Regsaspekte wanneer plaagdoders nalatig aangewend word

Dr Gerhard H Verdoorn, bedryfs-en-rentmeesterskapbestuurder, CropLife SA
Gepubliseer: 31 Augustus 2023

338

Wet Nr. 36 van 1947 mag wel so oud soos die berge wees, maar staan steeds stewig om voedsel- en omgewingsveiligheid te verseker. Die wet verse­ker verder dat die middels wat produsente tot hul beskikking het peste, siektes en onkruide in gewasse doeltreffend beheer.

Die wet word ondersteun deur regulasies om die toepassing daarvan te vergemaklik, maar al te dikwels word sulke regulasies deur die algemene bevolking misken of bloot geïgnoreer. Een van die belangrikste artikels van die wet is Artikel 7, wat vereis dat enige landboumiddel (in die gewone spreektaal ’n plaagdoder) slegs verkoop, aangekoop en gebruik mag word as dit ingevolge die wet geregistreer is. Dit moet verder in die goedgekeurde verpakking met die goedgekeurde etiket wees en aan die chemiese en fisiese standaarde voldoen soos deur die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 bepaal word.

’n Tweede kernpunt is van toepas­sing op regspersone (maatskappye) en natuurlike persone (individue) wat plaagdoders in die bedryf van hul besighede namens kliënte aanwend. Sulke persone word as plaagbeheeroperateurs in die wet gedefinieer en daar is streng vereistes wat hul optrede reguleer asook ’n stel regulasies waarvolgens hulle hul dienste moet aanbied en uitvoer. Vlieëniers wat plaagbeheer met vliegtuie doen (helikopters, vastevlerk-, mikroligte en onbemande vliegtuie of drones) is dikwels die oorsaak van gewasskade wat ontstaan as gevolg van onverantwoordelike lugbespuiting.

Daar is elke jaar ’n reeks gevalle waar produsente gedeeltes of selfs hele landerye se oeste verloor as gevolg van onkruiddoders wat bure met lugtoediening laat aanwend het of waar boorde deur drywing van newelblasers op buurplase met insekdoders of swamdoders besoedel word wat nie op die gewasse behoort te wees nie. Die dilemma is dat diegene wat die skade ly, groot onkoste moet aangaan om die skuldige partye sivielregtelik en strafregtelik aan te kla. Boonop sloer sulke sake gewoonlik maande of selfs jare voor dit afgehandel word.

Regte van die produsent
Alhoewel Wet Nr. 36 van 1947 geen uitspraak lewer oor die regte van produsente wat benadeel word as gevolg van naburige plaag­doderaanwending nie, is produsente se regte wel verskuil in die artikels en regulasies van die wet, veral wanneer ’n plaagbeheer­operateur namens ’n ander produsent onregmatig optree. Die fynere punte waarvan produsente bewus moet wees en wat gebruik kan word wanneer iemand strafregtelik of sivielregtelik aangekla word, is die volgende:

Die subartikel verbied enige persoon wat plaagbeheer as ’n besigheid bedryf, soos byvoorbeeld ’n lugbespuitingsoperateur, om enigiets met die plaagdoder te doen wat nie volgens die etiket se instruksies is nie. Dit beteken dat as die plaagdoder se instruksies nie aandui dat dit byvoorbeeld met lugbespuiting aangewend mag word nie, dan mag dit nie so aanbeveel, verkoop of toegedien word nie. Die argument is dikwels dat die produsent die operateur opdrag gee om ’n plaagdoder teenstrydig met die etiket se voorskrifte te spuit en dat die vlieënier dan bes gee en die spuitwerk doen. In so ’n geval tree beide die produsent en die lugbespuitingsoperateur onregmatig in terme van die wet op.

Dit is een van die meer duidelike oortredings, maar daar is ook ’n verskuilde punt in hierdie subartikel. Enige middel wat met lug­bespuiting toegedien word, moet volgens die bepaling van die SA Nasionale Standaard SANS 10118 vir die lugtoediening van plaag­doders en die plaagbeheeroperateurregulasies van Februarie 2011 toegedien word. Die standaard en die regulasies maak dit baie duidelik dat die opdraggewer (produsent) van die bespuiting enige sensitiewe areas aan die operateur moet uitwys. Faktore soos gewasse wat moontlik beskadig kan word, sensitiewe natuurlike areas en menslike nedersettings moet in ag geneem word voordat ’n lugtoediening aangepak word omdat die plaagdoders skade kan veroorsaak, hetsy deur roekelose aanwending of deur nalatigheid, wat insluit spuit in winderige toestande of temperatuurinversie wat drywing van die spuitmengsel veroorsaak.

Wanneer daar wel gewasskade is of ander skade ontstaan, soos byvoorbeeld lewende hawe wat vergiftig word, het die geaffekteerde party die reg op sivielregtelike sowel as strafregtelike eise teen die opdraggewer asook die persoon wat die toediening gedoen het. Sodanige eise sal gegrond wees op oortredings van Artikel 7(2)(a)(i en ii) omdat die plaagdoder strydig met die etiket se aanwy­sings en ook strydig met die plaagbeheeroperateurregulasie (PBOR) en SANS 10118 aangewend is. Dit is vir die meeste mense vreemd dat so ’n stelling gemaak kan word, maar dink byvoorbeeld aan die volgende scenario’s:

  • ’n Plaagbeheeroperateur spuit ’n glifosaatbevattende onkruiddoder oor glifosaatbestande mielies met ’n vliegtuig. Die spuitmengsel dryf na die aangrensende plaas waar konvensionele mielies verbou word en rig ernstige skade aan die mielies aan. Die PBOR vereis dat die lugbespuiter drywing moet voorkom – as dit nie voorkom is nie, is dit outomaties ’n oortreding van die PBOR. So ook vereis SANS 10118 dieselfde én dit word op die etiket van die glifosaatbevattende middel aangedui, dus is die etiket se instruksies ook nie nagevolg nie. Verder is daar streng aandui­dings oor maksimum windsnelheid wanneer plaagdoders gespuit word en heel dikwels ignoreer produsente en loodse die aanduiding van maksimum snelheid van 15 km/h of in die geval van glifosaat 10 km/h. Dit is ook ’n oortreding van die etiket se instruksies.
  • ’n Tweede scenario is waar grondtoediening van ’n insekdoder plaasvind en drywing van die spuitnewel na aangrensende plase of woongebiede die omgewing besoedel en skade aan mense of diere aanrig. Dit is ook ’n geval van die etiketinstruksies wat nie nagekom is nie. Drywing ontstaan nie spontaan nie; dit word gekataliseer deur wind teen meer as die maksimum windsnelheid of temperatuurinversie of selfs waar lugvog bo die norm is. Dus is die aanwender van die plaagdoder sivielregtelik so­wel as strafregtelik aanspreeklik volgens Regulasie Nr. R1716 van 26 Julie 1991 wat die gebruik van enige plaagdoder strydig met etiketvoorskrifte verbied.

’n Aspek wat feitlik in alle lugbespuitings geminag word, is die vereiste van die opdraggewer om bure tydig in kennis te stel oor lugtoediening wat beplan word. Dit sal ten minste die bure waarsku dat bespuiting gaan plaasvind en ’n produsent die kans gee om met die opdraggewer te praat en hom te waarsku oor moontlike drywing en gewasskade wat mag plaasvind. Indien die opdraggewer versuim om die produsent oor voorgenome lugbespuitings te waarsku, is dit alreeds ’n oortreding van die wet.

Aksies deur die geaffekteerde party
Die algemene reg in Suid-Afrika vereis dat die beweerder die bewyslas dra. As ’n produsent dus regmatige rede het om te glo dat sy gewasse deur ’n buurman en sy spuitoperateur beskadig is, is dit die produsent se verantwoordelikheid om die nodige bewyse aan die owerhede voor te lê wanneer strafregtelike klagtes teen die verweerder ingedien word, maar ook wanneer sivielregtelike eise teen die verweerder ingedien word. Die stappe wat ’n geaffekteerde party moet volg, is die volgende:

  • Indien die produsent die verweerder se spuitaksie waarneem, moet foto’s en video’s geneem word met stemboodskappe in die video’s om te verduidelik wat waargeneem word. Dit is altyd goed om byvoorbeeld ’n werknemer in die foto of video te plaas ten einde onteenseglike bewys te kan lewer dat die foto’s en video’s eg is.
  • Wanneer enige vars spuitmengsel op gewasse waargeneem word, moet daar onmiddellik ten minste twee kilogram van die geaffekteerde plante versamel word, gevries word en dan na ’n geakkrediteerde toksikologiese chemiese laboratorium ge­stuur word vir analise as bewys dat die produsent se gewasse raakgespuit is of dat drywing wel die gewas besoedel het. Tydens die versameling van sulke monsters moet die produsent ook die proses op video vaslê as bewys van die egtheid van die oefening.Dit is uiters belangrik dat die monsters wat na die laboratorium gestuur word op die regte wyse hanteer word. Dit moet koel gehou word en die beheer oor die ketting van getuienis (chain of custody) is van deurslaggewende belang sodat die verweerder nie kan beweer dat die ketting van hantering en vervoer gebreek is nie. Daar is maatskappye wat sulke vervoer hanteer (natuurlik teen ’n koste) en dit is waarskynlik die beste om so ’n maatskappy te kontrakteer om die monster by die plaas op te laai en na die laboratorium te vervoer.
  • As die geaffekteerde produsent die saak verder wil neem, is sy regsverteenwoordiger (prokureur) die enigste skakel in die ketting om sy saak op te neem en beide sivielregtelike eise en straf­regtelike klagtes teen die verweerder aanhangig te maak. Die regsgeleerdes ken die gemene reg, strafproseswet en dies meer en dus sal hulle die geaffekteerde produsent se saak bedryf. Die regsverteenwoordiger sal alle bewyse moet inwin, die egtheid daarvan bevestig en ook die kundigheid van spesialiste soos gewaskundiges, chemici en toksikoloë betrek om die produsent se saak te versterk. Sulke spesialiste kan ook gewoonlik aandui watter laboratoriums die analise kan en behoort te doen, want laboratoriums het almal hul eie spesialiteite. (Suid-Afrikaanse laboratoriums is oor die algemeen baie goed.)
  • Die geaffekteerde party sal ook ’n gewaskundige moet betrek om ’n taksering van die skade (opbrengsgewys en finansieel) te doen. Dit sal die regsgeleerde se inligting wees om die sivielregtelike eis saam te stel.
  • Die regsverteenwoordiger moet ook die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Wet Nr. 107 van 1998) oorweeg as daar omgewingskade is, soos byvoorbeeld oewerbos of natuurlike plantegroei wat beskadig is, want alles moontlik moet in ag geneem word om die verweerder vas te vat.

Formele klagte oor wangebruik van plaagdoders
Die inspektoraat van Wet Nr. 36 van 1947 het die mandaat om enige misdrywe met plaagdoders te ondersoek en vervolging teen oortreders in te stel. ’n Volledige verslag wat die insident deeglik omskryf met datums en tye is noodsaaklik, terwyl enige bewyse soos foto’s, video’s en analises die saak sal sterk. So ’n klagte moet per e-pos ingedien word by die hoof van inspeksiedienste (G Moncho by GiftM@dalrrd.gov.za) saam met alle moontlike bewysstukke.

Samevatting
Wanneer ’n produsent se gewasse beskadig of uitgewis word as gevolg van roekelose of nalatige toediening van plaagdoders, het die produsent die reg om eise teen die skuldige party of partye in te stel. As ’n plaagbeheeroperateur soos ’n lugtoediener in die saak betrokke is, is daardie persoon ook in gedrang. Die geaffekteerde party kan dus beide die verweerder en die plaagbeheeroperateur sivielregtelik dagvaar asook strafregtelik by die Departement van Landbou verkla.