Tradisioneel word tussen 30% en 50% van ’n graan- en oliesaadprodusent se insetkoste aan kunsmis bestee. Kunsmis maak so ’n groot deel van insetkoste uit dat enige verandering, veral ’n prysverhoging, winsgewendheid drasties kan beïnvloed.
Die situasie word vererger deur die feit dat Suid-Afrika boonop ’n netto invoerder van kunsmis is. Die koste van alle ingevoerde kunsmis word dus nie net deur die werklike prys beïnvloed nie, maar ’n hele reeks faktore soos die wisselkoers, vervoerkoste en ander administratiewe koste soos arbeid en elektrisiteit speel ook ’n rol.
Invoervolumes en prysveranderinge
Grafiek 1 illustreer Suid-Afrika se kunsmisinvoere van monoammoniumfosfaat (MAP), ammoniak, ureum en kaliumchloried vanaf verskeie lande sedert 2009. Hoewel dit nie die enigste kunsmisstowwe is wat ingevoer word nie, is dit vier van die vyf belangrikste invoerprodukte.
Vanaf 2009 het die invoer van dié kunsmisprodukte in totaal met 104% toegeneem. Gedurende 2021 het Suid-Afrika altesaam 1 803 348 ton van net hierdie vier kunsmisprodukte uit verskeie lande ingevoer. Benewens die toename in invoervolume, het die wisselkoers van die rand teenoor ander groot geldeenhede ook vanaf 2009 skerp verswak, wat die effek van prysstygings verder versterk het. In 2022 is byna 1,6 miljoen ton van hierdie vier produkte ingevoer, wat ’n afname van 12% vanaf 2021 toon.
Tabel 1 toon die gemiddelde prysveranderings in die plaaslike mark vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) teen Februarie vanjaar, vergeleke met Februarie verlede jaar. Dit is ’n welkome verligting om ’n effense daling in pryse te sien in vergelyking met die vorige jaar.
Wanneer na die kunsmisbehoeftes van verskillende dele van die land gekyk word, merk ’n mens op dat die Wes-Vrystaat gemiddeld per hektaar 72 eenhede N, 16 eenhede P en 14 eenhede K gebruik. Die Oos-Vrystaat gebruik 100 eenhede N, 19 eenhede P en 27 eenhede K per hektaar, terwyl besproeiingsgebiede 286 eenhede N, 52 eenhede P en 80 eenhede K gebruik.
Tabel 2 verskaf ’n vergelyking van die gemiddelde bemestingsvereistes vir hierdie drie streke vir Februarie 2022 en Februarie 2023. Die koste van kunsmis het gemiddeld met 7% gedaal.
Kunsmisbekostigbaarheid
Grafiek 2 gee ’n aanduiding van die bekostigbaarheid van kunsmis vergeleke met die Safex-prys van mielies. Kunsmis, wat tussen 30% en 50% van insetkoste uitmaak, het al hoe minder bekostigbaar geword, wat beteken dat die produsent se handelsmarge (ruilvoet) buitensporig verswak het. Dit plaas druk op die produsent se winsgewendheid en kan daartoe lei dat minder hektare geplant word, veral mielies. Hierdie tendens kan gesien word uit die oesskattingsyfers vir die huidige seisoen. Hoër insetkoste van mielies, beter winsmarges by sojabone en die feit dat sojabone die nat seisoene beter hanteer het, het bygedra tot die verskuiwing van mieliehektare na sojaboonhektare.
Hierdie inligting skets ’n duidelike prentjie van die groot uitdagings wat produsente elke dag moet trotseer om kop bo water te probeer hou. Kunsmis is nie die enigste insetkoste wat skerp prysstygings beleef het nie; die koste van energiebronne soos brandstof en elektrisiteit het ook skerp gestyg, asook die prys van saad en chemikalieë. Dit word al hoe moeiliker vir boerderybedrywighede om winsgewend en volhoubaar te bly.
Op die internasionale verhoog sien ons dat kunsmispryse op ’n redelik afwaartse tendens is. Dit neem gewoonlik omtrent twee maande voordat internasionale prysveranderinge in die plaaslike mark gesien word. Die verswakkende rand/dollar-wisselkoers ry plaaslike prysverlagings ongelukkig effens in die wiele en dus sal internasionale afwaartse tendense net marginaal in die plaaslike mark sigbaar wees.
Aangesien daar min ruimte vir foute is, moet produsente seker maak dat hulle kompeterende pryse vir hul kunsmis betaal. Hulle moet hul huiswerk doen, seker maak die verteenwoordiger se pryse is markverwant, aanbiedinge vergelyk om die beste prys te vind en dan die mees geskikte aanbod vir hul doeleindes kies.