NAMPO soos ons dit ken … en meer

Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 9 Junie 2023

394

NAMPO 2023, wat van 16 tot 19 Mei deur Graan SA­naby Bothaville in die Vrystaat aangebied is, was die NAMPO van ouds wat die landbougemeenskap van Suid-Afrika oor die afgelope 55 jaar leer ken en waardeer het.

Met 81 945 besoekers deur die loop van die week was dit weer eens ’n toonbeeld van innovering deur die graanwaardeketting, maar ook die Suid-Afrikaanse landbousektor as geheel. Ruim geleentheid is gebied vir gesprekvoering, interaksie met die 823 uitstallers en vir families om landbou in ’n veilige, gasvrye omgewing te geniet. Nagenoeg 200 vliegtuie en 75 helikopters het gedurende die week op NAMPO Park se aanloopbaan geland.

Met 81 945 besoekers deur die loop van die week, 823 uitstallers, 200 vliegtuie en 75 helikopters was NAMPO weer eens ’n reusesukses.

“Dit was inderdaad NAMPO soos ons dit ken, maar met heelwat vernuwings deur uitstallers. Die ultramoderne geboue wat sommige uitstallers op die park opgerig het, is opwindend en stel ’n nuwe standaard vir uitstallers. Dit is wonderlik om te sien dat uitstal­lers hulle volledige reekse en nuutste tegnologie ten toon gestel het. Graan SA is ook ongelooflik dankbaar vir die goeie weer wat die week geheers het,” het dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA, gesê.

Volgens dr Taljaard is Graan SA se hoofdoel met NAMPO om waarde terug te gee aan hul lede, die graanwaardeketting en die hele landbousektor. “Die bywoningsyfers is ’n indikator van landbou se relevantheid, maar dit is belangriker dat die regte voete hier was – en die uitstallers se tevredenheid bevestig dit, want die regte voete lok weer die regte uitstallers.

“Dit is ook verblydend om te sien watter alternatiewe vir die kwessie van die liggingsdifferensiaal by NAMPO te sien was. Dit wys jou dat met tegnologie as vertrekpunt daar dikwels ’n oplossing vir ’n uitdaging soos die differensiaal of graangradering is,” het hy bygevoeg.

Die Graan SA-span het al vroegoggend slaggereed gestaan om seker te maak dat alles op NAMPO Park vlot verloop.

Volgens dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof: NAMPO, Bemarking en Navorsings­koördinering, het beurtkrag soms uitda­gings meegebring, maar hulle kon dit bestuur en sodoende sorg dat ander noodsaaklike dienste, soos water en riolering op die terrein, normaal voortgaan. “NAMPO Park het weer sy staal gewys as ’n skouterrein wat ingerig is om dié volume uitstallers en besoekers goed te hanteer,” het dr Strydom gesê.

NAMPO se voorsitter, Danie Minnaar, reken dit is ’n unieke besigheidskou, maar ook met ’n sterk familiekarakter. “Kyk net om jou rond op die park. NAMPO is ’n gefokusde besigheidskou, maar dit word aangebied op ’n familievriendelike terrein. Dit is vir ons kosbaar.” Minnaar het sy waarde­ring uitgespreek teenoor die gemeenskap van Bothaville en omgewing vir hulle bereidwilligheid en ondersteuning om die skou jaarliks aan te bied. Hy het gesê NAMPO bring plaaslike gemeenskappe bymekaar.

Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO-komitee, lei ’n kransleggingsgeleentheid waar hulde gebring is aan produsente wat op plase vermoor is.

Die Minister van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het NAMPO op Vrydag 19 Mei besoek. Gedurende ’n vergade­ring met georganiseerde landbou en die Vrystaatste LUR vir Landbou en Plaaslike Ontwikkeling, het sy gesê landbou het danksy NAMPO ’n tuiste in die Vrystaat gevind. Sy het afgevaardigdes aangeraai om gebruik te maak van die vergelykende ekonomiese voordele wat NAMPO bied.

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het NAMPO op Vrydag 19 Mei besoek. Sy stap hier saam met Graan SA se voorsitter, Derek Mathews (regs), en visevoorsitter Jeremia Mathebula.

Graan SA trek nuwe baadjie aan
Graan SA het op die eerste dag van NAMPO ’n nuwe korporatiewe identiteit en logo vir die groep bekendgestel. Die nuwe logo bevat die wiskundige “≥”-teken wat impliseer dat die orga­nisasie se lede saam sterker is as die enkele stem. Dié verenigde stem resoneer egtheid en relevansie en die nuwe logo spreek van die dinamika van graan- en oliesadeproduksie in Suid-Afrika.

“Graan SA was nog altyd ’n dinamiese organisasie en dit is belangrik dat ons nou aanpas by veranderende tye om relevant te bly vir alle graanprodusente van Suid-Afrika,” het Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, tydens die bekendstelling gesê. Hoewel die nuwe logo tydens NAMPO op die terrein gepryk het, sal dit oor tyd ingefaseer word.

Dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA (regs), neem aan ’n Nasie in Gesprek-sessie oor veranderende waardekettings deel. Saam met hom op die paneel was dr Louis de Kock Jr (Nile.ag), Francois Strydom (Senwes), Cyril Prinsloo (Independent) en Theo Boshoff (Agbiz). Die gesprek is gelei deur Theo Vorster (links).

Bly ingeskakel
Die NAMPO-toep, wat besoekers hierdie jaar die geleentheid gebied het om uitstallers te soek, na stalletjies te navigeer en produkte en spesiale aanbiedinge na te vors, sal lewendig bly met relevante uitstallersinligting sowel as virtuele toere van die 2023 NAMPO-stalletjies.

Vooruitsigte vir 2024
Die skoudatums vir volgende jaar is reeds vasgestel vir 14 tot 17 Mei 2024. Graan SA beoog om aandag te skenk aan die volgende sake:

  • Verbetering van die vloei van toegangsbeheer by die hekke wat die kaartjiestelsel betref.
  • ’n Hernude fokus om uitstallers en besoekers se NAMPO-ervaring beter te maak deur die verdere aanwending van tegnologie en verbetering van die park se infrastruktuur.
  • Bevordering van die gebruik van NAMPO Park as besigheidspark se geboue en fasiliteite deur die jaar.
  • Graan SA is tevrede met die huidige getal uitstallers en wil eer­der deurlopend toesien dat die verskeidenheid van uitstallers relevant bly.

Die ander NAMPO-skoue wat in 2023 onder Graan SA se vaandel aangebied word, is NAMPO Kaap (13 – 16 September in Bredasdorp) met ’n wintergraanfokus; NAMPO Alfa (12 – 14 Oktober op NAMPO Park) met ’n fokus op lewende hawe, jag en buitelewe; en die OFM NAMPO Park Kersmark (1 – 2 Desember op NAMPO Park). Meer inligting is aanlyn beskikbaar by nampo.co.za.