Wêreldsaadkongres bespreek behoefte aan kwaliteitsaad

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 23 Junie 2023

408

Toegang tot bekostigbare saad van goeie gehalte asook die nuutste tegnologie is noodsaaklik, nie net vir kleinskaalse boere in Afrika nie, maar vir produsente wêreldwyd. Dit sal ’n kardinale rol speel in alle pogings om voedselsekerheid te bereik met klimaatsverandering wat voedselproduksie bemoeilik.

Dit was die oorhoofse sentiment wat tydens die Internasio­nale Saadfederasie (ISF) se jaarlikse wêreldkongres wat vanjaar in Kaapstad aangebied is, deur sprekers geopper is. Ander aspekte wat indringend bespreek is, is die invloed van klimaatsverandering, verhoudinge op alle vlakke in die saadbedryf en toegang vir jongmense tot die bedryf.

Die hoofdoel van die kongres was om verskillende partye in die saadbedryf bymekaar te bring om te gesels oor moontlike samewerking ten opsigte van saadproduksies en die lisensiëring van kiemplasma of tegnologie. Hendrik van Staden, eenheidshoof van Syngenta se saadafdeling in Afrika (links), en Andries Wessels, verkoop-en-produkontwikkelingsbestuurder: Saad by Syngenta (middel), het van die netwerkgeleentheid gebruik gemaak.

Volgens dr Lukeshni Chetty, algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), was die kongres in Afrika baie tydig. “Die kongres het plaasgevind in ’n tyd waar daar krities gekyk word na die wêreld se voedselnetwerke teen die agtergrond van die nawerking van die Covid-19-pandemie, hoë inflasie en konflik in die wêreld. Die doel van die kongres is onder meer om kennis, tegnologie, produksie en ondersteuningstelsels uit te ruil, maar ook om besigheidsvennote in Afrika te kry om so te verseker dat alle boere toegang het tot goeie kiemplasma en kwaliteitsaad.”

Sy het voorts daarop gewys dat dit alle rolspelers in die bedryf se kollektiewe verantwoordelikheid is om aandag te gee aan voedselsekerheid en klimaatsverandering.

Kobus van Huyssteen van SANSOR en dr Pieter Taljaard (HUB van Graan SA) by die ISF-Wêreldsaadkongres.

Die tema vir vanjaar se kongres was “Shared roots, greater heights”, met die meer as 1 200 kongresgangers wat die room van die wêreld se saadkenners en rolspelers in die saadbedryf verteenwoordig het.

In sy openingsrede het Marco van Leeuwen, president van die ISF, daarop gewys dat die wil om die beskikbare tegnologie en kiemplasma in die uithoeke van die aarde by produsente uit te kry, soms by van die partye ontbreek. Dit bied ’n groot uitdaging.

Tydens ’n mediakonferensie het hy gesê dat hoewel die tegnologie en donateursbefondsing beskikbaar is om die nuutste tegnologie aan alle produsente te bring, die hekkies wat deur sommige regerings opgestel word dit soms uiters moeilik maak om van die produsente te bedien.

Dr Magdeleen Cilliers van SANSOR en Theo Boshoff, hoof- uitvoerende beampte van Agbiz, by die ISF-Wêreldsaadkongres. SANSOR het as gasheer opgetree vir die 2023-kongres wat in Kaapstad plaasgevind het.

“Met hierdie kongres hoop ons om verhoudings tussen die verskillende rolspelers te verbeter sodat ons kan verseker dat boere in Afrika nie agtergelaat word nie,” het hy gesê.

Hierdie sentiment het weerklank gevind onder ander sprekers en die boodskap wat uitgestaan het, is dat almal moet saamwerk om lande se saadbedryf te versterk en te ondersteun. “So ’n versterkte stelsel sal ’n groot bydrae lewer tot voedselsekerheid en om uitdagings soos beperkte beskikbaarheid van saad, hoë koste en regulatoriese uitdagings op te los,” het Michael Keller, sekretaris-generaal van die ISF, beklemtoon.

Hy het verder genoem dat kwaliteitsaad die grootste bydrae kan lewer om van die wêreld se kosverwante uitdagings teen die agtergrond van klimaatsverandering aan te pak.

Keller het daarop gewys dat een van die groot uitdagings saadkorrupsie is. “Vervalsing van saad en verpakkings in die saadbedryf is ’n wesenlike probleem en bied geweldige uitdagings. Dit het ’n effek op voedselproduksie en die saadbedryf as geheel sal oplossings daarvoor moet vind met regerings as vennote.”

Dr Lukeshni Chetty, algemene bestuurder van SANSOR, en Kobus Meintjes, kommersiële bestuurder: Bayer SA.

Hy het ook gesê dat vennootskappe tussen alle partye betrokke in die saadbedryf van deurslaggewende belang is. “Of ons in Afrika of Europa is, geen land is meer onafhanklik as dit by saad kom nie. Saad word oor landsgrense heen vervoer en verhandel. Die ingesteldheid van ubuntu – ek is omdat ons is – is iets waarna ons almal moet streef in ons benadering tot die saadbedryf wêreldwyd.”

Volgens Matome Ramokgopa, voorsitter van SANSOR, bly kommunikasie noodsaaklik om die voordele van kwaliteit­saad aan produsente uit te wys. “Die enigste manier waarop ons kan vorder is om met almal in die waardeketting te kommunikeer en te verduidelik waarom goeie saad nodig is en ook waarom stelsels in plek moet wees om die vervoer van saad oor landsgrense heen te vergemaklik.”

Die 2024-kongres vind van 27 tot 29 Mei in Rotterdam in Nederland plaas.