Gideon Koegelenberg: winsgewendheid die spil waarom alles draai

Gepubliseer: 8 Mei 2023

507
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Gideon Koegelenberg, een van die Graanprodusent van die Jaar-finalis­te van 2022 en sy vrou, Melanie, boer in die Makwassie-omgewing op beide hoë-, medium- en laepotensiaalgronde. Hulle boerdery bestaan uit ’n saaikomponent waar mielies, sojabone en sonneblom in ’n rotasiestelsel verbou word, asook ’n beesvertakking waar hulle speenkalwers produseer wat aan voerkrale verkoop word.

Hy is ’n produsent wat slim kan werk. Gideon het al vroeg in sy lewe die waarde van goeie beplanning, harde werk en dat alles om winsgewendheid draai, aangeleer. Hierdie beginsels pas hy daagliks in sy besigheid toe. As iets nie vir hom op papier winsgewend is nie, maak hy planne om dit winsgewend te kry – so nie stop hy die bedryf. Beplanning en die presiese uitvoer daarvan asook kontrole is vir hom van kardinale belang. Gideon poog om hierdie funksies so ver as moontlik self uit te voer of te kontroleer, maar maak van kundiges wat hy vertrou gebruik om hom te help.

Gideon glo daarin dat alles reg moet gebeur om wins te verhoog. Dit beteken dat die regte insette betyds teen die regte pryse bekom moet word. Hierdie insette moet reg aangewend word om maksimum produksie uit die insette te verkry en die opbrengste moet teen die beste moontlike pryse verkoop word om wins te maksimeer. Beplanning, kontrole en genade moet nog hier bygevoeg word om die prentjie te voltooi. Dit omvat in wese alles wat op sy plaas gebeur.

Grondontledings
Presisieboerdery is volgens Gideon daar om winste te verbeter. Sy gronde is gekarteer en die grond word volgens die tipe grond en hul potensiaal bestuur. Die langtermynlandopbrengste wat Gideon sorgvuldig byhou, word gebruik om die beplanningsopbrengste te bepaal met inagneming van die verwagte voor­spelde reënval. Hy poog om so realisties moontlik wees met die opbrengsmikpunte en probeer om nie buitensporige mikpunte daar te stel nie.

Op ongeveer ’n kwart van die grond word daar jaarliks presisiegrondontledings getrek. Aan die hand van hierdie grondontledings word kalk gedifferensieerd toegedien en tot op die regte diepte ingewerk. Elke vier jaar word gepoog om die fosfaat- en kaliumregstellings volgens behoefte te doen en sodoende bly die gronde se makro-elemente in plek. Die gewasse se produksiepotensiaal word gebruik om die bemesting te bepaal en ’n presisieboerderystelsel word geïmplementeer. Mikro-elemente word jaarliks op die regte tyd uitgespuit nadat blaarontledings gedoen is. Die gewasse se opbrengspotensiaal en die grondont­ledings keer dat daar nie op bemesting aan ’n gewas oorspandeer word nie. Op die end gaan alles oor wins – nie maksimum produksie nie.

Grondbewerking en wisselbou
Bewerkings word volgens elke tipe grond aangepas. Die watertafellande word diep op ’n spoorverkeerstelsel bewerk, terwyl die swaarder gronde met minimumbewerkingsaksies bewerk word. Die watertafelgronde se bewerking word gedoen om die grondverdigting op te hef en om die winderosie te beheer. Die minimumbewerkingsaksies word gedoen om die bewer­king te beperk sonder om die gewasse se opbrengste te benadeel.

Alhoewel mielies met sonneblom en sojabone afgewissel word, is daar nie ’n rigiede stelsel op die plaas nie. Gewaswinsgewendheid en produksiekoste bepaal die wisselbouprogram. In die laaste paar jaar het mie­lies ongeveer 78% van die oppervlakte opgeneem, met sonneblom op ongeveer 15% en sojabone op ongeveer 7%. Die sojabone is ’n relatief nuwe gewas vir hierdie wêreld, maar die ekstra stikstof wat die sojabone bring is nogal handig in ’n hoë-insetjaar. Gideon bevestig dat wisselbou ’n voordeel het omdat mieliesiektes, swamme en veral kopvrot na ’n wisselbougewas minder is.

Navorsing
Om te meet is om te weet en daarom spandeer Gideon heelwat tyd aan navorsing. Tans word daar aandag aan blaarbespuitings, enting van sojabone en bewerkings gegee. Die duur aspek van graanverbouing, naamlik bemesting, word ook nagevors. Op elke plaas verskil die kultivars se opbrengste en daarom word ’n klompie kultivarproewe jaarliks aangeplant om sodoende die gepaste kultivars te identifiseer. Hierdie is belangrike werk omdat besluite volgens hierdie inligting geneem word.

Onkruide, peste en plae kom ook op sy plase voor, daarom lê hy klem op voorkomende beheer. Onkruiddoder word in meer as een bespuiting toegedien omdat hulle agtergekom het dat die middels met baie reën uitwas of te vroeg afbreek en sodoende die lande laat vuil word. Die boerdery se hoogloopspuit help om laat onkruide te beheer. Die effek van winteronkruide op die volgende gewas is groot en daarom doen Gideon moeite om hierdie onkruid vroegtydig te beheer. Glifosaat en 2,4d word direk na stroop gespuit om die winteronkruid goed te beheer.

Alles in hierdie boerdery gaan oor wins. Gideon probeer om insette effektief en doeltreffend aan te wend en daarom word die nodige insette tydig en korrek toegedien. Boekwerk is vir Gideon ’n moet. Hy wil weet presies hoeveel elke inset en vertakking hom per hektaar tot op datum en op ’n maandelikse basis kos. Hy doen nie self die boekhouding nie, maar spandeer tyd om elke maand die inkomstes en uitgawes te bestudeer en dit dan binne sy beplanning te vergelyk om aanpassings te maak. Soms kom daar spesiale aanbiedings op die tafel en dan is dit maklik om te besluit of dit geneem en bekostig kan word as die beplanning op datum is.

Beplanning is van deurslaggewende belang om die regte gelykbreekpunte te bereken. Goeie beplanning help ook om sinvolle bemarkingsbesluite te neem. Produsente kan alles reg doen, maar as die graanpryse verkeerd bepaal is, gaan dit lei tot probleme. Gideon doen sy graanbemarking volgens ’n plan. Graanpryse word verskans, maar dit is noodsaaklik dat die gelykbreekpryse bekend is en dat moeite gedoen word om die graanmark te lees.

Toerusting en masjinerie
Gideon bestuur die meganisasie-aspek van sy boerdery met erns. As iets in werktyd breek, kos dit baie en daarom doen hy moeite om sy instandhouding en dienste op datum te hou. Omdat die boerdery die laaste klompie jare bly groei, word daar gereeld nuwe toerus­ting aangekoop. Hierdie nuwe toerusting word gebruik en die ouer toerusting word na minder belangrike take geskuif. Soms sal van die ouer toerusting verkoop word as dit uitgewerk is en die betroubaarheid ’n probleem begin raak.

Spanwerk is uiters belangrik in die boerdery. Elke plaasbestuurder het sy verantwoordelikhede en hulle rapporteer aan Gideon. Twee koppe is beter as een en daarom neem die span besluite rakende die produksie van gewasse asook die uitvoering van take. Gereelde kommunikasie maak dit maklik om die boerdery te be­stuur, maar op die ou end staan die eienaar pa vir alles. Daar word mooi na die arbeiders in die boerdery omgesien, maar as hulle nie hul deel doen nie word hulle op die regte manier tereggewys.

Gideon sê: “Om te kan boer, is harde werk, maar dit is ’n lekker werk wat ryklik beloon word. Soms gaan dit swaar, maar elke donker wolk het ’n goue randjie. As jy bereid is om te gee, kry jy altyd meer terug as wat jy gegee het – nie noodwendig soos wat jy wou gehad het nie, maar as jy terugkyk sien jy die seën.”

Hy is dankbaar vir die mense wat ’n groot rol in sy sukses gespeel het en steeds speel. Sy pa het vir hom geleenthede gegee wat hy moes uitbou. Melanie, plaasbestuurders, arbeiders, medeprodu­sente en studiegroeplede asook verteenwoordigers van insetverskaffers het almal ’n bydrae gelewer tot Gideon se sukses en dit sal in die toekoms so bly.

Vir meer inligting kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Gewaswinsgewendheid en produksiekoste bepaal die wisselbouprogram. Oor die algemeen word mielies met sonneblom en sojabone afgewissel.
Damkraal Boerdery se bestuurspan is van links George Markram, Sarel Kok, Gideon Koegelenberg, Hein Hoffman en Reinhardt de Waal.
Spanwerk is uiters belangrik in die boerdery en daar word mooi na arbeiders omgesien.
Gideon en Melanie Koegelenberg met hulle dogtertjie, Ella.