Ons leer elke seisoen meer van sojabone

Gepubliseer: 4 September 2023

535
Dr Jan Dreyer, Proteïennavorsingstigting (PNS)

Gawie de Beer, Proteïennavorsingstigting (PNS)

Enige twee seisoene verskil in ’n mindere of (hoofsaaklik) meerdere mate van mekaar. Daar is egter ’n paar gemene delers by sojaboonproduksie wat aandag vereis. Vir die doel van hierdie artikel sal oorsigtelik gekyk word na veldwaarnemings gemaak en bronne geraadpleeg.

Grondkeuse en -voorbereiding
Binne die somersaaigebiede, met ’n klimaat wat geskik is vir wins­gewende mielieproduksie, sal sojabone kan meeding sou die grondkeuse reg wees. Gronddiepte kan deurslaggewend wees aangesien die sojaboonwortel tot 1 800 mm diep kan groei. Hierdie vermoë om dieper grondvog te benut, kan die gewas laat oorleef deur ’n droogteperiode. Die meeste vog word egter in die boonste 600 mm opgeneem.

Ongeag die grondtipe is ’n deeglik voorbereide, onkruidvrye saadbed noodsaaklik om gelyktydige opkoms te bevorder. Maak seker dat die regte planter vir die gekose bewerkingspraktyk gebruik word. Kluite, klippe en walle moet vermy word omdat dit die plantproses onegalig maak en stroophoogte beperk.

Kultivarkeuse
Die enkel belangrikste besluit wat enige produsent moet maak is kultivarkeuse. Omdat geen twee seisoene dieselfde is nie, is dit raadsaam om ’n pakket van kultivars te plant. Waar moontlik kan kultivars met verskillende groeilengtes ideaal wees om risiko te versprei en die oesperiode te rek.

Kultivarkeuse berus op goeie inligting. ’n Goeie begin is die jaarlikse sojaboonkultivaraanbevelings van die Landbounavorsingsraad (LNR). In hierdie verslag word die kultivars breedweg in drie produksiegebiede verdeel met kultivarresultate vir elke gebied. ’n Ander belangrike bron is proefresultate van saadmaatskappye, mede­produsente en veral eie proewe en waarnemings op die plaas.

Voordat ’n kultivarkeuse gemaak word, moet die klimaatsgebied, groeiseisoenlengte en selfs of ’n bepaalde land noord of suid front, bepaal word, want dit kan aanvangs­temperature beïnvloed. Neem die groeipatroon van ’n kultivar in ag, bosagtige versus regop groeiers kan rywydte en plantstand beïnvloed.

Teruggehoude saad word weens eko­nomiese redes algemeen in sojaboonverbouing gebruik. Maak baie seker dat die saad van ’n hoë kwaliteit is, want dis juis hier waar menige produsent pro­bleme ervaar. Hou in gedagte dat gesertifiseerde saad volgens ’n streng protokol geproduseer, skoongemaak en geberg word. Die teruggehoude saad moet dus met hierdie standaarde kompe­teer.

Bemesting
Die feit dat sojabone die vermoë het om voedingstowwe uit die grond te onttrek waar ander gewasse sukkel, hou egter ’n groot gevaar in. Die versoeking is daar om deur sojaboonverbouing die grond te myn. Enige praktyk waar die grondvoedingstatus nie in berekening gebring word en daar geen aanvullings is vir oesonttrekking nie, stuur af op ’n ramp. Gemiddelde waardes vir voedingstof­onttrekking, wat as ’n breë basis van beplanning kan dien, word in Tabel 1 weergegee.

Daar is geen plaasvervanger vir die akkurate neem en ontleding van grondmonsters op ’n gereelde basis om bemestings­beplanning te doen nie.

Met die optimalisering van die voedingstatus van die grond vir sojaboonverbouing is pH van die grootste belang omdat dit stikstofbinding beïnvloed. ’n Water-pH van 6 kan as optimaal gesien word.

Die afgelope seisoen het andermaal gewys dat ’n goed opgeboude grond wat bemes word om roofbou te vermy, nie net hoër opbrengste lewer nie, maar tot gevolg het dat sojabone beide droogteperiodes en versuiptoestande beter hanteer as gemynde gronde.

Mikro-elemente kom al meer op die voorgrond, veral kobalt en magnesium, maar plaaslike ondervinding is min. Produsente wat toediening oorweeg word aanbeveel om dit op beperkte skaal te doen en genoeg kontroles in te sluit. Neem verder in ag dat faktore wat noodsaaklik is vir suksesvolle blaarbespuiting onder meer die volgende insluit: die groeistadium van die plant, stresfaktore soos temperatuur en vogstatus van sojabone asook die draers (vorm) van die produk wat gebruik word.

Verbouingspraktyke
Pas verbouingspraktyke aan by die werktuie wat beskikbaar is. Maak seker dat plant­diepte egalig is en dat daar nie dieper as 50 mm geplant word nie. Plant in klam grond vir beide goeie ontkieming en stikstofbinding.

Rywydtes kan betekenisvol verskil, maar ’n gemiddeld van nie meer nie as 900 mm is ’n aanvaarbare riglyn. Oor die algemeen kan nouer rye hoër opbrengste lewer en onkruid vinniger oorskadu, maar moontlik ook vin­niger vog gebruik en siektes vermeerder.

Plantpopulasie sal altyd ’n debat bly, maar 300 000 plante/ha kan as vertrekpunt gebruik word. Hoe hoër die reënval en hoe later geplant word, hoe hoër mag die popu­lasie wees, so ook onder besproeiing. In gebiede met laer reënval sal die syfer daal. Neem die groeiwyse van die kultivar in ag.

Planttyd moet aangepas wees vir die gebied waarin geboer word. Vir elke dag wat later geplant word as die optimale tyd, kan die opbrengs soveel as 60 kg/dag daal. Dit is belangrik om seker te maak dat geen korsvorming tydens opkoms voorkom nie – dit het al menige produsent ’n goeie opbrengs gekos.

Enting van saad
Stikstofbinding deur die enting van saad met die regte Rhizobium-bakterieë is ’n voorvereiste vir doeltreffende N-binding. Produsente ondervind steeds probleme om effektiewe enting te verseker. Oormatige N in die grond of die oormatige toediening van N as aanvangsbemesting mag N-binding beperk, maar in die meeste gevalle is die hantering van entstof die probleem.

Onkruidbeheer
Een van die uitstaande uitdagings van die afgelope seisoen was onkruidbeheer. Verliese was aansienlik, veral omdat op on­kruidryke lande geplant is. Vooropkomsonkruiddoders word steeds te min gebruik en die invloed was later in die seisoen duidelik toe glifosaat nie toegedien kon word nie. Amerikaanse data dui op ’n 2,5%-oesverlies vir die uitstel van onkruiddruk tussen elke blaarstadium. Uiteraard is die verlies afhanklik van die onkruidbemesting en groeitoestande, maar dit is waarskynlik nie vergesog vir Suid-Afrikaanse toestande nie. Hierdie is “sluipende” verliese wat moeilik waarneembaar is en produsente hul wins kos.

Gevalle het ook in die afgelope seisoen voorgekom waar wagperiodes nie eerbiedig is nie, met gevolglik groot verliese.

Maak ook ten alle tye seker van tenkmengsels, waterkwaliteit en optimale tye vir onkruidbeheer gekombineer met die korrekte spuitstukke en veral die regte onkruiddoders toegedien volgens voorskrif.

Siekte en plaagbeheer
Daar is net enkele reëls wat geld ten opsigte van siekte- en plaagbeheer. Maak seker dat die sojaboonland gereeld besoek word om probleme met die eerste waarneming te bestry. Voorkomende beheer is dikwels beter vanweë die omvang en frekwensie van sodanige voorkoms; roes op sojabone is ’n voorbeeld.

Hou in gedagte dat ’n goeie voedingstatus in die grond siektes en plae kan beperk soos onder meer kaliumbemesting wat selwande versterk om die aanslae van aalwurm beter te hanteer. Die opheffing van keerlae in die grond kan gesonder plante tot gevolg hê wat siektes beter kan oorleef en hoër opbrengste verseker.

Wisselbou
Wisselbou is noodsaaklik vir volgehoue hoë opbrengste. Mie­lies wat op sojabone volg kan tot 14% hoër opbrengste lewer. Sonneblom en sojabone kan mekaar in geen kombinasie volg nie, so ook geen peulgewasse nie.

Oes van sojabone
Voordat sojabone geplant word, behoort ’n produsent te bepaal watter stroopkapasiteit benodig word en deur wie dit verskaf sal word. Maak seker dat die stropertafel die maksimum peule kan herwin met die minste pitverliese.

Hou in gedagte dat peulhoogte onder meer bepaal word deur kultivar, plantspasiëring, saaidigtheid, planttyd en klimaat.

Slotgedagte
Voordat enige passasiersvliegtuig opstyg, gaan die loods deur ’n hele kontrolelysie. Een fout kan al die passasiers in gevaar stel of hul einde beteken. Sojaboonprodusente moet elke detail nagaan: ’n Enkele aksie mag dalk ’n beperkte impak hê, maar gesamentlik maak dit ’n reuseverskil.