Bestuur ’n El Niño-jaar só

Published: 12 June 2023

554
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

In hierdie 2023/2024-produksiejaar word weer ’n moontlike El Niño-klimaatsverskynsel voorspel. Oor die algemeen word minder reën in ’n El Niño-jaar verwag, met die gevolg dat droogtes wel kan voorkom.

Gelukkig is die grondprofiele in die meeste streke op die huidige oomblik nie kurkdroog nie, maar hierdie vog moet so goed moontlik geberg en benut word. Na aanleiding van ’n dinkskrumsessie met ’n klompie gesoute landboukundiges, kan die volgende voorstelle deur produsente oorweeg word.

In die eerste plek gaan die bestuur van ’n El Niño-jaar oor vogbestuur en beter reënwaterbenutting. Dit sluit in die bewaring van die vog in die grond, die beste moontlike opvang en beskikbaarstelling van vog aan die plant en dan die seleksie van die beste moontlike gewas om die beperkte vog optimaal te benut.

In ’n El Niño-jaar moet produsente nie benoude spronge maak nie. Bly by dit wat bekend is en wat op die plaas werk. Fokus op effektiwiteit, doeltreffendheid en tydigheid – dit is hier waar groot besparings gerealiseer kan word. Presisieboerdery is altyd meer lonend in ’n moeilike jaar.

Oorweeg die volgende voorstelle:
Grondvogbewaring

  • Winteronkruidbeheer is deurslaggewend – doen dit so effektief as moontlik. Dit kan meganies of chemies gedoen word, maar die lande moet skoon kom.
  • Bewerk die lande so vinnig moontlik en so vlak as moontlik na die stroper om die onkruide te dood en die grond ’n bietjie los te maak om sodoende ’n “los kombersie” op die oppervlak agter te laat. Tandimplemente veroorsaak minder vogverlies as skottelimplemente, maar daar is ’n saak uit te maak vir die gebruik van laasgenoemde.
  • Maak gebruik van profielgate om die bewerkings­diepte te bepaal sodat alle verdigtings- of beper­kingslae opgehef kan word. Probeer die grond na die bewerking so vinnig moontlik weer seël om vogverlies te beperk.
  • As die lande bewei word, probeer om nie die totale bedekking weg te wei nie. Grondbedekking is definitief voordelig in ’n droë jaar.

Beste moontlike opvang van vog en beskikbaarstelling daarvan aan die plant

  • Bekalking is en bly uiters belangrik, veral in ’n El Niño-jaar. Suur grond inhibeer wortelgroei, verminder die opname van voedingstowwe en veral vog in die dieper gronde wat die plante se groei en produksie beperk. Oorweeg dit baie sterk om presisiegrondontleding en -toediening te doen.
  • Los grond in veral ’n konvensionele stelsel help met die opvang van reënwater. Probeer om die lande ontvanklik vir reënwater te hê voor die eerste lentereënval. Sodoende sal die vog in die grond opgevang word en afloop verminder. Dit is belangrik dat die grond so vinnig moontlik na die reën weer losgemaak word om vogverlies te voorkom.
  • In ’n droogtejaar is goeie wortelontwikkeling van uiterste belang en moet dit geoptimeer word. Doen alles moontlik om die beste wortels te laat ontwikkel. ’n Goeie primêre bewerking kan hier help.
  • Kyk veral na die bestuur van aalwurm en wortelsiektes.
  • Die plasing van kunsmis sal ook ’n rol speel. Indien die boonste gedeelte van die grond nie te nat gaan wees nie, maak dit sin om die kunsmis dalk ’n bietjie dieper te plaas sodat die plant die bemestingstowwe in die hande kan kry. Daar word dan nie so sterk op loging staatgemaak vir die bemesting om in die grond te kom nie.
  • Onthou die grond- fisiese aspekte soos klei-inhoud en gronddiepte bepaal die waterhouvermoë, opberging en beskikbaarstelling van die vog. Bestuur die dominante grondtipe per land sodat dit die grond pas.

Seleksie van die beste moontlike gewas en die bestuur daarvan om die beskikbare vog te optimeer

  • Ontleed die produksiegeskiedenis en veral die vorige El Niño-jare se reënval en resultate.
  • Beplan die plaas volgens die grondtipes wat algemeen voorkom.
  • Pas die beplanningsopbrengste aan volgens die potensiaal van die grond. Wees versigtig om nie te hoë verwagte opbrengste te beplan nie.
  • Pasop om jouself bankrot te spaar.
  • Selekteer die gewasse op grond van winsgewendheid gegewe die huidige grondvog en verwagte reënval en verwagte realistiese opbrengsmikpunte. Indien die gewas nie winsgewend verbou kan word nie, oorweeg om dit eerder nie te plant nie.
  • Watter gewas ook al verbou word, kies ’n pakket van kultivars om aan te plant. Dit is die veiligste en die beste verskansing vir wisselvallige reënval. Kyk ook om die kultivar teen die aanbevole plante­stand te plant.
  • Hou die aanvanklike bemesting in plek, maar bestuur die topbemesting volgens die verwagte potensiaal. Pas dalk die tipe topbemesting aan om die waterverbruiksdoeltreffendheid te optimeer.
  • Dien bemesting so toe dat plantwortels dit baie maklik en in ’n opneembare vorm sal kan opneem. ’n Voorbeeld hiervan is om kunsmis eerder te bandplaas en dalk dieper in te sit.
  • Tydigheid en doeltreffendheid van onkruidbeheer is belangrik. Moet nie in ’n onkruidbesmette saadbed plant nie.
  • Kombineer dalk chemiese en meganiese onkruidbeheer om skoon lande te verseker.
  • Probeer so veel as moontlik vog opgaar voor daar geplant word – veral in die weste.
  • Kies die gewas en plantdatumkombinasie sodat dit die beste kans het om ’n midsomerdroogte te kan deurstaan – plant altyd ’n pakket van kultivars. Pas veral op vir sojabone wat hul blomme speen as dit te warm raak.
  • Sonneblom is bekend daarvoor dat dit droogte beter as mielies kan hanteer. Plant dié gewas op riskante gronde eerder as mielies.
  • Dink dalk weer nuut oor plantestand. Pas die stand by die grondvog (opbrengspotensiaal) en grondtipe aan.
  • Maak seker dat die trekkers so effektief en doeltreffend moontlik aangewend word. Sny op trekkerure waar moontlik – so word ’n klomp diesel bespaar.
  • Kyk veral na die implemente se slytparte. As die skare te veel afgeslyt raak, verhoog die trekker se dieselverbruik. Vervang skare dus eerder te vroeg as te laat.

Sny uitgawes tot op die been. In ’n droogtejaar (en veral­ die daaropvolgende jaar) is prysbestuur van deur­slaggewende belang. Kyk na die gebruik van die opsiemarkte en verskans die graanprys so sonder om jou tot die lewering te verbind.

Hierdie is slegs riglyne om te oorweeg. Praat met die landbou-adviseurs in jou gebied en kry ’n plan wat jou sal pas. Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.