Só presteer die NOK in die 2021/2022-seisoen

Gepubliseer: 8 Mei 2023

478
Petru Fourie,
landbou-ekonoom en navorsingskoördineerder, Graan SA

Suid-Afrika het ’n uitstekende begin tot die 2021/2022-seisoen gehad, met oordraggrondvog en wydverspreide reën gedurende Oktober en November 2021 wat verseker het dat mielieprodusente twee tot vier weke vroeër as gewoonlik met aanplan­tings kon begin. Alhoewel goeie weerstoestande tot November en Desember 2021 voortgeduur het, het sekere produksiegebiede oormatige reën ontvang wat opbrengste negatief beïnvloed het.

Die nadelige gevolge van die oormatige somerreën is egter grootliks versag deur ’n warmer en droër Januarie en Februarie 2022, wat bevorderlike groeitoestande vir die gewasse gebied het. Uitgesluit die 2022/2023-produksieseisoen, is die 2022-mielie-oes die derde grootste oes wat nog ooit in Suid-Afrika geproduseer is en die derde agtereenvolgende jaar van meer as 15 miljoen ton mielies. Die sojaboonoes is ook die grootste oes wat nog ooit in Suid-Afrika geproduseer is.

In hierdie artikel word ’n oorsig van die verloop van die oesskatting vir die 2021/2022-produksieseisoen (pas afgelope seisoen) gegee. Daar word gepoog om te kyk hoe die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sedert die bekendmaking van die eerste produksieskatting (Februarie 2022) tot die finale oes (Februarie 2023) vir mielies, sojabone en sonneblomme verander en afgewyk het. Die bekendma­king van akkurate en tydige inligting is van kardinale belang aangesien dit onder meer ’n direkte impak op prysvorming in die vrye mark het.

Verloop van die 2021/2022-produksie­seisoen
Witmielie-oes
In Grafiek 1 kan die maandelikse produksieskatting­syfers vir witmie­lies soos bekendgemaak deur die NOK, vanaf die eerste skatting (Februarie 2022) tot die finale skatting (November 2022) gesien word. Die rooi lyn dui die gerealiseerde witmielieproduksiesyfer aan soos dit gedurende Februarie 2023 vrygestel is. Die verskil tussen dié gerealiseerde syfer en die maandelikse skattings is duidelik sigbaar.

Die NOK het ’n puik taak verrig deurdat die impak van goeie weers­toestande so gou moontlik aan die mark deurgegee is. Die eerste skatting in Februarie 2022 was 7,535 miljoen ton terwyl die werklike grootte van die finale oes 7,850 miljoen ton (soos op 9 Februarie 2023 bekendgemaak) beloop het. Die NOK se witmielieskattings was deurentyd grotendeels binne die voorgestelde norme (binne 5% akkuraatheid van die finale oes) – ’n uitstekende prestasie.

Grafiek 1: Witmielies: Maandelikse produksieskattings versus finale skatting (2021/2022-produksieseisoen).

Geelmielie-oes
In Grafiek 2 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir geel­mielies waargeneem word. Oor die algemeen is beter as verwagte geelmielie-opbrengste behaal; dus het die geelmielie-oes maandeliks verhoog. Dieselfde as by witmie­lies, is die geelmielie-oes onderskat weens die beter as verwagte opbrengste.

Die NOK se eerste skatting in Februarie 2022 vir geelmielies was 6,993 miljoen ton. Soos die gunstige landboutoestande in die vernaamste produserende dele van die land voortgeduur het, het die verwagte geelmielie-opbrengste ook toege­neem. Die komitee het die verwagte geelmielie-oes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes (7,620 miljoen) met ’n drastiese 627 150 ton verhoog.

Grafiek 2: Geelmielies: Maandelikse produksieskattings versus finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Totale mielie-oes
In Grafiek 3 kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir totale mielies gesien word. Met die geelmielie-oes wat onderskat is, het dit meegebring dat die totale mielie-oes ook oor die algemeen onderskat is.

Grafiek 3: Totale mielies: Maandelikse produksieskattings versus finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Norm waarbinne die NOK moet skat
In Suid-Afrika het die graanbedryf ’n norm/grens vir die NOK gestel waarbinne die oesskattings moet wees, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei) nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk nie en om vanaf die vyfde tot die finale skatting (Junie tot November) nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie. Grafiek 4 dui die boonste en onderste aanvaarbare norme/grense waarbinne die NOK moet wees, aan. Indien die skatting (syfer) op ’n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar by retrospeksie na ’n oor- of onderskatting verwys word.

In die grafiek kan gesien word dat die afgelope seisoen se wit- en geelmielieproduksieskattings uitsonderlik goed geskat is en dat die komitee binne die gestelde norme/grense was. Dit bring verder mee dat die totale mielie-oes vanaf die eerste tot die finale skatting uiters goed geskat is en tussen die voor­gestelde norme/grense beweeg het.

Grafiek 4: Die % oor/onderskatting van die mielie-oes teenoor die beraamde finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Sojabone
Grafiek 5 toon die maandelikse produksieskattingsyfers vir sojabone. Die sojaboonoes is vanaf die eerste tot die vyfde produksieskatting onderskat, waarna dit baie naby aan die ge­realiseerde sojaboonproduksiesyfer was. Die eerste skatting in Februarie 2022 was 1,821 miljoen ton, maar soos gunstige landboutoestande voortgeduur het, het die verwagte sojaboonoes toegeneem waarna dit sywaarts beweeg het. Die komitee het die verwagte sojaboonoes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes (2,230 miljoen ton) met 408 600 ton verhoog.

Grafiek 5: Sojabone: Maandelikse produksieskattings versus finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Met die norme/grense wat reeds by mielies verduidelik is, is dit opmerklik dat die NOK meer uitdagings met sojabone as mielies tydens die skattings ervaar het. Die komitee het die eer­ste vyf produksieskattings buite die voorgestelde norme geskat, waarna hulle uiters goed begin presteer het deur binne die norme te beweeg (Grafiek 6). Die tendens geld ook die terugvoer soos van produsente ontvang dat daar oor die algemeen beter opbrengste as verwag gestroop is. Produ­sentedeelname om dié skatting te verbeter is uiters belangrik en Graan SA doen ’n beroep op produsente om deel te neem.

Grafiek 6: Die % oor/onderskatting van die sojaboonoes teenoor die beraamde finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Sonneblom
Grafiek 7 toon die maandelikse produksie­skattingsyfers vanaf Februarie tot November vir sonneblom­saad. Die NOK se eerste skatting vir die sonneblomsaadoes (Februarie 2022) was 914 350 ton; die komitee het die verwagte oes vanaf sy eerste skatting tot die werklike grootte van die finale oes (845 550 ton) met 68 800 ton verlaag.

Grafiek 7: Sonneblom: Maandelikse produksieskattings versus finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Die sonneblomoes is vanaf die eerste tot die sesde pro­duksieskatting oorskat, waarna dit baie naby aan die gerealiseerde sonneblomproduksiesyfer beraam is (Grafiek 8). Terugvoer van produsente was dat Sclerotinia ’n hewige impak op sonne­blomoeste gehad het – dit het bygedra tot die swakker as verwagte opbrengste.

Grafiek 8: Die % oor/onderskatting van die sonneblomoes teenoor die beraamde finale oes (2021/2022-produksieseisoen).

Slotsom
Hiermee wil Graan SA graanprodusente met die vertroue laat dat die NOK hulle bes doen om akkurate skattings daar te stel. Geen instansie in Suid-Afrika is beter as hulle vir hierdie taak gerat nie. Die afgelope seisoen se skattings, spesifiek vir mielies, kan as uiters goed beskou word en Graan SA wil graag sy dank aan die komitee rig vir die belangrike taak waarmee hulle besig is.

Produsente word aangemoedig om, indien hulle nie alreeds aan die oesskattingsproses deelneem nie, asseblief die vraelyste wat aan hulle gestuur word, te voltooi. Indien die vraelys nie ontvang is nie, kontak asseblief vir Rona Beukes, lid van die NOK, by 012 319 8032 of stuur vir haar ’n e-pos na RonaB@Dalrrd.gov.za.