Bezuidenhout is die groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK. Hy verduidelik dat hulle model vir korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid geskoei is op die maatskappy se raamwerk vir konsekwente en volhoubare betrokkenheid, oordeelkundige gemeenskapsgeoriënteerde spandering en ’n verbintenis tot en samewerking met plaas­like gemeenskappe om hulle op te hef en volhoubaar te verbeter.

Kennis is mag
Opheffing van veral jongmense is vir NWK van kardinale belang, omdat hulle deeglik besef dat die jeug die toekomstige werknemers en selfs leiers van NWK is.

Die maatskappy vat daarom reeds die afgelope twaalf jaar hande met die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus ten einde die Ikateleng-projek aan te bied (Ikateleng beteken “om jouself te bemagtig” in Tswana). Dié projek bestaan reeds 33 jaar en rus leerders toe om matriek met onderskeiding te kan slaag, in hul tersiêre studies uit te blink en suksesvolle loopbane te vestig.

2022 se 21 matriek-toppresteerders in die skooldistrik is op 31 Januarie vanjaar by ’n funksie van Noordwes se departement van onderwys vereer, waar hulle elkeen ’n splinternuwe skootrekenaar, geborg deur NWK, ontvang het. NWK het die afgelope tien jaar 187 skootrekenaars ter waarde van meer as R1,7 miljoen geskenk. Wat hierdie skenking vir NWK selfs méér spesiaal maak, is dat baie van hierdie toppresterende matrikulante die “produkte” van die Ikateleng-projek is.

NWK bied verder sedert 2012 jaarliks die Skoolskoenprojek aan. Behoeftige laerskoolleerders in Ditsobotla ontvang hierdeur splinternuwe skoolskoene, kouse, mussies,­ skoenpolitoer en -borsels. Sowat 5 500 leerders het sedert die projek se ontstaan hierby gebaat.

Emrike Leersentrum is ’n private leersentrum in Lichtenburg vir leerders met spesiale behoeftes en leergestremdhede. Dit is in Mei 2019 gestig en groei teen ’n snel tempo, omdat dit die enigste skool van sy soort in die gebied is. Daar het vinnig ’n dring­ende behoefte aan bykomende klaska­mers ontstaan en NWK het boumateriaal voorsien.

Stokke swaai vir ʼn goeie doel
Grip4Charity is sekerlik die grootste gebeurtenis op NWK se welwillendheidskalender. Die maatskappy se verskaffers kom jaarliks bymekaar om ’n potjie gholf ten bate van vooraf geïdentifiseerde begunstigdes te speel.

Duisende rande word ook met ’n wynveiling tydens die aandfunksie ná afloop van die gholf ingesamel. Die gholfdag is vir die eerste keer in 2006 aangebied en daar is reeds R2,4 miljoen vir 31 begunstigde instellings ingesamel.

NWK help om vervalle paaie te herstel
NWK het in 2022 begin om grondpaaie in sy bedieningsgebied in die Noordwes te laat skraap. Dit het gevolg nadat hulle ’n memorandum van verstandhouding met Noordwes se departement van openbare werke, paaie en vervoer onderteken het, waarvolgens dit sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak.

Vanjaar is daar weer sowat 1 400 km se grondpaaie teen ’n koste van nagenoeg R1,4 miljoen geskraap. Die maatskappy skenk ook gereeld teer, ’n snyer en roller waarmee slaggate gevul word. Nie net vind produsente wat hul oeste by NWK se silokomplekse moet kry hierby baat nie, maar ook plaaswerkers en kinders wat met hierdie paaie by hul werkgewers en skole moet uitkom.

Hulp vir vroue
Lede van die Vrouelandbou-unie het die Delareyville-laslappieprojek op die been gebring om vroue in hul gemeenskap toe te rus met naaldwerkvaardighede. Hierdie vroue word geleer om dekens en hand­sakke uit los stukkies lap te maak wat hulle vir ’n bykomende inkomste kan verkoop. NWK voorsien gereeld lap, naaimasjiene, snyborde, skêre en watteersel wat die vroue kan gebruik.

Thusanang Trauma Centre in Lichtenburg is op die been gebring deur ’n slag­offer van geslagsgebaseerde misdaad wat ander vroue in hierdie situasie van hulp wou wees. Hierdie organisasie bied ’n heenkome vir vroue en mans wat in gewelddadige verhoudings vasgevang is, help hulle om kriminele klagtes te lê en staan hulle by in die howe. NWK het al vir hulle ’n voertuig aangekoop waarmee hulle slagoffers kan vervoer en het verlede jaar ’n kragopwekker, watertenk, tuingereedskap en saad geskenk waarmee ’n tuin begin is.

Diere nie vergete nie
NWK het ’n sagte plekkie vir diere sonder ’n heenkome en skenk maandeliks kos en skoonmaakmiddels aan Lichtenburg Dierewelsyn. Soos die res van die dorp gaan dié niewinsgewende organisasie gereeld gebuk onder gebrekkige watervoorsiening en NWK laat dan water, uit sy eie boorgat gepomp, hier aflewer. Daar staan ook daag­liks ’n tenk met boorgatwater voor NWK se hoofkantoor waar huisgesinne 100 liter per dag kan kom tap.

Pannar
Pannar is betrokke by die Harry Gwala Agri-indiensopleidingsprogram wat vroeg in 2018 bekend gestel is en is sedertdien die primêre befondser van die projek. Die maatskappy het sedert die eerste befondsing meer as R1 000 000 in die studente belê deur middel van die toelaes wat hulle ontvang het terwyl hulle hul opleiding ondergaan het.

In 2021 het Corteva Agriscience sy eerste Women Agripreneur-program in Suid-Afrika (SoilSistas) van stapel gestuur, gefasiliteer deur die Gordon Institute of Business Science se Entrepreneurship Development Academy.

Die program is ontwikkel om studente in die Harry Gwala-distrik te help om hul plaasbestuursdiplomas te verwerf, hoofsaaklik by die plaaslike Esayidi TVET College.

Nadat hulle hul teorie voltooi het, word studente met plaaslike kommersiële produsente in die omgewing verbind om hulle te help om hul indiensopleiding te voltooi en praktiese landbou-erva­ring op te doen. Hierdie produsente help om studente vir ’n minimum van ses maande te akkommodeer en te mentor, of totdat hulle hul opleiding voltooi het.

Daar is bereken dat 66% van die alumni wat die indiensopleidingsprogram ondergaan het, nou in diens is of besig is om hul internskappe te voltooi. Boonop bly 93% in die landbousektor.

Corteva
Die Corteva Women Agripreneur-program (SoilSistas) is ’n baanbrekersinisiatief deur Corteva Agriscience wat daarop gemik is om geslagsgelykheid te bevorder en vroue in die landbousektor in Suid-Afrika te bemagtig. Die program is nou in sy derde jaar en is ontwikkel in samewerking met die Entrepreneurship Development Academy (EDA) by die Gordon Institute of Business Science (GIBS) by die Universiteit van Pretoria.

Hierdie program se primêre fokus is om vrouelandbouers van die nodige gereedskap, vaardighede en kennis te voorsien om in die landbou te floreer. Die inisiatief is ontwerp as ’n program van twaalf maande wat beide teoretiese en ervaringsopleiding bied. Deur hierdie kurrikulum verkry deelnemers noodsaaklike entrepreneuriese besigheids- en leierskapvaardighede wat hulle nie net in staat stel om hul landbou-ondernemings te bedryf nie, maar ook om daarin uit te blink.

Suksesse behaal
In 2021 het 33 uit 36 (92%) deelnemers suksesvol gegradueer. Die program bied verder verskeie netwerkgeleenthede. Deelne­mers skakel met ervare professionele persone en medeboere, wat hul kenniservaring verryk en ’n gevoel van gemeenskap bevorder. Verder moedig die program diversiteit en inklusiwiteit aan en deur strategiese mediavennootskappe versterk dit die stemme en erva­rings van sy deelnemers. Deur saam te werk met Wingman Communications en Food For Mzansi, vang die program kragtige beeldmateriaal en stories vas wat die prestasies en reise van die vroue beklemtoon. Hierdie mediablootstelling inspireer nie net ander nie, maar dra ook by tot ’n breër narratief van vroue se sukses in die landbou.

Corteva Agriscience se verbintenis tot die bemagtiging van vroue in die landbou strek verder as Suid-Afrika. Die maatskappy is verbind tot sy 2030-volhoubaarheidsdoelwitte en fokus op vrouebemagtiging in boerdery in verskillende gemeenskappe wêreldwyd. Hierdie verbintenis behels samewerking met plaaslike gemeenskappe en die jeug met die doel om ekonomieë op te hef en voedselsekerheid te bereik.

Inspireer en bemagtig
Miranda Hosking, besturende uitvoerende hoof: Maatskaplike Onderwys by GIBS, beklemtoon die program se belangrikheid om geslagsongelykhede binne die landbousektor te takel. Ten spyte van die beduidende teenwoordigheid van vroue in die landbou, duur ekonomiese ongelykhede en ongelyke werksgeleenthede voort. Deur vroue met effektiewe vaardighede en kennis te bemagtig, het die program die potensiaal om voedselonsekerheid te verlig en by te dra tot plaaslike ekonomiese groei.

Oor die algemeen is die Corteva Women Agripreneur-program meer as net ’n opvoedkundige inisiatief; dit het ten doel om vroue-agripreneurs te inspireer en te bemagtig. Die program rus deelnemers toe met die selfvertroue, vaardighede en kennis wat nodig is om suksesvolle landbou-ondernemings te bestuur en betekenisvolle bydraes te maak om die sektor te transformeer.

CNH Industrial het gesorg vir opgraderings by die NAMPO Bothaville-skool wat die oordoen van die skoolsaal asook die kleiner kinders se klaskamers en badkamers ingesluit het.

CNH Industrial
As deel van hul gemeenskapsverantwoordelikheid het CNH Industrial ’n betekenisvolle bydrae gelewer deur die opgradering van die NAMPO Bothaville-skool se fasiliteite. Hierdie opgraderings sluit die oordoen van die skoolsaal asook die kleiner kinders se klaskamers en badkamers in.

Die NAMPO Bothaville-skool, ’n steunpilaar in die gemeenskap, is al vir dekades betrokke by die opvoeding en ontwikkeling van plaaslike kinders. CNH Industrial se bydrae tot die skool het egter ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die skool begin deur die opgraderings wat die leeromgewing aansienlik sal verbeter.

Die onderneming het saamgewerk met ’n ervare kontrakteur om die projek aan te pak – met indrukwekkende resultate. Die skoolsaal is herontwerp en opgeknap om ’n meer gerieflike en moderne ruimte te bied vir vergaderings, geleenthede en lesings. Daarbenewens is die kleiner kinders se klaskamers en badkamers ook met liefde opgeknap, met die doel om ’n positiewe en aanmoedigende omgewing vir die jong leerders te skep.

Gemeenskapsbetrokkenheid en maatskaplike verantwoordelikheid is kernwaardes wat die basis vorm van CNH Industrial se sake-etiek. Hierdie projek by die NAMPO Bothaville-skool is net een van die vele maniere waarop die onderneming bydra tot die samelewing waarbinne dit bedrywig is. Hierdie verantwoordelikheid strek verder as net winsgewendheid en beklemtoon die belangrikheid van positiewe interaksie met en ondersteuning van die gemeenskappe waarin dit funksioneer.

Terwyl die opgraderings aan die NAMPO Bothaville-skool se fasiliteite ’n praktiese impak het, dien dit ook as ’n inspirasie vir ander maatskappye om betrokke te raak by die verbetering van plaaslike skole en gemeenskappe. CNH Industrial bly ’n toonbeeld van hoe die korporatiewe sektor ’n beduidende rol in die bevordering van onderwys en gemeenskapsontwikkeling kan speel.