Tyd om te groet met ’n laaste gedagte

Gepubliseer: 28 Julie 2023

411
Dr Pieter Taljaard
HUB, Graan SA pieter@grainsa.co.za

Dit is reeds algemeen bekend dat dié amptelik my laaste hoofartikel in SA Graan/Grain is. Dit was inderdaad vir my ’n groot voorreg om vir die relatief kort rukkie deel van die span te kon wees en die Suid-Afrikaanse landbou op ’n ander vlak te kon dien.

Ek sê net dankie. Veral die laaste maand het ek nogal dikwels gewonder hoekom my tyd by Graan SA so vinnig verby is. Gegewe hoe alles in plek geval het, is my slotsom eenvoudig – my opdrag is voltooi. Hoe ek dit sien? My rol was soos ’n katalisator: net genoeg op die regte tyd om ’n reaksie aan die gang te sit.

My hoofopdrag en fokus in Augustus 2021 toe ek by Graan SA begin het, was om die organisasie terug te neem na sy lede toe. Fokus op die lid, die kliënt, die aandeelhouer en gevolglik die waarde van die organisasie. Ek het ongelooflik baie mense ontmoet – nie net produ­sente nie, maar ook ander rolspelers in die waardeketting. Hiervoor is ek uiters dankbaar is, dit was wonderlik.

Na twee jaar is dit vir my duidelik dat daar steeds baie produsente en ander rolspelers is wat die waarde en rol van die organisasie nie mooi verstaan en begryp nie. Die blote feit dat dit ’n produsente-organisasie is, dui tog aan “dit is die produsente s’n”. Derek Mathews (voorsitter) praat dikwels van eienaarskap van die organisasie wat deurslaggewend is. Dit is die kruks, ja – en met eienaarskap kom verantwoordelikheid. In vandag se besige en gejaagde harwar beteken dit net een ding en dit is effektiwiteit. Wat ek dus sê is: Dit is jou as lid se verantwoordelikheid om toe te sien dat jou organisasie effektief en volhoubaar is en dit beteken effektiwiteit vir die kollektief wat saamstem en eenheid behels.

In my gesprekke en soeke na antwoorde en maniere om effektiwiteit te verseker, verwys dr Johan Beukes my na die werk van Daniel Pink, spesifiek sy visie/teorie/model vir werksplekmotivering – soos hy dit noem: Motivering 3.0. Lees dit gerus, dit het my vir seker laat nadink oor effektiwiteit. “Om maksimum produktiwiteit met minimum verlore insette te behaal”: Dit is mos optimaliteit – en net wat ’n ekonoom nodig het om sy krukas te laat draai? Nee, enige mens. ’n Bietjie meer as tien jaar gelede het die skuif na die Pretoria-kantoor ook oor effektiwiteit gegaan. ’n Briljante keuse van ligging en inderdaad ’n tuiste om op trots te wees. Dr Johan beaam na ’n klompie gesprekke met spanlede dat dit “… van die mees passievolle en toegewyde personeel wat hy in ’n bitter lang tyd mee te doen gehad het” is. Iets wat ek ook al telkemale vir én oor die span gesê het.

Pink se eenvoudige model is op drie pilare gebaseer: bemeestering, doel en outonomie (mastery, purpose en autonomy). As jy dit lees, maak die teorie soveel sin. Die manier hoe mense gemotiveer word, het oor tyd verander: Aanvanklik was primêre oorlewing die drywer, daarna het die “wortel en stok”-benadering vir jare gewerk, maar dit is nie meer voldoende vir kreatiewe en innoverende werksplekke nie. Hy argumenteer dat om iemand intrinsiek te motiveer (selfgemotiveerd omdat iemand die vryheid het om die werk te doen wat hulle geniet), die individu toegelaat moet word om die werk te doen waaroor hy/sy werklik passievol is.

Klik op die QR-kode om na die Graan SA-potgooie te luister.

Ek groet deur te herhaal: Ek is baie gehoor sê dat ons personeel passievol en werklik meesters is in wat gedoen word en gedoen moet word. Ek weet diegene wat die organisasie ken en verstaan sal met my saamstem. Wat kortkom is die outonomiteit. Dit is wat nodig is om in die toekoms relevant en weer eens volhoubaar te bly met innovering en kreatiwiteit. Dit is net ’n ander denkwyse en dit is jou verantwoordelikheid. Dit is eintlik so maklik om deel te word: Jy betaal jou paar rand heffing; jy is volledig lid; jy kan en mag en moet jou sê sê. So neem jy beter beheer van jou eie toekoms en help dit in die regte rigting stuur.

Die span wat vertrou word om die werk te doen, kan dit doen. Hulle is goed toegerus en goed op pad om dit te doen. Daar is soveel nuwe dinge besig om te gebeur met ons nuwe ledeondersteuningsisteem en ek wil julle werklik aanmoedig om gereeld te luister na die podcast (klik op die QR-kode om te luister) waar ons oor Graan SA-sake praat om dit te bespreek. My boodskap: Laat hulle toe om dit kreatief en innove­rend vir én namens jou te doen – hulle sál dit verantwoordelik doen.

Weer eens dankie, tot wedersiens.