Herlewingslandbou laat die boeke klop

Gepubliseer: 4 Julie 2023

424
Lianè Erasmus, ASSET Research

Amerikaanse herlewingsprodusent, Rick Clark van Indiana in die VSA, en ’n Bonsmara-stoetboer van Dewetsdorp in die Vrystaat, Gerrit van Zyl, sit om dieselfde vuur wanneer dit by een van die redes kom waarom hulle herlewingslandboupraktyke toepas: “To beat the bank.”

Genereer jy meer as die 6% se kapitaalrente wat banke op jou plaas bied? Dit is ’n belangrike bereke­ning om te doen te midde van kapitaalintensiewe boerderye en dalende grondgesondheidstoestande.

Om vandag volhoubaar en finansieel vooruit te boer moet die boerdery vir jou en toekomstige gene­rasies die maksimum inkomste genereer uit elke sent wat daarin belê word en wat aan insette spandeer word. Hieroor het verskeie sprekers insiggewende rig­lyne gedeel tydens die Herlewingslandboukonferensies wat weer vanjaar in Reitz en Ottosdal aangebied is. In ’n neutedop: Dit is moontlik om die natuur in te span om goedkoper en meer winsgewend te boer.

Rick Clark
Clark se deeglike rekordhouding van die afgelope tien jaar se reis as herlewingsprodusent lewer ondersteunende data dat geenbewerkings- en bewaringslandboupraktyke tot besparings van miljoene dollars lei. Die jaarlikse besparing van $2 062 000 (R34,2 miljoen) sorg dat die meeste van sy kritici se monde ge­snoer word. Verminderde insetkoste dra sonder twyfel by tot ’n meer winsgewende boerdery, maar die prentjie is nog soveel groter. Soos hy tydens die konfe­rensie gesê het: “Ek jaag nie groter opbrengste na nie, want opbrengs is nie my primêre dryfveer in die stelsel om ’n groter inkomste te genereer nie.”

Rick Clark wys tydens die Herlewingslandboukonferensies waar sy plaas geleë is.

Eie natuurlike balans
Hy vind dat daar groot waarde in wisselbou is en plant selfs kontantgewasse in groen, groeiende, lewende dekgewasse van tot 14 spesies. Vir maksimum diversiteit is daar al nege gewasse deel van hul herlewingspad. Hierdie gewasse sluit in sojabone, mielies, koring, lusern, ertjies, sorghum en dekgewasse. Sy stelsel integreer ook toenemend skape en beeste.

In hierdie tipe stelsel word voedingstowwe beter in die grond gesirkuleer, want ’n groter volume onder die grond word gevul met plantwortels. Meer atmosferiese stikstof word omgeskakel en gebind in die grond. Mielies benodig ongeveer 168 kg/ha stikstof (N); volgens Clark ’n druppel in die emmer van die 75 000 ton gratis beskikbare atmosferiese stikstof. Grondmikrobes word ook op hierdie manier van optimale voedingstowwe voorsien wat tot beter totale grond- biologiese toestande lei. As gevolg van ’n digter bogrondse bedekking word die verdam­ping van grondvog beperk en ’n wesenlike onkruidonderdrukkende effek van tot 70% word waargeneem met behulp van die biomassa van lewende en dooie dekgewasse (hy rol hoofsaaklik sy dekgewasse plat). “Mettertyd beweeg jou gronde uiteindelik na hul eie natuurlike balans,” het Clark gesê.

Deurbrake
Van die verrassende deurbrake wat hy die afgelope nege jaar op sy plaas gemaak het, sluit in: geen chemiese kunsmis met plant; geen swamdoders, saadbehandelings of insekdoders nie; geen fosfor- of kaliumkunsmis na opkoms of landboukalk is toegedien nie. Daar is ook geen anorganiese stikstofkunsmis die afgelope vier jaar na opkoms toegedien nie. ’n Gemiddelde grond-pH van 7 is bereik en word gehandhaaf sonder behandelings met kalk. ’n Indrukwekkende 51%-vermindering in brandstofkoste is opgemerk en ’n verstommende 70%-verlaging in totale produksie-insetkoste is al deur die Clarks behaal.

“Moenie mislei word nie, om hierdie resultate te bereik verg steeds harde werk en deursettingsvermoë. Nie een jaar se uitda­gings lyk dieselfde nie,” het Clark bygevoeg. Die Clark-familie sien ook ’n aansienlike vermindering in variasie van die kontantgewas­opbrengste ongeag veranderende omgewingstoestande – stabiele hoë opbrengste word gehandhaaf. Hulle boerdery toon meer stabiliteit namate hul grondgesondheid stabiliseer en balans bereik word in die bo- en ondergrondse omgewing.

Gerrit van Zyl
Van Zyl het ook hierdie deurslaggewende verskynsels waargeneem in sy reis as herlewingsprodusent. “Alles in die lewe het eweskielik onomwonde verander en net so moes my beesboerdery ook verander,” het hy gesê. In hierdie era van insetprysdruk is dit noodsaaklik om “meer met minder” reg te kry. ’n Groter wins word nie gespaar nie, dit kan net bereik word deur geleenthede te ontgin. Omset is nie die belangrikste syfer nie, maar wel die hoeveelheid geld wat aan die einde van die jaar oorbly waarmee onderhoud en uitbreidings gedoen kan word.

Baie jare gelede was groei (speengewig), maksimum melkproduksie en vrugbaarheid van die belangrikste komponente waaraan aandag gegee is. Dit was maklik om beter prestasie te behaal deur bloot insette te verhoog weens die lae koste daarvan. Omdat bestuursvlakke verbeter het, het reproduksie boonop verhoog, speengewig was hoër en uiteindelik is ’n groter bees geteel. ’n Interessante berekening is gemaak en toon dat ongeveer 50% van insetkoste in die onderhoud van diere ingaan wanneer iets spesifiek nagejaag word, soos byvoorbeeld speengewig. Op sy beurt boet dit egter weer iets anders in, wat later nuwe uitdagings tot gevolg het soos diere met raamgroottes wat moeilik aanpas in dieselfde natuurlike omgewings. Die feit bly staan: Omdat insetkoste so gestyg het, moet maniere gevind word om meer te produseer met minder insette.

Hoe moet jy aanpas?
Daar is twee vertrekpunte. Meer beeste op dieselfde stuk grond: Hierdie opsie vereis dat ’n ander weidingstelsel gevolg moet word. Beter teelmateriaal en aangepaste diere wat minder insette benodig word ook vereis, alhoewel dit nie so maklik is nie, aangesien teeldiere vir ’n lang tydperk nie hieraan blootgestel is nie.

Van Zyl beklemtoon dat die fokus dus moet skuif na die opbou van gesonder gronde wat meer weiding van beter gehalte kan produ­seer sodat groter wins (of kilogramme) per hektaar behaal kan word eerder as om individuele koeie se prestasie te verbeter. Hy self kon dit regkry om van 6 ha/GVE na 2,66 ha/GVE te gaan op dieselfde oppervlakte.

Die volgende klemverskuiwing wat met die laasgenoemde saamval is om “gras”-doeltreffende diere eerder as “voer”-doeltreffende diere te teel. Om vol te hou met ’n hoër veelading op dieselfde natuurlike weidings moet ondersteun word deur geneties gunstige diere met lae onderhoud. Selekteer diere wat hoë vrugbaarheid toon, vroeg ryp is, liggaamskondisie hou, vroeg verhaar, optimale melkproduksie toon en wat gras doeltreffend kan benut en omsit in groei.

Een van die ander sprekers by die Reitz-konferensie, graskenner Frits van Oudtshoorn, som die proses eenvoudig op: Hoekom die pyn en ongemak van verandering verduur? Van Oudtshoorn se voorstelling (Figuur 1) beskryf dat meer wins per hektaar moontlik is deur veelading te verhoog, maar meer diere gaan meer gras benodig en meer grasproduksie kan slegs ondersteun word deur gesonde grond. Dit kan bereik word deur die diere as werktuie te gebruik.

  • Groot troppe diere bemes die veld eweredig en dig in die vorm van mis en urine; hulle help om grassaad te versprei en in te trap. Dit dra by tot verhoogde grondkoolstofvlakke en grond- biologiese aktiwiteit wat help om gesonde grond te bou.
  • Reënval word optimaal benut want afloop en erosie word voorkom. Soos hy bereken het in samewerking met Danie Slabbert, herlewingsprodusent van Reitz, kan 1 mm reën tot 7 kg se grasproduksie beteken.
  • Goeie veld/weidingsbestuur is uiters belangrik om die veerkragtigheid van grasproduksie te handhaaf. Daarom raai hy veeprodusente ook aan om kampe te maak sodat totale benutting sonder selektiewe beweiding plaasvind en kampe dus genoegsame rusperiodes gegun word.
  • Hierdie stelsel is volhoubaar. Meer kilogramme kan per hektaar geproduseer word en dus word opbrengs per hektaar verhoog.
Figuur 1: Veelading

Met reproduksiesyfers soos ’n OEK (ouderdom van eerste kalwing) van 26 maande; ’n TKP (tussenkalfperiode) van 367 dae; ’n K:k-verhouding (koei-tot-kalfverhouding) van 51% en besetting van 90% was daar marginale spasie vir verbetering. Van Zyl moes dus ’n ander plek soek om beter te presteer om sy opbrengs op belegging te verhoog. Hierop het sy deeglike berekeninge getoon dat die swoeg en sweet om herlewingslandboupraktyke toe te pas die moeite werd is. Hy kan trots wees: Sy boerdery bied ’n 9,98%-opbrengs op belegging teen ’n 200%-kapasiteit op dieselfde opper­vlakte as enkele jare gelede. Tabel 1 toon die verandering in winsgewendheidsparameters van sy beesboerdery.

Boerdery is lekker, maar ’n mens geniet dit net meer as dit wins­gewend is. Rick Clark het konferensiegangers met die volgende woorde bemoedig:

“If you are not uncomfortable with what you are doing, then you are not trying hard enough to change. I challenge everyone here today to get a little uncomfortable. I think you will like how it feels.”