Sasol landboutrust neem landbou vorentoe

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 31 Julie 2023

425
Jaco Breytenbach, voorsitter van die Sasol Landboutrust.

Oor die afgelope dekade het die Sasol Landboutrust aansienlike bydraes tot verskeie bedrywe in die Suid-Afrikaanse landbousektor gelewer.

Dié trust is in Maart 2012 deur Sasol Chemical Industries Beperk met ’n skenking van R30 miljoen gestig en word deur onafhanklike trustees tot voordeel van die Suid-Afrikaanse graangemeenskap geadministreer. Graan SA-hoofbestuurslid, Jaco Breytenbach, is tans die voorsitter van die trust.

Rol in die graanbedryf
Die Sasol Landboutrust speel ’n belangrike rol in die graanbedryf deur inisiatiewe te ondersteun wat voedselsekerheid, landelike ontwikkeling en volhoubare landbou bevorder. Daar word met Graan SA en verskeie ander organisasies en belanghebbendes in die bedryf saamgewerk om befondsing, mentorskap en tegniese ondersteu­ning te verskaf. Van die inisiatiewe wat deur die trust in die graanbedryf ondersteun word, sluit in:

Opkomende landbou
Opkomende boere speel ’n belangrike rol om voedselsekerheid in Suid-Afrika te verseker, maar baie van hierdie boere sukkel om toegang tot finansiering, insette en markte te kry. Die trust ondersteun inisiatiewe wat kleinboere van tegniese ondersteuning en insetfinansiering voorsien. Hierdie inisiatiewe help om die produktiwiteit en inkomste van kleinboere te verbeter, wat weer bydra tot voedselse­kerheid sowel as landelike ontwikkeling.

Landbou-onderwys en -opleiding
Die trust verskaf befondsing vir verskeie landbou-onderrig- en -opleidingsinisiatiewe. Dit het ten doel om jongmense en landelike gemeenskappe toe te rus met die vaardighede en kennis wat nodig is om aan die landbousektor deel te neem en om lewensvatbare landboubesighede te skep. Mentorskapprogramme, wat jong entrepreneurs met ervare kommersiële produsente en sakeleiers verbind en leiding en ondersteuning bied wanneer hulle die landbousektor betree, word ook deur die trust ondersteun.

Navorsing en ontwikkeling
Befondsing word verskaf vir navorsings- en ontwikkelingsinisiatiewe in die graanbedryf. Hierdie inisiatiewe het ten doel om die uitda­gings wat die bedryf moet trotseer, soos klimaatsverandering, gronddegradasie asook plaag- en siektebestuur, aan te pak. Die trust ondersteun verder inisiatiewe wat die aanvaarding van nuwe tegnologieë en innovasies bevorder, soos presisielandbou, data-analise en biologiese of biosekuriteitbeheer.

Markontwikkeling
Markontwikkeling is uiters belangrik in die graanbedryf en inisiatiewe wat in dié verband deur die trust ondersteun word, het ten doel om die mededingendheid van die bedryf te verbeter deur die ontwikkeling van waardekettings te ondersteun, toegang tot markte te verbeter en uitvoere te verhoog. Die trust ondersteun ook inisiatiewe wat waardetoevoeging aanhelp, soos landbouverwer­king en verpakking, wat nuwe geleenthede vir produsente en landboubesighede skep.

Projekte wat deur die trust ondersteun is/word
Monitering van kunsmiskwaliteit en -standaarde
Die trust het vanaf 2017 befondsing goedgekeur vir ’n gesamentlike projek van die Misstofvereniging van Suider-Afrika (Fertasa), Graan SA en die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD).

Hierdie projek monitor die kwaliteit en inhoud van verskillende kunsmismengsels asook dié van kalk. As produsente probleme vermoed of ondervind met kwaliteit en/of inhoud van kunsmis en/of kalk, is die projek in plek om hulle te help om die inhoud van die spesifieke produk te laat ontleed. Dit help ook om kunsmismengsels in die nasionale mark op standaard te hou.

Dié projek is dus tweeledig – aan die een kant om die produsent tot hulp te wees en aan die ander kant om kunsmiskwaliteit landwyd te monitor.

Knaagdierplaagbestuur
Vanaf 2013 tot 2017 is die Universiteit van Venda befonds vir ’n projek gemik op die ekologiese bestuur van knaagdierplae in graanlande.

Bywoning van internasionale konferensie
Die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) het fondse ontvang vir die bywoning van die Mikronutriëntforum-konferensie in Ethiopië in 2014. Hierdie inisiatief het ’n geleentheid gebied om kapasiteit in die bedryf te bou.

Sclerotinia-navorsing op sojabone
Vanaf 2015 word twee navorsingsaansoeke – onderskeidelik deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Universiteit van Pretoria (UP) – ten opsigte van Sclerotinia op sojabone deur die trust befonds. Hierdie twee projekte is aanvullend tot mekaar en goeie samewer­king bestaan tussen die navorsers.

Die navorsing deur die UV fokus hoofsaaklik op die epidemiologie van die patogene en die suksesvolle toediening van swamdoders. Die UP-projek fokus op aspekte rakende Sclerotinia wat nie in die UV-projek gedek word nie en fokus hoofsaaklik op die begrip van die grondgedraagde patogeen en hoe om die voorkoms daarvan op sojabone deur boerderypraktyke aan te pak.

Mieliehardheidsprojek
Die SAGL het ook in 2015 befondsing ontvang om navorsing te doen oor die effek van omgewings- en grondfaktore, insluitend kunsmiskeuse, op die hardheid van mielies wat onder droëlandpresisieboerdery geproduseer word.

Hierdie projek het die potensiaal om nuttige data oor die kwessie van mieliehardheid in Suid-Afrika te genereer.

Stikstofkunsmisbestuur
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou is deur die trust befonds om stikstofkunsmisbestuurstrategieë vir koring en kanola onder bewaringslandboupraktyke in die Wes-Kaap te ontwikkel. Hierdie projek het goeie resultate gelewer, met die finale verslag wat in 2021 afgehandel is.

Werksfonds-projekte
Die aanwending van hierdie fondse word gefasiliteer en gemonitor deur Graan SA in ooreenstemming met die vereis­tes en reëls van die Werksfonds. Tans word 3 400 produsente op meer as 4 000 ha deur middel van hierdie projek deur Graan SA bygestaan.

Internskappe en kapasiteitsbou
Fondse is sedert 2017 aan Agri SA beskikbaar gestel vir die daarstel van ’n aantal internskappe om spesifieke funksies tot voordeel van die georganiseerde landbou te ontwikkel. Die onmiddellike koste van internskappe is laer as dié van permanente werknemers en skep die vermoë om kapasiteit binne Agri SA op groter skaal en in minder tyd te bou.

Ook Graan SA het sedert 2017 fondse ontvang vir kapasiteitsbou in sy Navorsings-en-Beleidsentrum-afdeling deur die daarstelling van ’n internskap. Hierdie afdeling wat binne Graan SA geskep is, het ten doel om samewerking tussen navorsers en navorsingsinstellings te verbeter en om gefokusde navorsing namens en tot voordeel van graanprodusente te fasiliteer. Verder het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) ook internskapbefondsing van die trust ontvang.

Beurse vir tersiêre studies
Die trust het beurse aan studente toegestaan vir nagraadse studie in relevante onderwerpe wat met graan verband hou.

Studente se vordering word deur die loop van hul studies gemonitor en voortgesette betalings is onderhewig daaraan dat die vereiste vorderingsverslae ingedien en deur die trust goedgekeur word.

Die trust is nie ’n immergroen trust nie en het in sy bestaan al meer geld spandeer aan studies en projekte as wat hy ontvang het. Dit is te danke aan goeie beleggings en bestuur van fondse. Die projek se leeftyd staan nou einde se kant toe met die beoogde sluiting rondom 2028.