Jan taks bied verdere belastingverligting vir hernubare krag

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 3 Julie 2023

456

Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in sy nasionale begrotingstoespraak vir 2023 ’n uitbreiding van belastingaansporings vir besighede en in­dividue wat van hernubare energie gebruik wil maak, aangekondig.

Daar word beoog om hierdie aansporing in wer­king te stel nadat die 2023 konsepbelastingwysigingswetsontwerp later vanjaar in die parlement ter tafel gelê en bekragtig is. Die doel van die aansporing is om die gebruik van hernubare energie te bevorder ten einde die vraag na Eskom-elektrisiteit asook beurtkrag te verminder.

Die 2023-begroting maak voorsiening vir ’n totaal van R13 miljard in belastingverligting. Van die R13 miljard word R4 miljard se belastingverligting toegewys aan individue wat sonpanele installeer en R5 miljard aan maatskappye deur die tydelike uitbreiding van die huidige belastingaansporing vir hernubare-energieprojekte. Die regering sal voorts lenings wat klein en mediumondernemings vir sonpaneelprojekte benodig, waarborg.

Bestaande belastingvoordele vir besighede
Tans maak Artikel 12B van die Inkomstebelastingwet voorsiening vir ’n aftrekking deur besighede ten opsigte van die koste van masjinerie, aanleg, implemente, gereedskap of artikels wat gebruik word in die opwekking van elektrisiteit deur hernubare bronne en aangewend word vir doeleindes van die belastingpligtige se bedryf. Hernubare-energiebates moet dus in gebruik geneem word vir die doel van ‘n belastingbetaler se bedryf van handel.

Die volgende tipes hernubare-energie-opwekkingsprojekte kwalifiseer vir die aftrekking:

  • Windkrag.
  • Fotovoltaïese (FV) sonenergie van meer as 1 megawatt (MW).
  • FV sonenergie wat nie 1 MW oorskry nie.
  • Gekonsentreerde sonenergie.
  • Hidrokrag om elektrisiteit van nie meer as 30 MW te produseer nie.
  • Biomassa-opwekking wat bestaan uit organiese afval, stortingsterreingas of plantmateriaal.

Kwalifiserende hernubare-energiebates moet ook aan die volgende vereistes voldoen:

  • Dit moet deur die belastingpligtige besit word of deur hom verkry word ingevolge ’n paaiementkredietooreenkoms soos omskryf in die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde.
  • Dit moet vir die eerste keer in gebruik geneem word om deel te vorm van die belastingbetaler se handelsbedryf.
  • Die aftrekking is ook van toepassing op enige verbeterings aan bogenoemde hernubare-energiebates en ondersteunende struktuur wat geag word deel daarvan te wees alhoewel dit onderhewig is aan sekere beperkinge.

Die volgende belastingvoordeel word onder andere deur Artikel 12B gebied:

  • Ondernemings kan die koste van kwalifiserende beleggings oor ’n tydperk van een tot drie jaar aftrek met 50% in die eerste, 30% in die tweede en 20% in die derde jaar. Dit geld vir kwalifiserende beleggings in windkrag, gekonsentreerde sonkrag, hidrokrag onder 30 MW, biomassa- en FV projekte bo 1 MW. Beleggers in FV projekte onder 1 MW kan 100% van die koste in die eerste jaar aftrek.

Beoogde belastingwysiging vir besighede
Die beoogde belastingaansporings vir die belegging in hernubare-energie-infrastruktuur soos aangekondig, behels die volgende:

  • Die volle koste (insluitend installasie/oprigting) plus 25% – met ander woorde ’n aftrekking van 125% – kan in die eerste jaar toegepas word vir alle hernubare-energieprojekte met geen toepassing van beperking vir opwekkingskapasiteit nie. Kwalifiserende hernubare-energiebates moet ook aan die volgende vereistes voldoen:
  • Dit moet deur die belastingpligtige besit word of deur hom verkry word ingevolge ’n paaiementkredietooreenkoms soos omskryf in die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde.
  • Dit moet vir die eerste keer in gebruik geneem word om deel te vorm van die belastingbetaler se handelsbedryf.
  • Die aftrekking is ook van toepassing op die ondersteunende struktuur wat daarvoor ontwerp is en wat geag word deel daarvan te wees, op voorwaarde dat die gebruikslewe oor­eenstem met die toerusting en ook vir die eerste keer in gebruik geneem word vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Februarie 2025.
  • Vir ‘n besigheid met ’n positiewe belasbare inkomste sal die aftrekking sy belastingaanspreeklikheid verminder. ’n Belegging van hernubare energie van byvoorbeeld R1 miljoen sal kwalifiseer vir ‘n aftrekking van R1,25 miljoen. Waar die belastingpligtige egter die bates sou verkoop voor 1 Maart 2026, sal 25% van die koste wat ingevolge die aansporing as aftrekking gekwalifiseer het, by die belastingbetaler se belasbare inkomste as ’n verha­ling bygevoeg word bo en behalwe enige ander moontlike verhalings.

Hierdie belastingaansporing vir besighede is egter tydelik en sal slegs beskikbaar wees vir beleggings wat vir die eerste keer in gebruik geneem word vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Februarie 2025. Die aansporing is dan ook in plek van en nie addisioneel tot die bogenoemde Artikel 12B-aftrekking nie.

Neem ingeligte besluite
Volgens Theo Boshoff, hoof- uitvoerende beampte van Agbiz, word die voorgestelde belastingaansporings verwelkom.

“Dit is egter belangrik dat landbouprodusente en ander besig­hede in die landbouwaardeketting wat gedurende hierdie tydperk hernubare krag wil installeer, ’n gesertifiseerde belastingadviseur raadpleeg,” sê Boshoff.

“Deur ingelig te wees oor die omvang van hierdie aansporing asook die wyse waarvolgens dit bereken word, kan daar weldeur­dagte besluite geneem word oor die finansiële lewensvatbaarheid en langtermynvoordele van ’n belegging in hernubare energie. Sodoende kan die opbrengs van sodanige belegging met meer sekerheid bereken word.

“Die installering van hernubarekragbronne neem egter tyd. Deeglike navorsing en beplanning om die optimale opwekking van sonkrag en die koste-effektiewe aanwending daarvan te verseker, moet onderneem word. Dit sluit ook deeglike kontant­vloeibeplanning in.

“Finale gevolgtrekkings in hierdie verband sal egter eers gemaak kan word wanneer die finale wetsontwerp, waaroor daar tans kommentaar ingewin word, deur die president onderteken is. Die bevordering van voedselsekerheid in die land sal dus daarby baat indien die regering hierdie tydelike belastingvergunning verleng,” aldus Boshoff.

Individue
’n Beoogde belastingaansporing om die gebruik van sonkrag in residensiële gebiede vir huishoudelike gebruik aan te moedig, is ook aangekondig. Die korting is van toepassing op kwalifise­rende FV sonkragpanele wat vir die eerste keer in die tydperk van 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024 in gebruik geneem word.

  • Individue sal ’n korting ter waarde van 25% van die koste van nuwe en ongebruikte FV sonkragpanele kan eis, tot ’n maksimum van R15 000 per individu.
  • Die aftrekking geld slegs vir nuwe sonkragpanele. Die panele kan as deel van ’n nuwe stelsel geïnstalleer word of as ’n uitbreiding van ’n bestaande stelsel.
  • Slegs FV sonkragpanele, met ’n minimum kapasiteit van 275 W per paneel, kwalifiseer vir die korting.
  • Ander komponente van ’n sonkragstelsel soos batterye, wisselrigters asook draagbare panele en installasiekoste, kwalifiseer nie.

Belastingadviseur gee raad

Cor Kraamwinkel

“Die voorgestelde belastingaansporing vir besigheidsbeleggings in hernubare-energiebates bevat bewoording wat grootliks strook met dit wat reeds op die wetboek is. In wese is dit slegs die addisionele 25%-aftrekking wat nuut is, welke voordeel vir ’n tweejaarperiode beskikbaar gemaak is,” sê Cor Kraamwinkel, vennoot en belastingadviseur by die regsfirma WebberWentzel.

“Tog is daar heelwat terme wat ’n mate van interpretasie verg. Besighede moet dus seker maak dat hulle die kwalifise­rende kostebasis korrek identifiseer en kan bewys ten einde toekomstige geskille met die Ontvanger en moontlike boetes en rente te vermy. Besighede moet ook daarop let dat die aan­sporing glad nie afhanklik is van ’n koppeling met Eskom nie. Dus kan die belastingvoordeel geneem word sonder dat daar vir enige Eskom-goedkeuring gewag hoef te word.

“Alhoewel die aansporing nie van toepassing is op hernubare-energiestelsels wat gehuur word nie, is die verskillende finansiële implikasies van huur in vergelyking met koop ’n belangrike oorweging vir enige langtermyn-vastebatebe­legging. Besighede moet hulle dus nie blind staar teen die belasting­aansporing nie, maar hulle laat lei deur die opwe­ging van huur teenoor koop, met ’n welkome byvoeging aan die koopkant van die skaal danksy die belas­tingvoordeel.

“Besighede moet holisties na belastingsake kyk en seker maak dat die potensiële voordele wat deur die hernubare-energie-aansporing gebied word, nie ongedaan gemaak word deur oneffektiwiteit elders nie. Deeglike en deurlopende belastingbeplanning en voldoende rekordhouding sal toekomstige belastingopgawes meer effektief en betroubaar maak, wat op sy beurt die besighede toelaat om op besigheid te fokus,” aldus Kraamwinkel.