Jong leiers wat raakvat

Louise Kunz, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 9 Junie 2023

333

Vier nuwe hoofbestuurslede is tydens 2023 se Graan SA Kongres op 8 en 9 Maart verkies vir streke waar daar vakatures ontstaan het. Volgens Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, is dit belangrik dat dié organisasie altyd goed verteenwoordig moet wees op grondvlak. Dit is waarom daar ’n verteenwoordiger uit elke streek op die Hoofbestuur moet wees.

“Al die hoofbestuurslede is bona fide-boere en as sodanig is elkeen ’n sakeman in eie reg,” sê Derek. Wat hom nog al die jare opgeval het, is die verskeidenheid kundiges wat op die Hoofbestuur versamel is. “Daar is produsente met baie goeie finansiële kundigheid, terwyl ander weer besonderse bestuursvaardighede het. Van die lede het goeie mensekennis, ander beskik oor goeie onderhandelingsvermoë – en dan is daar manne wat ’n goeie rede kan voer,” deel Derek oor die span.

Hy is veral opgewonde oor die aantal jong manne wat nou tot die Hoofbestuur verkies is. “Hulle toon beslis leierskap om onder hulle medeprodusente gekies te word om die streek te verteenwoordig. Ons hoop dat hulle lank deel van die span sal wees.” Ontmoet dié nuwe spanlede en vind uit hoe hulle aanpas in ’n veranderende landbou-omgewing vol uitdagings.

Gert Pretorius van Streek 1
Gert Pretorius (32) is sedert 2016 deel van ’n gemengde familie­boerderyonderneming in die Mareetsane-omgewing. Hul graan­komponent sluit mielies, sonneblom en boontjiegewasse in en die veekomponent bestaan uit skape en gemengde kommersiële koeie met ’n meerderheid van Simbra-beeste.

Hy het na afloop van sy BCom-studies aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom na die VSA vertrek waar hy vir sewe maande op ’n saaiplaas gewerk het. “Daar het ek geleer hoe tegnologie ’n beduidende rol kan speel in die verbetering van produktiwiteit in landbou,” vertel Gert.

Met die talle uitdagings waarmee die landbousektor gekonfronteer word, het Gert meer bewus geword van die belangrikheid van georganiseerde landbou – van plaaslike boereverenigings tot by die nasionale organisasies. “Dit is dié organisasies wat gesamentlike oplossings probeer vind om uiteindelik produsente se voortbestaan aan te help en te beskerm.” Hy het onlangs eers ’n lid van Graan SA geword, maar vinnig besef wat die waarde is om deel te wees van só ’n organisasie wat sy belange buite die plaas se hekke beskerm en monitor. “Een liggaam kan veranderinge en verbeteringe laat plaasvind.”

Hy besef dat ’n mens moet aanpas in die omgewing waarin jy jou bevind (met al die uitdagings). “Alternatiewe kragstelsels het ’n moet geword vir ’n kommersiële boerdery. Uitdagings soos klimaatsverandering is ’n gegewe en kan effektief deur goeie bestuur aangespreek word. Vooruitgang is bitter belangrik vir voedselsekerheid.”

Gert is getroud met Linette en hulle het ’n seun, GJ, en ’n dogtertjie, Kalista.

Will Grobler van Streek 5
Will Grobler (27), die nuwe hoofbestuurslid van Streek 5, het in 2019 ’n graad in Bedryfs- en Stelselingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria voltooi waarna hy eers by ’n tegnologiekonsultasiefirma in Midrand sy brood en botter verdien het. Hy het in September 2021 teruggekeer plaas toe en by sy pa en broers aangesluit in 3G Boer­dery in die Sannieshof-omgewing in Noordwes. Dié boerdery se hooffokus is kontantgewasse met ’n ondersteunende beeskomponent. ’n Minimumbewerkingstelsel word sover moontlik toegepas vir die produksie van mielies, sonneblom en sojabone.

3G Boerdery is al jare lid van Graan SA en Will het onlangs as ’n koppellid aangesluit. Vir hom is die waarde van só ’n organisasie heel eenvoudig. “Graan SA en hul kundigheid help om die landbousektor se stem dik te maak. Hulle gee nie om om hul hande vuil te maak om die kwessies wat almal raak, aan te spreek nie – ongeag of almal hulle ondersteun of nie.”

Will glo dat geen produsent alleen die voortbestaan van sy boerdery-onderneming kan verseker nie. “’n Mens moet alle faktore in ag neem en staatmaak op die groter landbousektor om ingeligte besluite te neem om jou boerdery-onderneming se voortbestaan te verseker.”

Vir hom is dit ook belangrik om nie aan die verlede vas te klou nie, hoewel hy glo dat ’n mens uit die foute van jou verlede moet leer en die ervaring van die wat voor jou was ter harte moet neem. “Ervaring is goud werd, maar wees oop vir nuwe idees, nuwe praktyke en nuwe tegnologie wat kan bydra tot jou plaas se voortbestaan.”

Will is net meer as ’n jaar gelede met Christél getroud.

Dirk Laas van Streek 6
Dirk Laas (43) wat Streek 6 op die Hoofbestuur verteenwoordig, is ook die voorsitter van die Ottosdal-bewaringslandbouklub. Hierdie derdegenerasieprodusent wat op ’n familieplaas in die Ottosdal-omgewing boer, bedryf ’n gemengde boerdery met die saaikomponent wat uit mielies en sonneblom bestaan en die veekomponent uit beeste en skape.

As lid van Graan SA sedert 2007 is Dirk deeglik bewus van die waarde van ’n georganiseerdelandbou-organisasie wat die stem van die produsent is. Dié organisasies voeg waarde toe deur ’n voordelige omgewing vir produsente te skep en sake namens die produsent te beding. “Graan SA kan my verteenwoordig by plekke waar ek nie kan uitkom nie. Die organisasie tree namens hul lede op en hanteer baie kwessies sodat ons as produsente op produksie kan fokus,” sê Dirk. Die leierskap van so ’n organisasie weet ook hoe om te onderhandel met die regering en goeie verhoudinge op grondvlak te behou.

Om volhoubaar te bly, glo Dirk dat ’n boerdery-onderneming kompeterend moet wees en dat produsente op hoogte moet bly van nuwe inligting en die nuutste tegnologie. “Maak nie saak wat jy doen nie, daar is altyd uitdagings. Nuwe inligting maak dit vir jou moontlik om die beste ingeligte besluite te neem tot voordeel van jou boerdery en die nuutste tegnologie maak dinge moontlik wat nie in die verlede moontlik was nie.”Dirk is met Elmarie getroud en hulle het twee kinders, Classe en Lira.

Thobani Ntonga van Streek 33
Thobani Ntonga (44) boer in die Cedarville-omgewing van die Oos-Kaap en neem die leisels oor in Streek 33 nadat Patrick Stuurman verkies is as gekoöpteerde lid vir Ontwikkelende Landbou.

Hy het die bankwese verlaat toe die boerderygogga hom gebyt het nadat hy besluit het om kool te plant sodat sy pa, ’n entrepreneur, nie ure na Kokstad hoef te reis om kool aan te koop om in hul nedersetting te verkoop nie. Met elke tree van hierdie entrepreneuriese onderneming het die boerderyvlammetjie sterker begin brand.

Oor die waarde wat lidmaatskap van ’n organisasie soos Graan SA bied, kan Thobani nie uitgepraat raak nie. “Deur die organisasie kry ek toegang tot relevante inligting oor graanproduksie in die algemeen. As ’n eerstegenerasieboer moes ek die beste tegniese landbouvaardighede aanleer en dit is bereik deur die leiding van die Graan SA-mentors.” Te danke aan sy affiliasie met Graan SA, het Thobani ook geleenthede gehad om saam met van die kommersiële produsente in sy omgewing te werk. “Graan SA wil die beste vir sy produsente hê.”

Met die landbou-omgewing wat voortdurend verander, is waaksaamheid en proaktiewe optrede uiters belangrik vir volhoubaarheid, sê Thobani. “Die wisselende klimaatstoestande hierdie seisoen het die bestuur van byvoorbeeld veesiektes bemoeilik, so ons moes steun op kundiges wat beter opgelei is. Beurtkrag is ’n groot uitdaging, nie net weens die afwesigheid van elektrisiteit nie, maar ook die afwesigheid van netwerkopvangs. Dit belemmer kommunikasie op die plaas en is uiters verwoestend vir ’n mens se onderneming.”

Thobani is pa van twee seuns, Siyolise en Zimi, asook ’n dogter, Alu. Die twee seuns het albei reeds op landbou as loopbaan besluit.