Paspoortstelsel vir graan binnekort in werking

Dr Dirk Strydom, hoof: Bemarking, NAMPO en Navorsingskoördinering, Graan SA
Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA
Gepubliseer: 1 Oktober2023

785

Voedselveiligheid raak al hoe belangriker – die verbrui­ker raak meer gesofistikeerd en wil toenemend meer weet oor hoe voedsel geproduseer word en onder watter omstandighede. Hiermee saam is daar boonop die Verenigde Nasies se volhoubaarheidsdoelwitte wat addisionele druk op maatskappye binne die landbou- en korporatiewe omgewing plaas.

Goeiepraktyk-standaarde versus naspeurbaarheid
Dit is belangrik om te verstaan wat die verskil tussen goeiepraktyk-standaarde (wetlike vereistes) en naspeurbaarheid is. Met goeiepraktyk-standaarde word daar oor die algemeen geëvalueer of produsente hul gewasse binne die wetlike omgewing produseer en vervoer. Verder af in die waardeketting het elke deel van die ketting sy eie stel wetgewing wat nagekom moet word om seker te maak voedsel word veilig geproduseer. In die stelsel moet dokumentasie noukeurig bygehou word om die nodige bewyse te kan lewer indien dit verlang sou word.

Naspeurbaarheid is om die roete van die gewas te volg vanaf die produsent tot en met die eindverbruiker. Tesame met die spoor wat die gewas gevolg het, word daar boekgehou van die prosesse wat gevolg is asook die wetlike vereistes.

Internasionaal
Wat grane en oliesade betref, was dit wêreldwyd nog altyd ’n uitdaging om naspeurbaarheid te vestig. Die lande wat dit wel probeer het, het nog nie daarin geslaag nie. Dit is grootliks die aard van die produk wat die probleem is. Wat lande wel regkry, is goeiepraktykstandaarde, met Kanada as die mees onlangse voorbeeld, alhoewel dit nog nie met sukses gefinaliseer is nie. Die meeste van die stelsels wat wel bestaan, is vrywillig van aard of direk aan ’n koper gekoppel. Dié wat wel gereguleer of statutêr is, is gekoppel aan subsidiestelsels.

By hoëwaardegewasse soos vrugte is daar uiters gesofistikeerde stelsels met goeie naspeurbaarheid. Dit is grootliks weens die aard van die produkte asook die direkte kanaal van bemarking.

Wat grane betref, is daar nog min stelsels in ’n algehele sisteem. Die stelsels wat wel bestaan, is dié met direktekanaal-bemarking. Tipies sal dit wees waar enkelkopers betrokke is – soos by gars en kanola in Suid-Afrika – asook by nie-GMO-gewasse wat apart getoets en opgeberg word. Weens die feit dat grane en oliesade in losmaat hanteer word en vermeng word tydens opberging, is daar nog nie effektiewe werkbare stelsels in die wêreld nie.

Wat kan produsente plaaslik verwag?
Die bedryf is dit eens dat daar vir eers gekyk word na wetlike verpligtinge binne die hele waardeketting wat voedselveiligheid verseker. Na meer as vyf jaar se besprekings en onderhandelinge is die bedryf gemaklik daarmee dat elke deel van die waardeketting afteken op die wetlike aspekte van toepassing op daardie spesifieke deel.

Vir produsente is dit hoofsaaklik die gradering (wat tans outo­maties deel is van die sisteem) en Wet Nr. 36 van 1947 (te make met die toediening van landbouchemie en kunsmis) asook die higiëniese vervoer van die gewas.

Dit beteken dat ’n produsent as deel van die opbergings- en verkoopkontrak gaan moet afteken dat die gewas binne die rig­lyne van Wet Nr. 36 verbou is. In breë terme moet ’n produsent kan aantoon wanneer toedienings gedoen is en of dit volgens die rig­lyne op die etiket asook volgens die registrasie van die gebruik op die gewas toegedien is. Produsente gaan verder moet verseker dat die ver­voermiddels wat gebruik is skoon en higiënies is. Al die verantwoordelikheid is egter nie net die produsent s’n nie – die CropLife-adviseur (gewasbeskermingsagent) en Fertasa-adviseur (kunsmis­agent) gaan ook moet afteken dat voorskrifte wat gegee is en produkte wat gelewer is binne die raamwerk van Wet Nr. 36 plaasgevind het.

Die verklaring gaan nie op elke vrag geteken word nie, maar wel per kontrak wat aangegaan word. Vanuit ’n bedryfsoogpunt is die verwagte implementering van die stelsel vanaf 1 Oktober vanjaar op ’n vrywillige basis.

Hoekom is dit belangrik?
Nie net is dit om aan die verbruiker versekering te gee dat voedsel veilig geproduseer word nie, maar dit is ook belangrik vir uitvoer. Uitvoermarkte begin al hoe meer klem plaas op voedselveiligheidsaspekte soos maksimumresidulimiete.

Kortliks gestel gaan dit belangrik wees om goeie praktyke in te stel en te dokumenteer om seker te maak dat daar in die mark deelgeneem kan word. Indien die praktyke en dokumentasie nie in orde is nie, gaan dit al hoe moeiliker raak om die produk verkoop te kry.

Alhoewel die bedryf saamgestem het dat ’n eenvoudige stelsel in die huidige stadium van meer hulp gaan wees as geen stelsel nie, gaan daar wel in die toekoms meer vereistes kom. Daar sal deurlopend gewerk moet word aan die praktiese uit­voerbaarheid van die stelsels. Die meeste grane en oliesade is stapelvoedsels, wat beteken dat die tipe stelsels so koste-effektief as moontlik moet bly en nie ’n astronomiese koste vir die produsent of waardeketting inhou nie.

Opsomming
Voedselveiligheid raak toenemend belangrik binne die waardeketting. Alhoewel Suid-Afrika se produsente veilige kos van goeie gehalte produseer, is daar ’n behoefte vanaf die verbruiker dat die bewyse (dokumentasie) gelewer moet word en verwerkingsmaatskappye word fisies hierop geoudit.

Voedselveiligheid is vir graanprodusente ook uiters be­langrik. Aangesien ’n kommoditeit soos witmielies, anders as in ander wêrelddele, direk in die menslike stapelvoedselsisteem ingaan, is dit veral belangrik dat alles nodig gedoen word om veiligheid te verseker. Dit is egter deurslaggewend dat daar géén onnodige addisionele koste of heffings afgedwing word nie, spesifiek op stapelgraan- en oliesaadkommoditeite, aangesien dit die verbruikersprys van dié voedselsoorte direk sal verhoog. Verder is dit belangrik dat die stelsel selfregulerend is, aangesien dit die enigste manier is wat skakels in die waardeketting addisionele voordele uit so ’n sisteem sal kan trek. Dit moet dus vir die regte rede wees, naamlik om mededingendheid te verbeter. Die ou gesegde is mos “om te meet is om te weet” en daarom is daar vir alle skakels in die ketting geleenthede om beter te presteer deur beter te monitor. Daar is vele bewyse en gevallestudies uit ander voedselkommo­diteite waar naspeurbaarheid tot beter samewerking en sodoende verhoogde mededingendheid gelei het.

In die graan- en oliesadewaardekettings is dit egter meer van ’n uitdaging om ’n enkele pit of korrel te volg of te isoleer as gevolg van die losmaat- en massabergingsaard, anders as by ’n boksie of kassie vrugte of ’n karkas of ’n baal wol. Die feit is egter dat plaaslike en uitvoergeleenthede sekere vereistes stel betreffende maksimumresiduvlakke (MRV’s) wat gewoonlik met premies gepaard gaan. Alhoewel ’n voedselveiligheidsisteem nie bepaalde MRV’s sal waarborg nie, is dit ’n baie goeie aanduiding of voorspelling dat waar goeiepraktykvoldoening gedokumenteerd is, die produkte wel behoort te voldoen. Dit is dus nie ’n bekommernis nie, maar eerder ’n geleentheid vir produsente wat wel bereid is om produksiepraktyke te dokumenteer en sodoende aan te pas om hulself te onderskei van ander.

Die huidige beplande sisteem is eenvoudig: Almal binne die waardeketting moet afteken dat die wetlike verpligtinge nagekom is daar waar dit op hulle spesifiek van toepassing is. Soos genoem is dit in die geval van produsente die verbouing van gewasse binne die riglyne van Wet Nr. 36 en die higiëniese vervoer van gewasse. Klik op die QR-kode om ’n voorbeeld van die voorgestelde dokument te sien.

Naspeurbaarheid sal vir almal in die sisteem voordelig wees, maar die bedryf is dit eens dat as gevolg van die aard van grane en oliesade dit ’n baie moeilike taak sal wees wat tot uitermatige koste kan lei. Die druk gaan wel al hoe groter raak vir produsente om bewyse te lewer en ook toegang tot die mark te geniet as goeie praktyke nie gevolg word nie. Die paspoortstelsel is nie ’n penalisasie nie, maar eerder ’n geleentheid vir die produsent om homself te onderskei van die res.