Kwaliteitsaad kan Afrika ’n hupstoot gee

Gepubliseer: 3 Julie 2023

255
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Toegang tot die nuutste tegnologie en kwali­teitsaad kan ’n noemenswaardige rol speel om voedselsekerheid te verseker. By die Wêreldsaadkongres wat onlangs in Kaapstad gehou is, is indringende gesprekke gevoer oor hoe belangrik toegang tot goeie en bekostigbare saad vir veral kleinskaalse boere in die wêreld is.

Rolspelers in die bedryf het ook gefokus op die behoefte wat bestaan om lande se saadbedrywe en -sisteme te versterk, wedersyds te ondersteun en in lyn met mekaar te bring om onder meer saad meer doeltreffend te versprei en ook beskikbaarheid en koste aan te pak.

“Saad is die plek waar voedselsisteme begin en kwaliteitsaad kan ’n groot rol speel om baie van die wêreld se uitdagings te hanteer. Die enigste probleem is dat saad nie altyd betyds in boere se hande beland nie.” So het Michael Keller, sekretaris-generaal van die Internasionale Saadfederasie (ISF), gesê.

Volgens Marco van Leeuwen, president van die ISF, kan verbeterde variëteite opbrengs met tot 50% verhoog. Hy het ook daarop gewys dat die kongres ’n uitstekende geleentheid aan die bedryf gebied het om sake van algemene belang soos biotegnologie, die ontwikkeling van nuwe kiemplasma wat ver­anderde klimaatsomstandighede beter hanteer, verspreiding van saad oor landsgrense heen en saadproduksies te bespreek.

Een van die uitdagings wat die bedryf en ook regerings in die gesig staar, is die feit dat saad en verbeterde variëteite nie op ’n gelykmatige grondslag aan alle boere beskikbaar is nie. ’n Voorbeeld wat hy uitgewys het, is die feit dat Suid-Afrika gereken word as die agtste grootste produsent van biotegnologie­gewasse, terwyl die meeste boere in ander Afrika-lande nog nie toegang tot die tegnologie het nie.

In die meeste Afrika-lande is boere steeds afhanklik van ’n informele saadbedryf. In een van die paneelbesprekings tydens die kongres is daar spesifiek gekyk na die toegang tot kwaliteitsaad. Die sessie is gelei deur Jean-Paul Judson van Nowmore, met die paneel wat bestaan het uit dr Kulani Machaba (president van AFSTA); Shoshan Haran (stigter en president van Fair Planet); Ruramiso Mashumba (produsent en HUB van Mnandi Africa en lid van die Wêreldprodu­sente-organisasie); Chris Ojiewo (verteenwoordiger van CIMMYT en CGIAR) en dr Julian Jafta (direkteur: Plantproduksie en Plantgesondheid van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling).

Tydens ’n nuuskonferensie het die media geleentheid gehad om meer vrae oor die wêreldsaadbedryf te vra. Van links op die foto is: Marco van Leeuwen (ISF-president); Michael Keller (sekretaris-generaal van die ISF) en Matome Ramokgopa (SANSOR-voorsitter).

Die paneel was dit eens dat ’n regulatoriese omgewing deurslaggewend is om ’n milieu te skep waarbinne saad op ’n gelyke grondslag aan alle boere oor landsgrense heen beskikbaar gestel kan word. Slegs met so ’n stelsel, het die paneel ooreen­gekom, kan daar ver gevorder word om voedsel­sekerheid te probeer verseker en ekonomiese groei te bewerkstellig.

“In sommige Afrika-lande plant slegs 10% van die boere die nuutste variëteite ten spyte van die enorme voordele wat dit inhou en nieteenstaande die feit dat daar soveel vooruitgang in die saadbedryf oor die afgelope tyd was,” het dr Machaba uitgewys. Hy het bygevoeg dat slegs sowat 30% van boere in Afrika toegang tot verbeterde variëteite het.

“Die oorgrote meerderheid boere in Afrika plant steeds oopbestuifde gewasse, terughousaad of saad van ’n swak kwaliteit. Die enigste manier waarop die situasie kan verander, is deur die regulatoriese stelsels in lande te verbeter. Ons moet ook indringend kyk na die beskerming van planttelersregte,” het hy gesê.

“Afrika het reeds die groen rewolusie gemis. Ons moet seker maak dat die voordele van die nuutste tegnologie nie ook by ons boere verby gaan nie,” het dr Machaba beklemtoon.

Volgens Ojiewo is dit belangrik dat navorsings­instansies navorsing doen wat boere bevoordeel. “Soms is die navorsing wat by instansies gedoen word ver verwyderd van die werklikheid. Navorsers moet seker maak dat hulle die behoeftes van die boere takel en hulle so help om die beste opbrengs op hulle belegging te kry.”

Hy het beklemtoon dat die bedryf moet saamwerk om vorentoe te beweeg. “Om die saadkwessies in Afrika aan te pak sal ons doelgerig moet wees.”