Waterkwaliteit se effek op produkte se werking

Gepubliseer: 13 April 2023

465
Brian de Villiers, onafhanklike byvoeg­middelkonsultant

Aangesien gewasbeskermingsprodukte gewoonlik teen relatief lae dosisse gebruik word, word dit met water vermeng om die produk eweredig oor ’n oppervlakte toe te dien. Water word dikwels verkeerdelik net as die draer van die produk beskou, sonder om te besef dat elke waterbron se chemiese samestelling verskil.

Dit is belangrik om te besef dat water gewoonlik meer as 90% van die spuitoplossing uitmaak, dus moet die invloed van water altyd in ag geneem word. Opgeloste katione, pH en bufferkapasiteit van water het ’n beduidende invloed op verskeie produkte, dus gaan hierdie drie aspekte in meer detail bespreek word.

Opgeloste katione – soutantagonisme
Verskillende tipe ione kom natuurlik in water voor. Dit sluit ione soos kalsium (Ca2+), magnesium (Mg2+), natrium (Na+), kalium (K+), sekere swaarmetale en bikarbonaat (HCO3-) in. Daar is ook verskeie ander ione in water, maar dit het gewoonlik nie ’n invloed op gewasbeskermingsprodukte nie.

Kalsium en magnesium is die twee katione wat water hard maak. Dit veroorsaak dat seep en sjampoe minder skuim en dat ketels aanpak. Natrium maak water brak en dit kan dikwels aan ’n soutsmaak uitgeken word. Hierdie drie katione is die hoofsondebokke wat die oorsaak is van soutantagonisme (benadeling) van onkruiddoders soos glifosaat, kletodim, sekere sulfonielureums, sekere hormoondoders en verskeie ander. Kalsium en magnesium is meer antagonisties as natrium omdat dit divalente katione is en ’n dubbele positiewe lading het. Individuele katione kan dus meer onkruiddoder bind. Natrium is egter ook uiters be­langrik omdat dit dikwels teen geweldig hoë konsentrasies in water aangetref word.

Indien een van die bogenoemde onkruiddoders toegedien word en die water word nie behandel nie, sal dit ’n negatiewe invloed op onkruidbeheer hê. Die rede hiervoor is dat die nadelige katione aan die onkruiddoder bind tydens druppeldroging op die blaar. Dit veroorsaak verminderde en vertraagde opname, wat ’n direkte invloed op onkruidbeheer het. Ammoniumsulfaatbyvoegmiddels word dus dikwels saam met hierdie onkruiddoders toegedien, juis om die nadelige katione op die blaar te bind voordat dit die onkruiddoder benadeel. In die meeste gevalle is dit raadsaam om ammoniumsulfaatbyvoegmiddels van goeie kwaliteit saam met hierdie onkruiddoders te gebruik, veral as dit so aanbeveel word (Foto 1). Gebruik asseblief ’n kwaliteitbyvoeg­middel met ’n L-nommer en nooit kuns­misgeregistreerde ammoniumsulfaat met ’n K-nommer nie. ’n L-nommer beteken dat dit deur die nodige toetse en registrasieprosesse gegaan het.

Foto 1: Die invloed van ammoniumsulfaat op glifosaat. Onbespuit (links), glifosaat sonder ammoniumsulfaat (middel) en glifosaat met ammoniumsulfaat (regs).

pH – alkaliese hidrolise
Sekere gewasbeskermingsprodukte word deur ’n pro­ses bekend as alkaliese hidrolise benadeel. Alkaliese hidrolise is die stelselmatige afbraak van veral insekdoders in alkaliese water (hoë pH). Die proses begin sodra die insekdoder in die water vermeng word en hou aan totdat die druppel op die blaar uitdroog. Dit word gewoonlik as die halfleeftyd van insekdoders uitgedruk. Die halfleeftyd is heelwat korter as die water alkalies is, terwyl dit teen ’n lae pH verleng word. In­dien ’n insekdoder dus deur alkaliese hidrolise benadeel word sonder dat daar iets aan gedoen word, word ’n laer as beplande dosis toegedien. Dit het natuurlik ’n nadelige invloed op insekbeheer.

Daar is verskeie buffers op die mark beskikbaar wat spuitwater versuur, juis om produkte teen alkaliese hidrolise te beskerm. Dit is belangrik dat die bufferproduk die korrekte pH verseker sodat die insekdoder meer stabiel en effektief is. Die teiken-pH is gewoonlik effe suur in die reeks tussen 4 en 6. Buffers moet egter net gebruik word indien die etiket dit spesifiek aanbe­veel. Dit is onnodig om buffers te gebruik indien produkte nie deur alkaliese hidrolise beïnvloed word nie. Daar mag egter ander redes wees om spuitoplos­sings te versuur. Hou dus streng by die etiketaanbevelings in hierdie verband.

’n Verkeerde persepsie bestaan dat alle spuit­oplossings versuur moet word. Standaardversuring van spuitoplossings sonder registrasie is ’n gevaarlike praktyk. Neem kennis dat versuring nadelig vir sekere on­kruiddoders kan wees. Sulfonielureum-onkruiddoders is byvoorbeeld meer oplosbaar en effektief by ’n hoë pH (Foto 2). Oormatige versuring van spuitoplos­sings kan ook onmengbaarheid en uitsaksels in die
spuit­oplossing veroorsaak. Hou asseblief dus by die etiketaanbeveling en gebruik net buffers indien dit aanbeveel word. Dit is wonderlike produkte indien dit korrek aangewend word, maar dit kan probleme skep as dit onoordeelkundig gebruik word.

Foto 2: ’n 1 500 maal-vergroting van ’n sulfonielureum-druppelresidu op ’n blaar wat in ’n spuitoplossing met ’n lae pH toegedien is. (Let op die onopgeloste kristalle wat moeilik opgeneem gaan word.)

Bufferkapasiteit
Bufferkapasiteit, ook bekend as alkaliniteit, is die vermoë van water om ’n verandering van pH te weerstaan. Dit word hoofsaaklik deur die bikarbonaatanioon gereguleer. Hoe hoër die bikarbonaatkonsentrasie, hoe moeiliker is dit om die pH met buffers te verlaag, en hoe meer buffer moet bygevoeg word. Indien water ’n uitermatig hoë bufferkapasiteit het, kan dit dalk gebeur dat die pH nog te hoog is nadat die buffer bygevoeg is. Dit sal natuurlik gevoelige produkte soos insekdoders aan alkaliese hidrolise blootstel, wat die insekbeheer gaan belemmer. Dit is dus geweldig belangrik om ’n buffer van goeie kwaliteit te gebruik wat die pH na die korrekte reeks toe verlaag sonder om te veel te versuur.

Die teendeel is egter ook waar. Hoe laer die bikarbonaatkonsentrasie en bufferkapasiteit van die water is, hoe makliker gaan die pH met buffers verlaag. Indien die buffer nie ’n meganisme het om die korrekte pH-reeks te verseker nie, kan die spuitoplossing te veel versuur word. Oormatig versuurde spuitoplossings het nadele soos swakker werking van sekere onkruiddoders, soos die sulfonielureums. Baie suur spuitoplossings is egter ook soms die oorsaak van onmengbaarheid, omdat sekere gewasbeskermingsprodukte by ’n baie lae pH kan begin uitsak.

Ten slotte
Opgeloste katione, pH en bufferkapasiteit is die drie hooffaktore by water wat gewasbeskermingsprodukte benadeel. Dit is be­langrik dat produsente ’n deeglike kennis van die waterkwaliteit op hul plase het. ’n Volledige waterontleding is ’n goeie belegging om te maak. Indien ’n volledige waterontleding egter onmoontlik is, sal eenvoudige elektriese geleidingsvermoë en pH-metings alreeds heelwat inligting oor die water verskaf. Hou asseblief by etiketaanbevelings oor waterkwaliteit en gebruik die geregistreerde waterkondisioneerders. Dit kan die verskil tussen aanvaarbare en onaanvaarbare beheer beteken. Moet asseblief ook nooit byvoegmiddels met K-nommer-kunsmis of ander ongeregistreerde produkte vervang nie.

Kontak gerus vir Brian de Villiers by 082 880 0974 vir meer inligting oor waterkwaliteit en byvoegmiddels.