JP Meintjes: spesialisering sy sleutel tot sukses

Gepubliseer: 12 Junie 2023

534
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

JP Meintjes, een van die Graanprodusent van die Jaar-finaliste van 2022, en sy vrou, Esri, boer in die Viljoenskroon-area. JP is ’n mielieprodusent wat ook ’n klompie vee op die uitvalgedeeltes van die plaas aanhou. Hierdie mielieboer glo om te spesialiseer maak sin – almal op die plaas weet wat om te doen en hoe om dit reg te doen.

Vir JP gaan graanverbouing daaroor om wins­gewend te wees en om hulpbronne optimaal te benut. As die kontantvloei klop, is almal gelukkig en daarom spandeer hy baie tyd aan kontantvloei­beplanning en -kontrole.

JP se mielies word hoofsaaklik op vlakkerige watertafelgronde verbou. Die probleem met hierdie tipe lande is dat hulle eerder versuip as verdroog. Hierdie gronde is te vlak om ’n oorlêstelsel sinvol te bedryf – die lande word eenvoudig net te nat en dan versuip alles.

Bewerking
Daar word van ’n spoorverkeerstelsel gebruik gemaak waar jaarliks op dieselfde spore gery word. Na oes word die lande 45 grade oor die rye gewerk. Die doel van dié aksie is om die winteronkruide dood te werk en om die oesreste oor die hele land te versprei. Dit help ook om die stronkboorderpapies wat in die mielie­wortels sit taamlik te beheer.

Die diep hoofbewerking volg na die stoppelbewerking en daar word ook op die vorige spore gery sodat die mielies weer omtrent op dieselfde plek geplant kan word. Die gronde word tussen 600 mm en 900 mm diep bewerk. Die implemente wat gebruik word vir die primêre bewerking is toegerus om ammoniak en KCl toe te dien. Jaarliks word daar op ’n derde van die gronde chemiese ontledings gedoen en die pH en ander elemente word reggestel. Hierdie derde van die plaas word dan ook omgeploeg om die grond te deurlug en die kalk mooi in te werk.

Plaagbeheer
Glifosaat word gebruik om die lande tot voor plant skoon te hou, maar net voor die planter word ’n rolstaaf gebruik om alle onkruide te dood. Direk na plant word die eerste gras- en insekdoders gespuit wat later na skoffel en topbemesting weer met ’n tweede onkruiddoderbespuiting opgevolg word. Dit is ongeveer ses weke na plant.

Omdat daar nie wisselbou op die plaas toegepas word nie, moet die kultivars wat verbou word baie siekteverdraagsaam wees. Daar word dus jaarliks verskeie kultivars in kultivarproewe geëvalueer. Die vyf topkultivars uit hierdie proewe sal aangeplant en gevarieer word volgens die potensiaal van die grond.

Rooispinmyt is ’n vreeslike pes, maar deur die mie­lies voorkomend te spuit, word dié plaag onder beheer gehou. Foute kan egter maklik in so ’n groot boerdery insluip. JP het ’n goeie chemiese rekordhoudingprogram geïmplementeer om toedienings te monitor en om sodoende te verseker dat die spuit so effektief en doeltreffend moontlik aangewend word.

Skraalhansonkruide is verder vir JP ’n reusepro­bleem. As hierdie onkruid eers vatplek gekry het, is die beheer daarvan uiters moeilik.

Grondbestuur
Bemesting geskied aan die hand van grondontledings asook realistiese opbrengsmikpunte. Omdat net mie­lies verbou word, is daar genoeg kapasiteit om die take so effektief en doeltreffend moontlik uit te voer.

Vir JP begin sy produksiejaar reeds in Julie wanneer die lande en die finansies beplan word. Die produksiejaar word afgesluit wanneer al die jaar se inligting en rekords op datum is. So is 20 jaar se data beskikbaar en word dit gebruik om die komende jaar ten volle te beplan. JP en sy finansiële bestuurder beplan die besigheid vir drie jaar vooruit. Op dié manier kan die effek van verandering maklik gemeet word, maar selfs meer belangrik is dat hulle hierdie inligting gebruik vir die bemarking van die graan.

Graanbemarking
Om ’n goeie inkomste te verseker moet daar graan wees wat teen die beste moontlike prys verkoop word – JP spandeer dus baie tyd aan die bemarking van sy graan. Hy is opgelei in hierdie aspek. In sy bemarkings- of verskansingsbesluite neem hy ’n siening op die mark wat gebaseer is op vraag en aanbod. Aan die aanbodkant kyk hy na plaaslike en internasionale graanproduksieverwagtinge wat weervooruitskattings insluit.

Internasionale en plaaslike graanvoorrade word ook gebruik om die totale wêreld- en plaaslike aanbod te bereken. Die internasionale en plaaslike vraag na graan word dan gebruik om die vraag te bepaal. Hierdie twee aspekte voorspel die prysbewegings. Om die plaaslike prysverwagtinge te voorspel word die rand-dollar-wisselkoers ook in berekening gebring om ’n bemarkings- en verskansingsbesluit te neem.

Die vermenigvuldigingseffek van ’n beter prys in die sak moet nooit vergeet word nie. As ’n produsent R100/ton vir ’n sestonoes op 1 000 hektaar beter as die buurman is, klop hy hom met R600 000. Dit laat ’n mens dink.

Spanwerk
Gelukkige arbeid bring meer as net hulle kant – almal wil erkenning hê en raakgesien word. Om hierdie behoeftes van die arbeid te bevredig, bring baie voordele vir die boerdery. JP glo: Behandel die arbeid met waardigheid en gee vir hulle erkenning en die trekkerure sonder breek sal toeneem en die hektaarproduksie per werker sal styg. Sy werkers se kinders is in die skool, daar word omgesien na hul mediese dienste en die werkers word aangemoedig om aan sport deel te neem.

JP en Esri Meintjes en hul vier seuns, SJ, JP jr., Hendrik en Schalk op die plaas Kruispan naby Viljoenskroon.
Graanbemarking is vir JP een van die belangrikste aspekte van boerdery.
Op Kruispan word hulpbronne optimaal benut.
Vee word op die uitvalgedeeltes van die plaas aangehou.
Spanwerk en gelukkige arbeiders speel ’n sleutelrol.